Paaltjiewagter

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
'n Paaltjiewagter in tipiese posisie. Hierdie paaltjiewagter hurk naby aan die paaltjies, vir 'n stadige bouler of draaibalbouler.
Spesiale handskoene vir 'n paaltjiewagter. Die web tussen die duim en wysvinger is aanmekaar gewerk, sodat dit 'n bakkie vorm om die bal mee te vang.

Die paaltjiewagter is 'n veldwerkposisie in krieketspel.

Die paaltjiewagter is 'n spesialisveldwerker van die boul-/veldwerkspan wat direk agter die paaltjies plek inneem, en is die enigste speler wat verantwoordelik is om ál die balle wat geboul word af te keer (of te vang) indien die kolwer nie 'n vorentoe hou met die kolf kon/wou uitvoer nie.

Dit kom verder daarop neer dat die paaltjiewagter in 'n posisie is om die meeste vangskote van enige veldwerker waar te neem, aangesien hy direk in die vlug van die bal staan (of hurk) wanneer dit deurskiet van, of moontlik skrams gereflekteer word (Engels: "nicked") deur die kolwer voor die paaltjies.

Die paaltjiewagter moet ook sorg dat die teenstander-kolwer altyd binne sy kolfkampie bly, deur te dreig om 'n stonkpoging uit te voer wanneer die kolwer "ronddwaal" buite die kampie, nadat hy die bouler se aflewering agter gevang het.

'n Verdere belangrike taak van 'n paaltjiewagter is om, wanneer 'n dryfhou deur die kolwer uitgevoer is, direk by die paaltjies aan sy kant stelling in te neem. Hy doen dit in opwagting van die bal wat deur 'n medespanlid (veldwerker) teruggegooi sal word na die paaltjies toe van bv. die dekveld of die grens af. Indien hy die bal vroeg terug ontvang, kan hy die kolwer uithardloop deur sy paaltjies om te gooi. Aangesien hy die enigste veldwerker is wat handskoene mag dra, is dit dit veiligste opsie om die bal na hóm in te gooi, eerder as na die bouler (aan die ander kant), wie se hande beseer kan word deur 'n harde ingooi.

Die paaltjiewagter is ook die enigste veldwerker wat beenskutte dra, alhoewel hulle deesdae korter en ligter is as kolfbeenskutte.

Uit bostaande kan afgelei word dat die paaltjiewagter 'n spesialisposisie op die veld is.

Adam Gilchrist van Australië is die paaltjiewagter, agter die kolwer Andrew Strauss.