Blauer Portugieser
Hierdie artikel is 'n weesbladsy. Dit is nie geskakel of in ander bladsye ingesluit nie. Help Wikipedia deur na moontlike teks te soek en 'n skakel hierheen te plaas. |
Blauer Portugieser is 'n rooi druiwesoort wat sy oorsprong in die Donaugebied het en tans veral in wynboustreke soos Rynhesse en Palts in Duitsland en in Neder-Oostenryk verbou word, maar ook in Suidoos-Europa voorkom. Dit is daarnaas ook een van die kultivars wat vir Hongaarse Egri Bikavér of "Bullebloed"-wyn gebruik mag word.
Wynkelders gebruik die kultivar om ligte rooi of ligrooskleurige roséwyne (soos Portugieser Weißherbst) te kelder. Sedert 2000 word van die kultivar ook rooiwyn van hoë gehalte gekelder waarvan sommige soorte enkele maande in eikehoutvate (barriques) deurbring en op die wynmark met Franse Bordeaux-wyne meeding. Wynkelders in Rynhesse gebruik die kultivar sowel vir ligte somerwyne asook vir hul Selectionsweine (premiumwyne).
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Volgens historiese oorlewerings het die kultivar sy oorsprong in die Portugese stad Porto (vandaar sy Duitse benaming as "Blou Portugees"). In 1772 is dit vir die eerste keer deur Johann von Fries in Bad Vöslau in Oostenryk op sy wyngoed verbou. Die kultivar is van daar na Rynhesse en Palts in Duitsland versprei.
Die kultivar is in Portugal egter onbekend. Vanweë sy verspreiding oor die hele Donaugebied neem wynnavorsers aan dat dit in werklikheid sy oorsprong in dié streek het, moontlik in Oostenryk.