Canal Saint-Martin

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
Hôtel du Nord
Gedurende die somermaande geniet Parysenaars hul aandete of 'n drankie langs die rustige kanaal
Moderne toeriste- en veerbote - soos hierdie batobus - vervoer passasiers deur sommige van Parys se minder bekende buurte
Parysenaars geniet die warm Aprilson
Die herfson skyn sag oor die voetgangerbrug Passerelle Bichat

Die Canal Saint-Martin is 'n kanaal in die ooste van die Franse hoofstad Parys wat die Canal de l'Ourcq met die Seine-rivier verbind. Meer as die helfte van sy totale lengte - 2 069 van altesaam 4 600 meter tussen die Rue du Faubourg du Temple en die plein Place de la Bastille - is in die middel van die 19de eeu oordek om breër boulevards en openbare ruimtes aan die oppervlak te skep. Terwyl die kanaal sy oorspronklike funksies as watertoevoer en waterweg vir goederevervoer lankal ingeboet het, is die rustige, boomomsoomde promenades langs sy oewers net soos sy sluise en romantiese brûe tans gewild by Parysenaars en besoekers - net soos bootvaarte.

Kastaiingbome en pleine met eetplekke langs die kanaaloewers, geleë in die Paryse ooste se historiese werkersklasbuurte, skep 'n aantreklike atmosfeer wat as inspirasie vir misdaadskrywers soos Georges Simenon en Léo Malet en die filmregisseur Marcel Carné gedien het. Carné se rolprentdrama Hôtel du Nord van 1938 speel in die gelyknamige hotel langs die kanaal af. In 2001 is tonele vir Le Fabuleux Destin d'Amélie Poulain, Jean-Pierre Jeunet se romantiese komedie waarin Audrey Tatou die hoofrol vertolk het, langs die Canal Saint-Martin verfilm.