Gaan na inhoud

Salomon Joubert

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Salomon Cornelius Johannes Joubert (30 Junie 1941 – 14 September 2022, Naboomspruit) was 'n veldwagter, bewaringsbioloog en later direkteur (1987–94) van die Nasionale Krugerwildtuin.[1][2] In lewe was sy kennis van die park ongeëwenaard, en hy het 'n werk in drie boekdele daaroor die lig laat sien. Sy navorsing en leierskap word as fundamentele bydraes tot die ontwikkeling van die park beskou.

In November 1963, op ouderdom 23, is hy as die veldwagter van Klipkoppies-veldwagterpos aangestel. Hierdie kontrolepunt was noord van die Letabarivier aan die Mosambiekse grens geleë. In 1967, na vyf jaar as veldwagter, is hy as assistent-bioloog te Skukuza aangestel. Sy ondersoeke was veral op skaars wildsbokspesies gerig, waaronder 'n navorsingsprogram rakende die ekologie van die bastergemsbok. Vir laasgenoemde studie is in 1976 'n D.Sc.-graad aan hom toegeken. Hy was ook by die jaarlikse herbivoorsensus betrokke. Danksy die langtermyn-datastel wat uit die herbivoorsensus voortgevloei het, is insigte verkry rakende die wisselwerkings tussen wildgetalle en klimaat- en ander omgewingsveranderlikes. Om beter vir die sensus toegerus te wees het hy hom as vlieënier bekwaam.

In 1974 is hy as hoof van die navorsingsafdeling aangestel, en in 1987 as Parkbewaarder van die wildtuin, 'n pos wat hy tot sy vroeë aftrede in 1994 beklee het. Hy het die navorsingsagenda gelei en beïnvloed, 'n aantal navorsingsartikels gepubliseer en belangrike bestuursbeleide geïmplementeer. Dit het in 1986 tot die wildtuin se eerste omvattende bestuursplan gelei. Na sy aftrede moes hy die wettelose renosterstropery met kommer gade slaan. Hy het die park steeds gereeld besoek, en was steeds met die navorsers en bestuur in verbinding rakende bewaringsaspekte wat hom na aan die hart gelê het.

In Oktober 2007 was The Kruger National Park – A History, sy magnum opus in drie boekdele, die kulminasie van jare se arbeid en navorsing wat in die park verrig is. Salomon Joubert is oorleef deur sy gade Bets, sy dogter Magdaleen, en seun Dusty.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "SANParks Pays Tribute to Former Kruger Director Dr Joubert Who Passed Away Suddenly". www.sapeople.com (in Engels). 19 September 2022. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Julie 2024. Besoek op 24 Julie 2024.
  2. "Kruger National Park mourns two tragic losses". www.citizen.co.za (in Engels). 16 September 2022. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Julie 2024. Besoek op 25 Julie 2024.

Bronnelys

[wysig | wysig bron]