Gaan na inhoud

The Sandman (TV-reeks)

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
The Sandman

Tom Sturridge vertolk die rol van The Sandman.
Genre
  • Fantasiedrama
  • Bonatuurlike riller
Geskep deur Gebaseer op The Sandman deur Neil Gaiman, Sam Kieth en Mike Dringenberg
Met
Temamusiekkomponis David Buckley
Oorsprong VSA
Taal Engels
Aantal seisoene 1
Aantal episodes 11
Produksie
Uitvoerende vervaardiger(s)
  • Allan Heinberg
  • David S. Goyer
  • Neil Gaiman
  • Mike Barker
Vervaardiger(s)
  • Samson Mücke
  • Iain Smith
  • Alexander Newman-Wise
  • Andrew Cholerton
Venue(s) VK
Produksiemaatskappy
  • PurePop Inc.
  • The Blank Corporation
  • Phantom Four
  • DC Entertainment
  • Warner Bros. Television
Uitsending
Oorspronklike kanaal Netflix
Oorspronklike lopie Augustus 5, 2022 (2022-08-05) – tans

The Sandman is 'n Amerikaanse fantasiedramareeks vir televisie wat geskoei is op die strokiesboek The Sandman, wat deur Neil Gaiman geskryf en deur DC Comics gepubliseer is. Die reeks is deur Gaiman, David S. Goyer en Allan Heinberg vir die stromingsdiens Netflix ontwikkel en is deur DC Entertainment en Warner Bros. Television vervaardig.

Neil Gaiman, skrywer van The Sandman.

Nes die strokiesboek vertel die reeks die verhaal van Dream / Morpheus, of The Sandman. Tom Sturridge vertolk die rol van die hoofkarakter en Boyd Holbrook, Vivienne Acheampong en Patton Oswalt is byspelers.

Pogings om The Sandman vir film te verwerk het in 1991 begin, maar is vir baie jare agterweë gelaat. Warner Bros. het eindelik besluit om dit eerder vir TV te vervaardig. Netflix het in Junie 2019 'n ooreenkoms onderteken om die reeks te vervaardig. Verfilming het van Oktober 2020 tot Augustus 2021 geduur.

Tien episodes van The Sandman was dadelik beskikbaar toe dit op 5 Augustus 2022 uitgereik is. Op 19 Augustus het nog 'n episode beskikbaar geraak. In November 2022 is die reeks vir 'n tweede seisoen hernu, wat na verwagting in 2025 uitgereik sal word. Die reeks het oor die algemeen goeie resensies gekry met lof vir veral die rolverdeling, ontwerp, kostuums, getrouheid aan die bronmateriaal, visuele effekte en toneelspel.

Storielyn

[wysig | wysig bron]

Dream / Morpheus, die verpersoonliking van drome en een van die sewe Endless, word in 1916 in 'n okkulte ritueel gevang. Nadat hy 106 jaar lank aangehou is, ontsnap Dream en begin hy sy ryk, die Dreaming, herstel.[1]

Rolverdeling

[wysig | wysig bron]

Hoofkarakters

[wysig | wysig bron]
  • Tom Sturridge is lord Morpheus / Dream, die verpersoonliking van drome en nagmerries en die heerser van die Dreaming.[2][3]
    • Sturridge is ook die stem van Dream se swartkat-eweknie in "Dream of a Thousand Cats".
  • Boyd Holbrook is die Corinthian (seisoen 1), 'n nagmerrie wat uit die Dreaming ontsnap het.[2]
  • Vivienne Acheampong is Lucienne, die Dreaming se bibliotekaresse en waarnemende opsigter in Dream se afwesigheid.[3][2]
  • Patton Oswalt is die stem van Matthew die Raaf, Dream se spioen wat 'n mens was totdat hy in sy slaap dood is en deur Lucienne gerëinkarneer is as 'n raaf.[4][5]

Ander karakters

[wysig | wysig bron]
  • David Thewlis is John Dee, Cripps en Burgess se seun wie se poging om die "waarheid" te vind die wêreld in gevaar stel.[4][5]
  • Jenna Coleman is Johanna Constantine, 'n okkulte speurder. Coleman speel twee weergawes van die karakter: die hedendaagse afstammeling gebaseer op John Constantine en haar identiese 18de-eeuse voorouer, lady Johanna Constantine.[4][5][6]
  • Gwendoline Christie as Lucifer Morningstar, die heerseres van die hel.[2][7]
  • Kirby (as "Kirby Howell-Baptiste") is Death, die verpersoonliking van die dood en Dream se sagter, wyser ouer suster.[4][5]
  • Ferdinand Kingsley is Hob Gadling, Dream se vriend wat honderde jare lank gelewe het.[8]
  • Sandra James-Young is Unity Kinkaid (seisoen 1), Rose se oumagrootjie en weldoener wat pas uit 'n eeu lange slaap wakker geword het.[4][5]
  • Kyo Ra is Rose Walker, 'n jong vrou wat haar verlore broer soek wat die prooi van die Corinthian geword het.[4][5][9]
  • Razane Jammal is Lyta Hall, Rose se vriendin en 'n weduwee wat oor haar man rou.[4][5]
  • Melissanthi Mahut is Calliope (Kalliope, Homeros se muse) en Dream / Morpheus se eksvrou.
  • Arthur Darvill is Richard "Ric" Madoc, 'n sukkelende skrywer wat Calliope gevange neem.

Episodes

[wysig | wysig bron]

Bederwingswaarskuwing: Die storielyn of storie se einde volg hieronder.


Seisoen 1 (2022)

[wysig | wysig bron]

Episode 1: Sleep of the Just

[wysig | wysig bron]
Boyd Holbrook vertolk die rol van die Corinthian.

Terwyl hy probeer om 'n nagmerie met die naam die Corinthian aan te keer, word Morpheus, ook bekend as Dream, in 'n okkulte ritueel gevang deur die Britse aristokraat Roderick Burgess, wat eintlik Death probeer vang het in die hoop dat hy bonatuurlike mag sal kan kry om sy eie mag en rykdom te vergroot, asook om sy oudste seun, Randall, weer lewend te maak. Roderick steel Morpheus se totems van mag: sy helm, 'n sakkie sand en 'n robyn, wat alles eindelik gevat word deur Roderick se wrewelige minnares, Ethel Cripps, wat swanger is met Roderick se kind. Morpheus se gavangenskap veroorsaak 'n epidemie van "slaapsiekte", wat 106 jaar duur. In 2021 is Roderick se tweede oudste seun, Alex, 'n ou man wat Morpheus steeds gevange hou en deur sy minnaar, Paul, versorg word. Nadat Paul "per ongeluk" deel van die runes wat Morpheus omring en gevange hou, uitvee, reik Morpheus tot in die droom van een van sy wagte om sy hok te vernietig. Hy ontsnap en verdoem Alex tot 'n ewige slaap.

  • Aangepas van The Sandman #1 ("Sleep of the Just").[10]

Episode 2: Imperfect Hosts

[wysig | wysig bron]

Morpheus keer terug na die Dreaming, sy koninkryk en die bron van drome. Daar vind hy sy paleis in puin weens sy lang afwesigheid. Morpheus besoek Cain en Abel, twee disfunksionele broers, om die troeteldraak wat hy vir hulle gegee het, terug te kry. Dit sal sy mag genoeg herstel om die drie skikgodinne op te roep. Morpheus slaag daarin hulle op te roep, en hulle vertel vir hom waar sy toerusting is; die sakkie sand is in die besit van die duiweluitdrywer Johanna Constantine, sy helm in die besit van 'n demoon in die hel en sy robyn by Ethel se seun, John Dee. Morpheus gaan soek sy toerusting. Terug in die Dreaming stuur Morpheus vir Cain en Abel 'n babadraak om hulle vorige troeteldier te vervang, en hulle noem dit Goldie.

  • Aangepas van The Sandman #2 ("Imperfect Hosts").[11]

Episode 3: Dream a Little Dream of Me

[wysig | wysig bron]

Morpheus spoor Constantine op en sien in haar vorige nagmerrie hoe 'n duiweluitdrywing skeefloop en sy haar vriendin Astra Logue na die hel stuur. Morpheus se nuwe raadgewer, Matthew die Raaf, sluit by hom aan; hulle besoek Constantine se eksmeisie, Rachel, wat verslaaf geraak het aan die droomsand in die sakkie. Dit is al wat haar aan die lewe hou. Constantine oortuig Morpheus om Rachel te laat sterf. Ethel Cripps, wat deur die Corinthian gewaarsku word dat Morpheus vry is en sy gesteelde besittings soek, besoek haar seun, John, wat Morphfeus se robyn het, in 'n inrigting. Sy is meer as 100 jaar oud, maar lyk baie jonger danksy haar geluksteentjie, of beskermingsamulet. Sy sê vir John as hy die geluksteentjie vat, sal hy nie meer die robyn nodig hê nie. Sy gee dit vir hom, en verouder en sterf dadelik. John gebruik die amulet se magte om uit die inrigting te ontsnap.

  • Aangepas van The Sandman #3 ("Dream a Little Dream of Me").[12]

Episode 4: A Hope in Hell

[wysig | wysig bron]
Gwendoline Christie vertolk die rol van Lucifer Morningstar.

Om sy helm terug te kry, besoek Morpheus die hel, waar hy Lucifer Morningstar, die heerseres, ontmoet. Hy kry die demoon Choronzon met die helm, maar Choronzon daag hom uit tot 'n spel van wysheid om dit terug te kry. Morpheus verteenwoordig homself in die spel, maar die demoon kies Lucifer om namens hom te speel. Morpheus wen eindelik die spel om hoop op te roep, 'n konsep wat Lucifer nie kan klop nie, en hy kry sy helm terug. Voordat hy vertrek, belowe Lucifer om Morpheus eendag dood te maak. John kry hulp by 'n barmhartige Samaritaan en kry sy robyn terug, maar nie voordat Morpheus uitvind waar dit is nie nie, asook dat John dit verander het om aan te pas by sy eie wense en niemand anders s'n nie. John gee die geluksteentjie vir sy verbouereerde redder nadat hy besluit het hy het dit nie meer nodig nie.

  • Aangepas van The Sandman #4 ("A Hope in Hell") en #5 ("Passengers").[13]

Episode 5: 24/7

[wysig | wysig bron]

John, wat nou die robyn het, gaan sit in 'n plaaslike eetplek. Daar gebruik hy die robyn om die personeel en klante (en die hele wêreld, wat op televisie vertoon word) te keer om te jok. Dit lei eindelik daartoe dat hulle mekaar vermoor of selfmoord pleeg. Morpheus kom daar aan en stuur John na die ryk van drome, waar dit lyk of John die robyn se mag gebruik om Morpheus te verslaan. Hy is so bly dat hy die robyn in sy hand stukkend druk. Morpheus ontbloot hom dan en sê deurdat John die robyn vernietig het, is die mag daarvan terug by sy ware meester, Morpheus. Morpheus kry John jammer en neem hom terug na die inrigting, skynbaar in 'n toestand van langtermynslaap. Elders sweer Morpheus se suster Desire saam teen hom.

  • Aangepas van The Sandman #6 ("24 Hours") en #7 ("Sound and Fury").[14]

Episode 6: The Sound of Her Wings

[wysig | wysig bron]

Morpheus is nou doelloos nadat hy sy toerusting teruggekry het. Sy suster Death besoek hom en hy vergesel haar na waar sy mense wat pas gesterf het, na die hiernamaals lei. Death probeer om vir Morpheus te wys hoe om 'n doel en vervulling te kry in sy pligte as die heerser van die Dreaming. In 'n terugflits na die Middeleeue besoek Morpheus en Death 'n kroeg, waar hulle Hob Gadling raakloop. Hy is 'n sterfling wat kliphard wens hy gaan nooit dood nie. Death stem in om Gadling te laat lewe so lank as wat hy wil. Hob en Morpheus ontmoet mekaar elke eeu. Hob hou vol hy wil nooit sterf nie, ongeag van wat met hom gebeur. Hob vertel Morpheus van sy hipotese dat Morpheus aanhou om hom te ontmoet omdat hy alleen en sonder vriende is, en Morpheus is beledig. Weens se gevangeneming deur Burgess is dit vir hom onmoontlik om Hob te ontmoet. Toe hulle ou kroeg verkoop word, kies Hob 'n nuwe kroeg 'n blok van daar in die hoop dat Morpheus hom sal kry. Terug in die hede sien Morpheus 'n teken wat hom na "The New Pub" lei. Die twee herenig en Morpheus erken eindelik Hob is sy vriend. Elders gaan Desire voort met haar planne.

  • Aangepas van The Sandman #8 ("The Sound of Her Wings") and #13 ("Men of Good Fortune").[15]

Episode 7: The Doll's House

[wysig | wysig bron]
Razane Jammal speel Lyta Hall.

In 2015 word Rose Walker en haar broer, Jed, geskei toe hulle ouers skei. In 2021, ná die dood van albei ouers, word Jed in 'n kinderhuis geplaas ten spyte van die feit dat Rose hom probeer opspoor en wil aanspraak maak op wettige voogdyskap. Rose is onwetend 'n Vortex, 'n wese wat drome natuurlik aantrek en manupileer, en Desire en haar tweelingsuster, Despair, span saam om Rose teen Morpheus te gebruik. Morpheus is bewus van Rose se aard en wil haar gebruik om drie vermiste inwoners van die Dreaming op te spoor: die Corinthian, Gault en Fiddler's Green. Rose en haar vriendin Lyta Hall reis na Engeland om Unity Kinkaid te ontmoet. Sy is 'n ryk herstelde slagoffer van die slaapsiekte. Unity onthul sy is Rose se biologiese oumagrootjie en bied aan om te betaal vir Rose se soektog na Jed. Rose en Lyta reis na Florida. Lucienne en Morpheus kan Jed nie in die Dreaming of die wakker wêreld opspoor nie, en hulle lei af Gault het Jed se bewustheid van die Dreaming afgesny. Rose nader Lucienne en Morpheus in die Dreaming om hulp te vra met die opsporing van Jed. Intussen word die Corinthian, wat na Rose soek, genooi as eregas op 'n konferensie deur die reeksmoordenaars Nimrod, Fun Land en The Good Doctor.

  • Aangepas van The Sandman #10 ("The Doll's House") en #11 ("Moving In").[16]

Episode 8: Playing House

[wysig | wysig bron]

Ondanks Lucienne se besware stem Morpheus in om Rose te help om Jed op te spoor. Eendag sit Rose en ander gaste by die B&B vermisplakkate op in Cape Kennedy, wat die aandag van die Corinthian trek. Dié nag reis Morpheus en Rose deur die drome van die gaste en kom eindelik af op Jed se drome, wat Gault gemanipuleer het om 'n emosionele ontvlugting van sy mishandelende peetpa te verskaf. Morpheus straf Gault omdat sy haar pligte oorskry het deur haar na die Darkness te stuur, hoewel Gault volhou sy het oortree omdat sy gedink het dit is in Jed se beste belang. Intussen herenig Lyta met haar oorlede man, Hector, in haar drome. Hector probeer Lyta oortuig om by hom te bly en 'n kind by hom te hê. Toe Lyta wakker word, is sy ver swanger. Die Corinthian spoor Jed op en vermoor sy pleegouers. Hy neem Jed gevange om Rose na die reeksmoordenaarskonferensie te lok.

  • Aangepas van The Sandman #12 ("Playing House") en #15 ("Into the Night").

Episode 9: Collectors

[wysig | wysig bron]

Lucienne en Matthew lei af Lyta se swangerskap is die gevolg van Rose se toenemende mag, wat dreig om die grense tussen die Dreaming en die wakker wêreld af te breek. Die Corinthian bel Rose met Jed by hom en sê waar hulle by die konferensie is. Rose reis na die hotel om hulle te ontmoet, vergesel van Gilbert, 'n medegas by die B&B. Lyta hou aan om Hector in haar drome te ontmoet en kom agter haar swangerskap neem met rasse skrede toe. Morpheus kom agter daar is toenemende skade aan die Dreaming, wat Lucienne aan Rose toeskryf, hoewel Morpheus aan haar teorie twyfel. Morpheus vind Lyta en Hector in die Dreaming en besef die Vortex het toegelaat dat Hector se gees in die Dreaming woon. Hy verban Hector na die hiernamaals en sê vir Lyta dat haar ongebore kind eendag aan hom sal behoort omdat hy in die Dreaming verwek is. Rose en Gilbert kom by die hotel aan en soek Jed. Terwyl hulle soek, herken die Corinthian en Gilbert mekaar. Dit veroorsaak dat Gilbert na die Dreaming vlug, waar hy onthul word as die verpersoonliking van Fiddler’s Green. Gilbert vertel vir Morpheus waar Rose en die Corinthian is. Toe Rose Jed vind terwyl Fun Land hom in 'n kamer wil inneem, hardloop hulle weg van Fun Land. Dié keer hulle vas totdat die Corinthian opdaag en hom vermoor.

  • Aangepas van The Sandman #14 ("Collectors").[17]

Episode 10: Lost Hearts

[wysig | wysig bron]

Morpheus onderbeek die Corinthian se toespraak op die reeksmoordenaarskonferensie, maar die Corinthian wys vir Morpheus dat Rose se mag hom in staat stel om hom teen sy skepper te verdedig. Morpheus stel Rose in kennis van die groot gevaar wat sy vir die wakker wêreld inhou. Dit veroorsaak dat Rose die Dreaming tydelik herstel en Morpheus in staat stel om die Corinthian ongedaan te maak. Morpheus straf die konferensiegangers met duidelikheid oor hulle misdade. Rose en Jed kan nou wegkom, want van die konferensiegangers pleeg óf selfmoord óf hulle gee hulle aan die owerhede oor. Dié nag konfronteer Rose Morpheus in die Dreaming. Sy is bereid om haarself op te offer om haar vriende en broer te red, maar Unity sluit by hulle in die Dreaming aan en oortuig Rose om die Vortex aan haar oor te dra. Dit stel Morpheus in staat om 'n einde aan haar lewe te bring. Morpheus besef Desire het Unity swanger gemaak sodat sy die Vortex aan haar nageslag kan oordra. Hy waarsku haar teen enige verdere planne. Morpheus maak Gault oor as 'n goeie droom en onderneem om in die toekoms 'n beter heerser van die Dreaming te wees. In die wakker wêreld skenk Lyta die lewe aan 'n seun. Sy trek saam met Rose, Jed en Hal (die eienaar van die B&B) terug na New Jersey. Nadat lord Azazel Lucifer aangespreek het namens die generaals van die hel, sweer Lucifer wraak teen Morpheus terwyl die demone haar aanmoedig.

  • Gedeeltelik aangepas van The Sandman #14 ("Collectors")[17] en #16 ("Lost Hearts").[18]

Episode 11: Dream of a Thousand Cats / Calliope

[wysig | wysig bron]

"Dream of a Thousand Cats": Laat een nag in dié animasieverhaal hou 'n Siamese kat 'n vergadering om ander katte van haar ontmoeting met Morpheus te vertel. 'n Lang tyd tevore was sy dragtig met 'n werpsel kleintjies, wat van 'n gemengde ras was. Haar eienaars, Paul en Marion, was ontevrede hieroor en Paul het die katte in 'n rivier gegooi, wat die Siamees getraumatiseer het. Uit desperaatheid het sy gedroom sy ontmoet Morpheus in die vorm van 'n swart kat. Die kat het Morpheus om 'n oplossing gesmeek. Morpheus het 'n parallelle heelal aan haar gewys waarin katte die oorheersende spesie was en mense ondergeskik. Die mense het teruggeveg deur te droom en die realiteit te herskep deur hulle meesters te verander in die katte wat ons vandag ken. Nadat sy haar storie klaar vertel het, het die Siamees 'n beroep op die katte gedoen om dieselfde as die mense te doen sodat hulle hulle status as die heersers van die aarde kan terugeis.

Arthur Darvill is Richard Madoc.

"Calliope": In Augustus 2018 besoek die sukkelende skrywer Richard Madoc 'n bejaarde voormalige skrywer, Erasmus Fry, wat die muse Calliope gevange geneem het. Fry gee Calliope vir Madoc, wat agterkom hy kry inspirasie deur haar te verkrag. Hy belowe om haar ná een keer vry te laat, maar dit word duidelik hy gaan haar nooit loslaat nie. Calliope stuur 'n desperate pleidooi aan Morpheus, haar eksman, wat sy nie gesien het sedert die dood van hulle seun, Orpheus, nie. Morpheus word woedend en konfronter Madoc. Toe hy weier om Calliope teen Augustus 2022 vry te laat, straf Morpheus vir Madoc met 'n onbeheerbare stroom idees. Madoc vra gou sy student Nora om Calliope vry te laat en dié vra Morpheus om sy vloek van Madoc weg te neem. Morpheus doen dit en Madoc onthou hierna nie vir Calliope, Morpheus of enige van sy idees nie. Calliope belowe om seker te maak dit wat sy oorgekom het, gebeur nooit met haar susters, die ander muses, nie. Sy en Morpheus groet mekaar teer en sy sê sy hoop sy kan hom in sy ryk besoek sodat hulle ordentlik oor hulle seun kan treur.

  • Aangepas van The Sandman #18 ("A Dream of a Thousand Cats") en #17 ("Calliope").[19]

Seisoen 2

[wysig | wysig bron]

Die uitreikingsdatums van seisoen 2 se episodes 1-12 sal later bekend gemaak word.[20] Hulle sal na verwagting in 2025 uitgereik word.[21]

Vervaardiging

[wysig | wysig bron]

Verfilming

[wysig | wysig bron]

Nadat 'n paar rolprentverwerkings onsuksesvol was, is besluit om The Sandman eerder vir televisie aan te pas. Verfilming sou teen die einde van Mei 2020 begin, maar is uitgestel weens die Covid-19-pandemie.[22] In September 2020 het Gaiman op Twitter onthul dat verfilmimg na verwagting in Oktober sou begin, afhangend van inperkingsmaatreëls.[23] Die hoofverfilming het op 15 Oktober 2020 begin.[24] Weens die pandemie is die verfilming van die eerste seisoen beperk tot die Verenigde Koninkryk.[25] Verfilming het plaasgevind in Groter Londen, Surrey, Watford, Poole en Sussex. Tonele wat in New York afspeel, is by Canary Wharf verfilm.[26]

Verfilming van die tweede seisoen het op 23 Junie 2023 begin,[27] maar is opgeskort weens die staking van die Amerikaanse akteursunie SAG-AFTRA van 2023.[28] Op 30 November 2023 het Gaiman bevestig dat vervaardiging hervat is.[29]

Musiek

[wysig | wysig bron]

Die musiek vir die reeks is geskryf deur die Britse komponis en Emmy-benoemde David Buckley.[30] Hy het 'n groot verskeidenheid klanke gebruik, van opnames van 'n groot orkes[31] en 'n koor tot vroeë musiekinstrumente en esoteriese klanke. Hy het ook hierdie klanke gemeng met moderne elektroniese klanke "om tyd in die musiek te oorbrug".[32]

Uitreiking

[wysig | wysig bron]

Die reeks is op 5 Augustus 2022 uitgereik[33] en het uit 10 episodes bestaan.[34] 'n Elfde episode is op 19 Augustus uitgereik as 'n storie met twee dele.[19][35]

Ontvangs

[wysig | wysig bron]

The Sandman was drie dae ná sy uitreiking wêreldwyd in Netflix se no. 1-posisie, met 69,5 miljoen uur se kyktyd.[36] In die eerste week van stroming het dit die reeks op Netflix gebly wat die meeste gekyk is, met 127,5 miljoen uur se kyktyd van 8 tot 14 Augustus.[37]

Op Rotten Tomatoes was die goedkeuringsyfer 87%, met 'n gemiddelde punt van 7,6/10, gebaseer op 97 resensies.[38] Metacritic het dit 'n telling van 66 uit 100 gegee, gebaseer op 27 resensies, wat "algemeen gunstig" is.[39]

Amelia Emberwing van IGN het dit 9 uit 10 gegee. Sy het die toneelspel, veral dié van Sturridge, geprys. Sy het ook die prokduksiewaardes geprys en gesê die reeks gebruik sy bronmateriaal goed.[40] The Guardian se Rebecca Nicholson het dit 4 uit 5 gegee. Sy het ook die toneelspel en getrouheid aan die bronmateriaal geprys. Sy het die episode "24/7" as een van die beste episodes van die jaar uitgesonder.[41]

Judy Berman van Time het ook 'n positiewe resensie geskryf en sy produksie-ontwerp en toneelspel geprys. Sy het die reeks genoem "maklik een van die beste kleinskerm-strokiesverwerkings nog".[42] Ook Glen Weldon van NPR het 'n positiewe resensie geskryf. Hy het die gebruik van die bronmateriaal uitgesonder en gedink die veranderings aan die storie het die verhaal verbeter. Hy het ook die visuele effekte en veral Sturridge se toneelspel geprys.[43]

Iana Murray het David Thewlis in GQ geprys vir sy vertolking van John Dee en gesê dit is waarskynlik die beste toneelspel in die reeks.[44]

Entertainment.ie het die reeks 10de geplaas van die beste TV-shows van 2022.[45] Los Angeles Times het die reeks ingesluit op sy lys van 10 beste TV-shows van 2022.[46]

In 'n gemengde resensie het Karama Horne van TheWrap die reeks "visueel voortreflik" genoem en die toneelspel, kostuums en klank geprys. Sy het egter die pas gekritiseer en gesê sy "bloemlesingstyl van storievertelling" laat die storielyn in die steek, veral aan die einde.[47]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Amaya, Erik (6 April 2020). "Everything We Know About Netflix's Sandman Series". Rotten Tomatoes. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Januarie 2021. Besoek op 5 Januarie 2021.
  2. 2,0 2,1 2,2 2,3 Otterson, Joe (28 Januarie 2021). "'Sandman' Netflix Series Casts Tom Sturridge as Dream, Adds Gwendoline Christie, Charles Dance". Variety. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 31 Januarie 2021. Besoek op 1 Februarie 2021.
  3. 3,0 3,1 Cole, Brynna (31 Januarie 2021). "Sandman: Every Actor & Character Confirmed for Netflix's Adaptation". Comic Book Resources. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Februarie 2021. Besoek op 1 Februarie 2021.
  4. 4,0 4,1 4,2 4,3 4,4 4,5 4,6 Del Rosario, Alexandra (26 Mei 2021). "'The Sandman': Kirby Howell-Baptiste, Mason Alexander Park & Donna Preston Among 12 Added To Netflix Series". Deadline Hollywood. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Mei 2021. Besoek op 26 Mei 2021.
  5. 5,0 5,1 5,2 5,3 5,4 5,5 5,6 Bui, Hoai-Tran (26 Mei 2021). "'The Sandman' Netflix Series Expands With 12 More Actors, Including Kirby Howell-Baptiste as Death". /Film. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Augustus 2021. Besoek op 26 Mei 2021.
  6. Gaiman, Neil (26 Mei 2021). "'The Sandman's' Latest Castings – and the Stories Behind Them". Netflix. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Mei 2021. Besoek op 27 Mei 2021.
  7. Jacobs, Mira (31 Januarie 2021). "Neil Gaiman Explains the Difference Between Sandman and Lucifer's... Lucifer". Comic Book Resources. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 31 Januarie 2021. Besoek op 1 Februarie 2021.
  8. Travis, Ben; Jolin, Dan (24 Februarie 2022). "The Sandman: Neil Gaiman Confirms Ferdinand Kingsley's Casting As Fan Favourite Hob Gadling – Exclusive". Empire. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Augustus 2022. Besoek op 6 Augustus 2022.
  9. Babb, Tiffany (4 Augustus 2022). "Netflix's Sandman actor Vanesu Samunyai discusses her role as Rose Walker and growing alongside her character". Popverse. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Augustus 2022. Besoek op 6 Augustus 2022.
  10. Salmon, William (5 Augustus 2022). "The Sandman season 1, episode 1 review, recap, and analysis: 'Sleep of the Just'". GamesRadar (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Augustus 2022. Besoek op 14 Augustus 2022.
  11. Salmon, William (5 Augustus 2022). "The Sandman season 1, episode 2 review, recap, and analysis: 'Imperfect Hosts'". GamesRadar (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Augustus 2022. Besoek op 14 Augustus 2022.
  12. Salmon, William (6 Augustus 2022). "The Sandman season 1, episode 3 review, recap, and analysis: 'Dream A Little Dream Of Me'". GamesRadar (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Augustus 2022. Besoek op 14 Augustus 2022.
  13. Salmon, William (7 Augustus 2022). "The Sandman season 1, episode 4 review, recap, and analysis: 'A Hope In Hell'". GamesRadar (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Augustus 2022. Besoek op 14 Augustus 2022.
  14. Salmon, William (8 Augustus 2022). "The Sandman season 1, episode 5 review, recap, and analysis: '24/7'". GamesRadar (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Augustus 2022. Besoek op 14 Augustus 2022.
  15. Salmon, William (9 Augustus 2022). "The Sandman season 1, episode 6 review, recap, and analysis: 'The Sound of Her Wings'". GamesRadar (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Augustus 2022. Besoek op 14 Augustus 2022.
  16. "The Sandman - The Doll's House - Review - TVShowsFinder.com". TVShowsFinder. 1 Januarie 1970. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 September 2022. Besoek op 16 September 2022.
  17. 17,0 17,1 Salmon, William (14 Augustus 2022). "The Sandman season 1, episode 9 review, recap, and analysis: 'Collectors'". GamesRadar (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Augustus 2022. Besoek op 14 Augustus 2022.
  18. Salmon, William (14 Augustus 2022). "The Sandman season 1, episode 10 review, recap, and analysis: 'Lost Hearts'". GamesRadar (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Augustus 2022. Besoek op 14 Augustus 2022.
  19. 19,0 19,1 Egan, Toussaint; Rivera, Joshua (19 Augustus 2022). "Surprise! Netflix's The Sandman adapted your favorite issue (and you can watch it now)". Polygon. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Augustus 2022. Besoek op 19 Augustus 2022.
  20. Maas, Jennifer (20 Mei 2024). "'The Sandman' Season 2 Casts Remaining 'Endless' Siblings of Tom Sturridge's Dream: Delirium, Destiny and 'The Prodigal'". Variety. Besoek op 22 Mei 2024.
  21. Vary, Adam B. (20 September 2024). "'The Sandman' First Look at Season 2 Reveals Loki, Thor and Odin, and the Endless' 'Family Dinner'". Variety. Besoek op 21 September 2024.
  22. McCreesh, Louise; Earp, Catherine (19 Julie 2020). "Neil Gaiman offers update on Netflix's The Sandman". Digital Spy. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Julie 2020. Besoek op 21 Julie 2020.
  23. Morris, Lauren (28 September 2020). "The Sandman TV series starts filming in 3 weeks, Neil Gaiman reveals". Radio Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2020. Besoek op 14 Oktober 2020.
  24. Lovett, Jamie (18 Oktober 2020). "Netflix's Sandman Series Begins Filming, Neil Gaiman Teasing Casting Announcements". ComicBook.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Oktober 2020. Besoek op 21 Oktober 2020.
  25. Gaiman, Neil [@neilhimself] (18 Oktober 2020). "One of those, yes. We had plans, but Covid changed them. Season 1 will all be shot in the UK" (Tweet). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Januarie 2021. Besoek op 18 Januarie 2021 – via Twitter.
  26. Shrestha, Naman (4 Augustus 2022). "Where is Netflix's The Sandman Filmed?". The Cinemaholic (in Engels (VSA)). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 September 2022. Besoek op 10 September 2022.
  27. Geisinger, Gabriella (23 Junie 2023). "The Sandman season 2 set to begin filming in UK". Kemps Film and TV Production Services Handbook. Besoek op 23 Junie 2023.
  28. Milici, Lauren (14 Julie 2023). "Sandman season 2 stops filming due to SAG-AFTRA strike". GamesRadar+. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Julie 2023. Besoek op 15 Julie 2023.
  29. Wesley, Yin-Poole (30 November 2023). "'Neil Gaiman Pens Letter to Sandman Fans as Season 2 Resumes Production". IGN. Besoek op 30 November 2023.
  30. "John David Buckley". Television Academy (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Februarie 2023. Besoek op 7 Februarie 2023.
  31. "Project Poster Gallery - SynchronStage Vienna". www.synchronstage.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Februarie 2023. Besoek op 7 Februarie 2023.
  32. creepykingdom (9 Augustus 2022). "'The Sandman: Season 1' Soundtrack From the Netflix Series Now Available". Creepy Kingdom (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Februarie 2023. Besoek op 7 Februarie 2023.
  33. Roots, Kimberly (6 Junie 2022). "The Sandman Sets Summer Release Date at Netflix — Watch New Trailer". TVline. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Junie 2022. Besoek op 6 Junie 2022.
  34. "Video: Geeked Week Debut – "The Sandman" Teaser, Date Announcement, Panel & Casting News". The Futon Critic. 6 Junie 2022. Besoek op 7 Junie 2022.
  35. Maas, Jennifer (19 Augustus 2022). "Netflix's 'The Sandman' Drops New Episode Starring Sandra Oh, James McAvoy, David Tennant and Michael Sheen". Variety. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 November 2022. Besoek op 19 Augustus 2022.
  36. Andreeva, Nellie (9 Augustus 2022). "'The Sandman' Dethrones 'Virgin River' On Top Of Netflix's Weekly Ratings, 'Extraordinary Attorney Woo' Sets New High". Deadline Hollywood. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Augustus 2022. Besoek op 9 Augustus 2022.
  37. Cendrowicz, Laurence (16 Augustus 2022). "Netflix Top 10: 'The Sandman' Leads with 128 Million Hours Watched, 'Never Have I Ever' Season 3 Takes No. 2 Position". Variety. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Augustus 2022. Besoek op 16 Augustus 2022.
  38. The Sandman, season 1. Rotten Tomatoes. Besoek op 5 Augustus 2022
  39. The Sandman, season 1. Metacritic. Besoek op 5 Augustus 2022
  40. Emberwing, Amelia (5 Augustus 2022). "The Sandman: Season 1 Review". IGN. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Augustus 2022. Besoek op 5 Augustus 2022.
  41. Nicholson, Rebecca (5 Augustus 2022). "The Sandman review – Neil Gaiman has created 2022's single greatest hour of TV drama". The Guardian. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Augustus 2022. Besoek op 7 Augustus 2022.
  42. Berman, Judy (5 Augustus 2022). "Netflix's Mesmerizing Sandman Adaptation Is Well Worth the Decades-Long Wait". Time. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Augustus 2022. Besoek op 5 Augustus 2022.
  43. Weldon, Glen (5 Augustus 2022). "For fans and non-fans alike, Netflix's 'The Sandman' is a dream come true". NPR. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Augustus 2022. Besoek op 13 Augustus 2022.
  44. Murray, Iana (9 Augustus 2022). "The Sandman's diner episode is a disturbing masterpiece". British GQ (in Engels (VK)). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Augustus 2022. Besoek op 1 September 2022.
  45. Cannon, Eoghan (9 Desember 2022). "The 10 best TV shows of 2022". Entertainment.ie (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Maart 2023. Besoek op 17 Desember 2022.
  46. Ali, Lorraine (4 Desember 2022). "The 10 best TV shows (and three best dance sequences) of 2022". Los Angeles Times (in Engels (VSA)). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Desember 2022. Besoek op 17 Desember 2022.
  47. Horne, Karame (5 Augustus 2022). "'The Sandman' Review: Netflix Series Is a Gorgeous Yet Flawed Adaptation". TheWrap. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Augustus 2022. Besoek op 7 Augustus 2022.

Skakels

[wysig | wysig bron]