Rompslomp

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Onnodige administratiewe papierwerk is seker die beste voorbeeld van rompslomp

Rompslomp verwys na die rigiede, omslagtige en vertragende handeling en hantering van 'n saak of proses wat volgens die roetine gedoen moet word, wat andersins bespoedig sou wees. Hierdie handeling word bepaal deur die burokrasie en moet nougeset nagekom word. Dit kan ook verwys na die oordrewe verkleefdheid aan formaliteite en regulasies deur die amptenary.

Omrede tyd geld werd is, kan rompslomp onproduktiwiteit meebring, 'n demper op inisiatief plaas, werkstyd inboet en ekonomiese vooruitgang kniehalter. Toesmeerdery kan ook makliker plaasvind deur die hoeveelheid tyd wat so verlore gaan.

Enkele voorbeelde sluit in:

  • Geskrewe papierwerk of briefwisseling wat in detail 'n eenvoudige saak of besluit moet uitpluis (bv. vervoerreëlings en (siekte)verlof).
  • Hoogdrawende en omslagtige kantoorjargon wat die leser of aanhoorder vervreem en verwar.
  • 'n Probleem of idee wat eers na 'n gesentraliseerde besluitnemingsgesag gestuur moet word.
  • 'n Dringende saak bedoel vir die topbestuur wat eers deur die middelbestuur hanteer moet word.
  • Dissiplinêre stappe wat tydsaam hanteer word.
  • Uitgerekte verpligte vergaderings.
  • Klante wat moet wag omdat die werknemers hul burokraties-vasgestelde teetyd nuttig.
  • Klante wat van bakboord na stuurboord gestuur word (soos deur onderskeie departemente).
  • Die gebruik van 'n middelman, pleks van regstreekse kommunikasie, tussen twee partye.
  • Kommunikasie wat deur geskrewe posstukke of e-posse, eerder as direkte telefoonoproepe of ontmoetings, moet geskied.
  • Individuele werk wat in groepsverband gedoen moet word.
  • Verpligte deelname aan spanbousessies, diversiteitsklasse en ander inligtingsessies (soos mediese ondersoeke, stresbestuur, gewigsbeheer, rook, alkoholisme, werksveiligheid en gesonde lewenstyle).

Moontlike ideale:

  • Beperk papierwerk.
  • Gebruik eenvoudige taal en vrae.
  • Indien nodig, wis onnodige hiërargiese strukture uit.
  • Beperk vergaderings tot die absolute minimum en moenie sake laat oorstaan nie.
  • Som inligtingsessies kort en bondig op in 'n omsendbrief.
  • Indien dit kan, laat werkers mekaar aflos eerder as om volgens vaste ure te werk wat die klante of kliënte sal ontwrig.
  • Gee werkers die vrymoedigheid om direkte kontak te maak met die bestuur.
  • Maak gebruik van kostedoeltreffende tegnologie eerder as duur handmatige prosedures.
  • Kweek 'n kostebesparende kultuur onder werkers wat tyd en geld betref.