Sol-Tech

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
'n Paar van Sol-Tech se studente op die trappe voor die kampusgebou in Kloofsig, Centurion.

Sol-Tech is ‘n geakkrediteerde, private tegniese opleidingskollege, met Afrikaans as onderrigtaal. Sol-Tech fokus op beroepsleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende bruikbare kwalifikasies lei en het ten doel het om jongmense indiensneembaar te maak en tot voordeel van die land, ‘n toekoms in Suid-Afrika te gee. Die instansie maak gebruik van moderne tegnologie en toerusting om ambagslui op te lewer die hoë eise wat die arbeismark stel, te oorskrei.

Sol-Tech se programaanbod sluit ’n verskeidenheid beroepskwalifikasies in naamlik elektries, meulmaker, pas-en-draai, dieselwerktuigkunde, gereedskapmaker, trekkerwerktuigkunde en sweis, met ambagsopleiding as kern.

In 2006 het die Solidariteit Beweging die nood wat daar aan tegniese opleiding in Suid-Afrika bestaan, raakgesien en besluit om daadwerklik iets daaraan te doen. ‘n Eie beroepsopleidingkollege is in Centurion gestig en Sol-Tech is in 2007 amptelik geopen met slegs drie personeellede en 64 studente.

In 2011 het Sol-Tech sy tradisionele opleidingsmodel vernuwe na dié van ‘n baie suksesvolle Duitse model waartydens opleiding oor drie fases plaasvind. Volgens hierdie model vind institusionele opleiding aaneenlopend plaas voordat die studente vir werksplekgeïntegreerde onderrig deur 'n werwingsagentskap, Ajani, by werkgewers geplaas word. Ná afloop van laasgenoemde is studente dan gereed om finaal te kwalifiseer vir die betrokke ambag.

In September 2013 skuif Sol-Tech na ‘n groter perseel in Kirkney aan die westekant van Pretoria, waar studente in goed toegeruste werkswinkels en fasiliteite opleiding ontvang.

In 2017 vier Sol-Tech ‘n dekade in die opleidingswêreld. Daar was geweldige groei: van ‘n nederige begin tot ‘n volwaardige en vooraanstaande beroepsopleidingskollege in Suid-Afrika. Vandag maak 57 hoogsgekwalifiseerde personeellede en ongeveer 1500 studente wat in verskillende stadia van hul kwalifikasies is, deel van die personeel- en studentekorps uit. In enige stadium is daar ongeveer 600 studente op kampus besig met teoretiese en institusionele opleiding en 600 studente besig met hul geïntegreerde werksplekopleiding.

Op 13 September 2019 is die eerste sooi van Sol-Tech se nuwe kampus, op ‘n stuk grond langs die Waterklooflugmagbasis, gespit. Die oprigting van die nuwe kampus en koshuis fasiliteite gaan ongeveer R300 miljoen beloop. In Januarie 2021 behoort die eerste studente op die nuwe kampus verwelkom te word.

Bronnelys[wysig | wysig bron]

Koördinate: 25°42′52″S 28°6′26″O / 25.71444°S 28.10722°O / -25.71444; 28.10722