Parador

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Parador in Aigua Blava, Costa Brava (Middellandse See)
Die patio in die historiese Parador van Carmona

Paradores de Turismo de España is 'n Spaanse luukse hotelgroep, wat in 1928 deur koning Alfonso XIII van Spanje gestig is om plaaslike toerisme te bevorder. Die eerste Parador-hotel is in dieselfde jaar in Gredos in die provinsie Ávila geopen.

Die Paradores-groep is 'n winsgewende staatsbeheerde onderneming, en baie van sy 91 hotelle met drie tot vyf sterre is voormalige kastele, paleise, forte, konvente, kloosters en ander historiese geboue. Die aantal Paradores sal tot by die jaar 2010 tot 100 verhoog word. Tans is daar onder meer Paradores in Galicië (Noordwes-Spanje), Katalonië, Andalusië (Suid-Spanje), op die Kanariese Eilande en in die Spaanse enklawes in die noord-weste van Marokko.

Die Paradores se Portugese eweknie, die Pousadas de Portugal, is volgens die Spaanse voorbeeld in 1942 gestig.

Die term Parador verwys in die Spaanstalige lande van die Karibiese See ook na 'n klein restourant in 'n privaat huis of na 'n privaat huis, wat omgebou is om as 'n restourant te dien en gewoonlik sonder voorgeskrewe lisensies beheer word.

Eksterne skakels[wysig]