Toutologie (stylfiguur)

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek

'n Toutologie (afkomstig van die Griekse woord ταυτολογία, d.w.s. tauto logos, wat dieselde woord beteken) of stapelvorm[1] is die benadrukking van 'n woord met 'n ander woord, waarvan die betekenis so goed as dieselde is. Anders gestel is dit die opeenstapeling van woorde met dieselde betekenis,[1] wat gevolglik oorbodige herhaling behels.

Dit kom meer dikwels voor as 'n taalfout as 'n stylfiguur, maar in die eersgenoemde geval is daar sprake van versteende gebruik. Baie vaste uitdrukkings is dan ook toutologieë. Ook kan 'n toutologie soms meewerk om 'n gevoel te versterk, en toutologieë word nie as foutief beskou wanneer dit só aangewend word nie. By 'n pleonasme egter, is die twee woorde nie sinonieme nie, maar word betekenis van een woord by die ander ingesluit (vgl. "dood verdrink").[1]

Korrekte toutologie[wysig]

Min of meer versteende (korrekte) toutologieë is onder meer:

  • graftombe
  • brokstuk
  • gratis en vir niks
  • een en dieselfde
  • leuens en bedrog
  • lis en bedrog
  • geheel en al
  • vas en seker
  • gewis en waaragtig
  • nooit of te nimmer
  • vir ewig en altyd
  • oor en uit
  • uitklaar

Foutiewe toutologie[wysig]

Voorbeelde van (steeds) onversteende uitdrukkings, en daarom aanduibaar as foutief, sou die volgende insluit:

  • kabeltou
  • netjies en versorg
  • alreeds
  • nooit niks
  • vuil en smerig
  • bly en verheug
  • vrolik en bly
  • identies dieselde
  • eensaam en alleen
  • maar en egter (Byvoorbeeld: "...maar ons merk egter niks op nie.")
  • want en immers (Byvoorbeeld: "Ek neem 'n drankie, want ek is immers dors.")

Verwysings[wysig]

  1. 1,0 1,1 1,2 (2003) Superfiks G11 Afrikaans, 1ste uitg., Kaapstad: Pearson Education South Africa, 92. ISBN 063605740 2.