Bennie Fourie
Bennie Fourie | |
Bennie Fourie
| |
Geboorte | 3 Augustus 1988 Pretoria |
---|---|
Nasionaliteit | Suid-Afrika |
Beroep(e) | Akteur, regisseur, draaiboekskrywer |
Rolprente | Vir die voëls, Vuil wasgoed, Sy klink soos lente, Mooirivier, Die Pro |
Internet-rolprentdatabasis-profiel |
Bennie Fourie (3 Augustus 1988) is ’n Suid-Afrikaanse akteur, skrywer en regisseur wat hom veral op komedie toespits.
Herkoms
[wysig | wysig bron]Fourie is die seun van wyle ds. B.C.G. (Ben) Fourie (2 Mei 1961 – 1 Junie 2020) en Susan (née Aucamp). Sy pa was van 1986 tot sy dood in die amp predikant van die Gereformeerde kerk Kameeldrift, Pretoria, sy enigste gemeente. Ds. Fourie was ’n neef van wyle ds. Gert Bester, wie se vrou, Anita, ds. Fourie se ma, Elizabeth (Sussie), se suster is. Bennie Fourie se ma, Susan, is 'n suster van ds. Cassie Aucamp, predikant van die Gereformeerde Kerk Andeon, ook in Pretoria. Sy broer, Reynold, was predikant van Boksburg-Suid van 2009 tot 2011 en is sedertdien medeleraar van Bellville-Oos.
Loopbaan
[wysig | wysig bron]Fourie was jare lank deel van die improvisasiegroep Lagnes en het in 2015 die rol van Hermann in die eerste Afrikaanse branderplankry-rolprent, Die Pro, vertolk. In 2016 was hy te sien in Huisgenoot se eeufeesfliek, Vir die voëls, en Sy klink soos lente, ’n romantiese komedie. Hoewel hy lief is vir komedie, was sy eerste rol besonder uitdagend. Hy het Henry, ’n kwadropleeg, in Born to win (2014) gespeel. Bennie was ook deel van die ensemble-film Mooirivier, waarin hy teenoor Bouwer Bosch as ’n lighartige student met die naam Spys gespeel het.
Die rol waarop hy die trotsste is, is die hoofkarakter Kevin, ’n onseker werknemer by ’n wassery, in die galge-komedie Vuil Wasgoed. Hy was ook by dié kortprent betrokke as skrywer en regisseur. Dit het die prys vir beste kortprent op kykNET se Silwerskermfees in 2014 gewen. Bennie het daarna die draaiboek aangepas vir ’n vollengtefilm, wat in 2017 uitgereik is.
Hy is ook betrokke by die Afrikaanse kammadokkie-komedie, Hotel, saam met sy vriend Stiaan Smith. Hy was medeskrywer van Sterlopers saam met Deon Opperman en Tina Kruger. Bennie het ook as assistent-regisseur aan Mooirivier, Born to Win en Beurtkrag gewerk.
Bronne
[wysig | wysig bron]- (af) Bennie Fourie, The Film Factory. URL besoek op 19 Desember 2017.
- (en) Bennie Fourie op IMDb. URL besoek op 19 Desember 2017.