Kladow

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Kladow
Die ou dorpskerk van Kladow in die winter
Die ou dorpskerk van Kladow in die winter
Ligging in Berlyn
Ligging in Berlyn
Koördinate: 52°27′11″N 13°8′34″O
Land Vlag van Duitsland Duitsland
Deelstaat Berlyn
Distrik Spandau
Eerste verwysing 1267
Oppervlak
 - Stadsdeel 14,8 km²  (5,7 vk m)
Hoogte 35 m (115 vt)
Bevolking (30 Junie 2012)
 - Stadsdeel 14 051
 - Digtheid 950,7/km² (2 462,3/myl2)
Tydsone MET (UTC+1:00)
 - Somer (DST) MEST (UTC+2:00)
Poskode 14089
Skakelkode(s) 030

Kladow [ˈklaːdoː] is die mees suidelike geleë stadsbuurt in die Berlynse administratiewe distrik Spandau.

Kladow word in die noorde deur die stadsbuurt Gatow, in die ooste en suidooste van die Havel-rivier en in die weste en suidweste deur die deelstaat Brandenburg begrens. Hier lê ook Gatow se buurdorpe Sacrow en Groß-Glienicke. Met sowat 14 000 inwoners behoort Kladow tot die Berlynse stadsbuurte wat hulle dorpskarakter bewaar het.

Geskiedenis[wysig]

Die eerste historiese verwysing na die dorp as Clodow dateer uit die jaar 1267 en maak van Kladow een van die oudste landelike nedersettings in die distrik Spandau. 'n Groter aantal mense het hulle eers teen die begin van die 19de eeu in die voormalige boeredorp gevestig.

Met die skepping van Groot-Berlyn (Duits: Groß-Berlin) in die jaar 1920 is Kladow by die Duitse hoofstad ingelyf. In die jare 1934 en 1935 is die plaaslike vliegveld gebou, wat na die Tweede Wêreldoorlog by die noordelike stadsbuurt Gatow ingesluit en as Gatow-lughawe naas Berlyn-Tempelhof en Berlyn-Tegel een van die drie lughawens in die hoofstad was, wat gedurende die Berlynse Lugbrug deur geallieerde lugmagte gebruik is.

Huidige karakter en besienswaardighede[wysig]

Kladow is vandag nog steeds 'n dorp in die metropool. 'n Aantal historiese geboue soos die landgoed Neukladow (1800) en die dorpskerk (1818) dateer uit die 17de en 18de eeu. Nogtans is daar ook nuwe woonkwartiere opgerig soos die Finse buurt uit die jare 1959/1960 (Finnenhaussiedlung, 'n woonkwartier wat in 'n tipies Finse boustyl uitgevoer is).

Nadat die Gatow-lughawe gedeeltelik weer by Kladow ingesluit is, is die nuutste bouprojek Landstadt Gatow aangepak. Die inwyding van 'n nuwe winkelsentrum, die Cladow-Center, het tot 'n strawwe mededinger vir winkels in die ou dorspskern ontwikkel.

Vervoer[wysig]

Die Berlynse openbare vervoeronderneming BVG verbind Kladow deur busdienste met die middestede van Spandau, Potsdam en Berlyn. Daar is ook 'n gereelde pontdiens tussen Kladow en die stadsbuurt Wannsee in die suidweste van Berlyn.

Eksterne skakels[wysig]

Commons-logo.svg
Wikimedia Commons het meer media verwant aan:
Kladow (kategorie)