Stroop (rolprent)

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
Stroop
STROOP-film.jpeg
Regisseur Susan Scott
Vervaardiger Bonné de Bod
Susan Scott
Verteller Bonné de Bod
Uitgereik September 2018 (San Francisco Groen Rolprentfees)
Land Suid-Afrika
Taal Afrikaans (met Engelse onderskifte)
Amptelike webtuiste

Stroop: journey into the rhino horn war is 'n onafhanklike, Afrikaanse dokumentêre rolprent uit 2018 met Engelse onderskrifte, wat handel oor die renosterhoringstroperykrisis in Suid-Afrika. Dit is gemaak deur Bonné de Bod, omgewingsjoernalis en televisie-aanbiedster, en Susan Scott, 'n rolprentvervaardiger. Dit word aangebied deur De Bod en sluit ook die deelname van Jane Goodall, Karen Trendler en Trang Nguyen in. Die rolprent se première was by die San Francisco Groen Rolprentfees in September 2018 voordat dit aan teaters in Suid-Afrika vrygestel is. Dit het verskeie toekennings wêreldwyd gewen en is internasionaal vrygestel op 12 Februarie 2019.

Agtergrond[wysig | wysig bron]

Tydens 'n verfilming van 'n opname vir die omgewingsprogram, 50/50, het Susan Scott aan Bonné de Bod gesê om tussen die karkasse van twee gestroopte renosters te gaan sit sodat dit op film vasgelê kon word. Talle emosies en vrae het De Bod oorweldig, en dis daar waar die idee vir 'n dokumentêr oor die renosterstropingskrisis om aan die publiek te wys wat regtig aangaan, gebore is.

Stroop is 'n onafhanklike film wat met die hulp van skarefinansiering die lig gesien het. Voordat De Bod en Scott volstoom daaraan begin werk het, het hulle besluit om geen borge te soek om hulle finasieel by te staan nie. Hulle wou die naakte waarheid vertel, sonder dat iemand vir hulle voorskryf of verplig om dele uit die rolprent te sny. Dit was aanvanklik 'n ses maande-projek, maar uiteindelik het De Bod en Scott renosterstropery vier jaar lank intensief ondersoek en gepoog om die geheime van die donker wêreld van renosterstropery bloot te lê, die ware feite, sonder sensors. Hulle wou hê dat niemand meer kan sê dat hulle nie geweet het wat aangaan nie.

Storie[wysig | wysig bron]

Die dokumentêr plaas die fokus op plaaslike wildsparke en renosterplase en hoe hulle renosterstropery probeer beveg. Hulle verfilm die spesiale veldwagterseenhede in die Krugerwildtuin en die Hluhluwe-iMfolozipark, waar hulle grutonele van renosterkarkasse ontdek wat wreed geslag en vermink is vir hulle horings.

Die twee ondersoek ook onder andere beskermingsmaatreëls, pogings om renosterwesies te red, forensiese spanne, die misdaadtonele, Suid-Afrika se somtyds kriminele regsstelsel, en die hofproses. Hulle waag hul lewens om die onwettige smokkel van en handel in renosterhorings in China en Viëtnam onder 'n dekmantel te ondersoek, om te probeer uitvind waarom mense steeds bly glo dis die wonderkuur vir talle siektes soos kanker.

Toekennings[wysig | wysig bron]

  • 2018: Beste Dokumentêr - San Diego Internasionale Rolprentfees
  • 2019: SANParke Kudu-prys vir beste televisie-joernalistiek vir 2018-’19[1]

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. ‘Stroop’ skenk jongste kontantprys aan honde-eenheid. Maroela Media (4 Desember 2019). URL besoek op 5 Desember 2019.

Bronne[wysig | wysig bron]

  • Bewakers van die ou grotes - Lydia van der Merwe (Sarie-tydskrif: Februarie 2016)
  • Skoonheid en renosters - Lydia van der Merwe (Sarie-tydskrif: Julie 2018)
  • The women behind award winner - Mariana Balt (White River Post: 24 Januarie 2019)
  • 'Stroop' kry 20ste kroon (Maroela Media: 16 Julie 2019)
  • Bekroonde renosterdokumentêr op die kleinkassie te sien (Maroela Media: 14 Augustus 2019)

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]