The Aviator (Rolprent)

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search

The Aviator is 'n biografiese film uit 2004 geregisseer deur Martin Scorsese. Geskryf deur John Logan, vertel dit die lewensverhaal van Howard Hughes, 'n eksentrieke film- en vliegtuigpionier wat aan 'n obsessiewe-kompulsiewe versteuring ly. Die hoofrol word vertolk deur Leonardo DiCaprio. The Aviator is vir elf Oscars benoem, waarvan dit vyf gewen het.

Rolverdeling[wysig | wysig bron]

Storie[wysig | wysig bron]

In 1913 word die negejarige Howard Hughes in Houston deur sy ma vertel dat sy vrees dat hy aan sekere siektes sal beswyk. Veertien jaar later is Hughes, wat sy ouers se fortuin geërf het, op die punt om die grootskaalse oorlogsfilm Hell's Angels te skiet. Ná die vrystelling van die film The Jazz Singer raak Hughes oortuig dat Hell's Angels meer realisties moet word, en dus in 'n klankfilm omskep moet word. Alhoewel Hell's Angels 'n treffer word, bly hy ontevrede met die resultaat en wil hy hê dat die prent opnuut geredigeer moet word. Intussen begin hy 'n verhouding met die aktrise Katharine Hepburn, wat hom help om sy obsessief-kompulsiewe versteuring te bestry.

In 1935 neem Hughes 'n toetsvlug met die H-1 Racer-vliegtuig. Sy vlug skep 'n nuwe spoedrekord. Drie jaar later breek Hughes ook ’n wêreldrekord deur in vier dae om die wêreld te vlieg. Terselfdertyd koop hy ook 'n groot belang in Transcontinental & Western Air, die voorganger van die lugdiensmaatskappy Trans World Airlines (TWA), tot groot ergernis van sy sakemededinger Juan Trippe, hoof van Pan American World Airways (Pan Am).

Trippe moedig sy vriend, senator Owen Brewster, aan om die Gemeenskapslugredery-wetsontwerp te aanvaar, wat aan Pan Am die eksklusiewe reg verleen om internasionale vlugte aan te bied. Hughes word intussen al hoe meer bekend en gekoppel aan verskeie filmsterre, wat Hepburn jaloers maak. Die twee gaan uitmekaar toe dit onthul word dat sy verlief geraak het op die akteur Spencer Tracy. Hughes self begin verhoudings met die 15-jarige Faith Domergue en Ava Gardner.

Hughes slaag daarin om 'n kontrak met die  lugmag te kry. Hy sal 'n spioenasie- en vervoervliegtuig vir die weermag ontwikkel. Omstreeks 1946 is die vervoervliegtuig genaamd Spruce Goose nog in aanbou. Die verkenningsvliegtuig XF-11 is wel gereed en word persoonlik deur Hughes getoets. Tydens die vlug val 'n enjin af en die vliegtuig stort in Beverly Hills neer. Hughes is ernstig beseer, maar oorleef die ongeluk.

Aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog besluit die Amerikaanse weermag om die bestelling vir die Spruce Goose te kanselleer. Hughes wil vervolgens sy eie geld in die afronding van die ambisieuse vliegtuig belê, maar moet dan ’n keuse maak tussen sy lugdiens en konstruksieprojek. Hy kies om sy aandele van TWA te verpand om die bou van die Spruce Goose te voltooi.

Hughes word paranoïes en begin afluistertoestelle installeer en Gardner se telefoonlyne afluister. Wanneer hy daarvan verdink word dat hy 'n oorlogswinsgewer is, begin die FBI 'n traumatiese huissoektog. Al sy besittings word geskommel en die FBI-agente los oral vuil.

Senator Brewster belowe Hughes dat hy die aanklagte sal laat vaar, mits hy TWA aan Trippe verkoop. Hughes wys die voorstel van die hand, wat die Senaat aanspoor om 'n kommissie van ondersoek in te stel en Hughes om 'n verhoor te dagvaar. Almal is oortuig dat Hughes nie sal opdaag nie, want hy het homself in drie maande nie gewys nie. Wanneer Gardner hom besoek, berei hy steeds voor vir die verhoor.

Hughes verdedig homself tydens die verhoor en beskuldig Trippe daarvan dat hy senator Brewster omgekoop het. Boonop belowe hy dat die Spruce Goose gereed is en dat as die vliegtuig nie opstyg nie, hy die land sal verlaat. Hughes maak dan 'n suksesvolle toetsvlug met die vliegtuig. Daarna bespreek hy die bou van 'n nuwe straalvliegtuig met sy medewerkers Glenn Odekirk en Noah Dietrich. Tydens die gesprek gewaar hy twee mans wat hom ongemaklik laat voel.

Hughes kry 'n senuwee-ineenstorting en word deur Odekirk na die toilette gelei terwyl Dietrich na 'n dokter soek. In die toilette kry Hughes ’n terugflits na sy kinderjare, obsessie met lugvaart en begeerte na sukses, waarna hy die frase "the way of the future" begin herhaal.

Bronne[wysig | wysig bron]

  • Floyd, Jim. The Avro Canada C102 Jetliner. Erin, Ontario: Boston Mills Press, 1986. ISBN 0-919783-66-X.
  • Higham, Charles. Howard Hughes: The Secret Life. New York: St. Martin's Griffin, 2004. ISBN 978-0-312-32997-6.
  • Maguglin, Robert O. Howard Hughes, His Achievements & Legacy: the Authorized Pictorial Biography. Long Beach, California: Wrather Port Properties, 1984. ISBN 0-86679-014-4.
  • Marrett, George J. Howard Hughes: Aviator. Annapolis, Maryland: Naval Institute Press, 2004. ISBN 1-59114-510-4.
  • Wegg, John. General Dynamic Aircraft and their Predecessors. London: Putnam, 1990. ISBN 0-85177-833-X.