Tiekie

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
'n Sammy Marks-tiekie wat in 1898 gemunt is.
Die Sammy Marks-tiekie.

'n Tiekie (ook bekend as 'n tripens) is 'n klein silwermuntstuk met die waarde van drie pennies 3d. Dit het in Suid-Afrika bestaan tot die invoering van die desimale geldstelsel in 1961. Op die muntstuk was drie bossies hout en 'n protea afgebeeld.

Die herkoms van die woord is onseker, moontlik is dit 'n afleiding van die Portugees pataca, die Frans patac, die Nguni-woord tiki vir klein of die Maleise woord tiga vir drie. Suid-Afrikaanse Engels het die woord tickey aan Afrikaans ontleen.

Bekende versamelmunte is die Sammy Marks-tiekies. In 1898 is 215 hiervan in goud geslaan, maar hulle is nooit gesirkuleer nie. Die Paul Kruger-tiekie van 1897 het ook versamelwaarde. Weens die Groot Depressie is daar in 1931 slegs 128 tiekies gemunt en daarom is die 1931-tiekie ook gewild onder versamelaaars.

In Afrikaans het die woord “tiekie” (gewoonlik met die betekenis van klein) inslag gevind in die woorde tiekiedraai ('n volksdans), tiekieboks en langtiekie sowel as in die uitdrukkings “'n motor wat op 'n tiekie kan draai” en “as 'n mens vir 'n tiekie gebore is, word jy nooit 'n sikspens nie”. 'n Geliefde klein hanswors in Suid-Afrika in die middel van die tweede helfte van die 20ste eeu het die verhoognaam Tiekie (Tickey) gehad.

Ander geskiedkundige name vir ou geldeenhede in Suid-Afrika is die riksdaalder, pond, sjieling, pennie, floryn, halfkroon, kroon, ghienie, sikspens, oulap, stuiwer, bokstert en 'n oortjie.

Sien ook[wysig | wysig bron]