Koorsblaar

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Koorsblaar
Klassifikasie en eksterne bronne
Herpes labialis op die onderlip.
Herpes labialis op die onderlip.
ICD-10 B00.1
ICD-9 054.9
MeSH D006560
Star of life caution.svg Mediese waarskuwing

'n Koorsblaar of herpes labialis is 'n simptoom van infeksie deur die herpesvirus, meestal Tipe 1 oftewel HSV-1.

Kenmerke[wysig]

'n Koorsblaar word deur 'n branderige, tintelende gevoel op of rondom die lippe voorafgegaan. Pynlike blasies volg, wat in enkele dae oorgaan na korsbedekte sweertjies. Genesing van die lipvel duur sewe tot tien dae. Soms gaan 'n koorsblaar gepaard met lusteloosheid of 'n gevoel van ligte vermoeidheid.

Tydens hierdie akute fase is die koorsblaar ook aansteeklik. Deur 'n koorsblaar kan ook soms genitale herpes ontstaan, wat 'n infektering van die genitalieë deur die virus is. Dus is handewas ná aanraking van die sweertjie/blasie noodsaaklik om besmetting te voorkom; daarbenewens moet orale seks ook vermy word.

Oorsaak[wysig]

Die koorsblaar word meestal deur 'n heropflakkerende herpes simpleksvirus Tipe 1 (HSV-1), maar soms ook deur Tipe 2 (HSV-2) veroorsaak.

Die primêre besmetting van die herpesvirus is gingivostomatitis herpeticans. Ná besmetting bly die virus lewenslang agter in die ganglion van Gasser van die nervus trigeminus, die senu wat onder andere die innervasie van die tong en die hele aangesig reguleer — buite die bereik van ons afweerstelsel.

Deur onder andere UV-lig kan 'n sekondêre aanval veroorsaak word, waarby daar op die lip blasies verskyn wat bars en korse vorm.

Voorkoming[wysig]

'n Infeksie deur die herpes simpleksvirus word deur direkte velkontak opgeloop; buite die liggaam kan die virus slegs baie kort oorleef. Die inkubasieperiode bedraag twee dae tot twee weke met 'n gemiddelde van een week. Eenmaal geïnfekteerd sal 'n mens die virus nie meer kwytraak nie en kan 'n mens in periodes van verminderde weerstand van die liggaam onder meer koorsblare ontwikkel.

Vir pasgebore babas kan 'n infeksie lewensgevaarlik wees. Mense wat gereeld 'n koorsblaar kry, moet daarom bedag wees daarop om babas nie te veel te druk en te soen nie omdat die aansteeklike virus al voor die sigbare ontstaan van 'n koorsblaar oorgedra kan word.

Daar is 'n room wat glo koorsblare voorkom deur 'n kombinasie van 'n fisiese UV-filter (sinkoksied en titaandioksied) en 'n sinksout (sinksulfaat). Die fisiese UV-filter beskerm die lippe teen sonlig. Die sinksulfaat omkapsel die herpesvirusselle sodat dié die gesonde selle nie meer kan aantas nie.

Dit is ook moontlik op 'n opkomende koorsblaar teen te gaan deur die plek waar dit opkom met sinksalf in te smeer. Dit bestry nie die virus nie, maar voorkom dat daar 'n blasie ontstaan deur die vog aan daardie gedeelte van die lip te onttrek.

Genesing[wysig]

Antivirusmiddelle in die vorm van nukleoside-analoë soos pensiklovir of asiklovir strem wel die groei van die virus, wat nuttig is by die opkoming van 'n koorsblaar, maar kan die virus nie dood nie. Dit kan net gegee word voordat die infeksie homself manifesteer, en dit is uitermate moeilik om te bepaal.

Die beperk van 'n koorsblaar is heel goed moontlik in 'n vroeë stadium. Wanneer mens 'n blokkie ys in die eerste twee dae 'n aantal keer per dag oor die lip vryf, ontwikkel die koorsblaar nie verder nie. Aansmeer van ontsmettingsalkohol droog die koorsblaar uit, en help dat 'n rofie vinniger gevorm word. Indien asiklovir reg aan die begin van die koorsblaar aangewend word (onmiddelik wanneer die brand of tinteling gewaar word), word die groei en ontwikkeling van die infeksie in die kiem gesmoor. Asiklovir werk op die DNA vlak van die virus - dit inhibeer en inaktiveer die virus se DNA polimerase, en word deel van die virus se DNA ketting. Dit beveg nie die infeksie wat reeds bestaan nie, maar dit keer wel dat dit verder groei - vandaar die vereiste dat dit so vroeg moontlik aangewend word. Normaalweg word asiklovir as room aangesmeer, maar famsiklovir of valasiklovir in pilvorm kan normaalweg vir 5 - 7 dae geneem word. 'n Hoë-dosis eendagbehandeling daarmee is beskikbaar, en meer koste-effektief en gerieflik.

Dit is heel moontlik dat die simptome van die virus (m.a.w. die koorsblaar) ná puberteit nie meer voorkom nie. Die virus bly egter wel in die liggaam aanwesig.