Coco Chanel

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Coco Chanel

Gabriella (Coco) Chanel is op 19 Augustus 1883 in die Franse dorpie Saumur, Maine-et-Loire, buite die eg gebore. Na haar ma se dood en pa se daaropvolgende verlating, is sy eers deur twee tantes in Auvergne en daarna deur nonne in die Aubazine weeshuis groot gemaak. Sy het haar eerste betrekking, dié van naaldwerkster, gelos om 'n beroep as nagklubsangeres te probeer.

In daardie tyd het sy die minnares van Etienne Balsan, 'n miljoenêrkavallerie-offisier geword en hy het haar eerste hoedwinkel in 1909 gefinansier. Haar volgende minnaar, Balsan se vriend, Arthur Capel, het haar uitbreiding van hoede tot klere in plekke soos Parys, Deauville en Biarritz gefinansier.

Coco se eerste bekendheid het sy tydens die Eerste Wêreldoorlog verwerf toe sy werksklere ontwerp het, gebaseer op haar eie eenvoudige klere, vir die vroue wat die mans wat veg, se werk oorgeneem het. Sy het hobbelrokke vervang met reguit rokke, mansoortrektruie, matroosbaadjies en eenvoudige truistofrokke. Die meeste vroue het haar nuwe styl verwelkom en teen die middel-twintigerjare was die Chanel-voorkoms die norm.

Deur die volgende paar dekades het haar bekendheid toegeneem en het sy bekend geword vir 'n verskeidenheid nuwe style, waaronder kort haarstyle, Sigeunerrompe, kostuumjuweliersware, blink aanddrag, kort swart rokkies, oophakskoene en kwilthandsakke. Sy het verder gegaan en die eerste ontwerperparfuum, Chanel No 5, bekend gestel en dit het haar suksesvolste produk geword.

In 1939, toe Frankryk oorlog op Duitsland verklaar het, het sy haar modehuis gesluit en in 1945 is sy na Switserland verban oor haar verhouding met die Nazi-offisier, Hans Gunther von Dincklage. Sy het eers in 1953 weer oopgemaak, toe sy haar gedistilleerde Chanel-voorkoms weer bekend gestel het in eenvoudige, gemaklike vorms van sagte tweeds en gedra saam met kostuumjuweliersware. Haar nuwe pakkies was dadelik gewild by die Amerikaners en teen 1959 was haar bekende Chanel-pakkies 'n 'noodsaaklikheid' vir elke welgeklede vrou.

Sy het aangehou werk en was besig met voorbereidings vir haar 1971-versameling toe sy skielik, op die ouderdom van 87, in haar privaatkwartiere in die Ritz Hotel in Parys op 10 Januarie 1971 oorlede is.

Belangrikste prestasies[wysig]

'n Ritz-hotel weerspieël in die vertoonvenster van 'n Chanel-winkel

Gabrielle 'Coco' Chanel, elegante Franse mode-ontwerpster wat die duidelike grense tussen manlike en vroulike kleredrag verwyder het, het 'n klein modewinkeltjie omskep in een van die mees winsgewende moderyke van alle tye en het een van die twintigste eeu se mees invloedryke modetoonaangewers geword. Alhoewel sy nie haarself as 'n feminis wou beskryf nie, het sy 'n moderevolusie begin wat vrouens bevry het van korsette en wat eenvoud en gemak elegant gemaak het.

Sy het praktiese klere soos broeke vir vroue, matroosbaadjies, oortrektruie, sportklere en laehakskoene populêr gemaak en het 'n omwenteling teweeg gebring in die tekstielnywerheid deur die eerste ontwerpster te wees wat woltruie in vrouedrag gebruik. Sy het ook haar eie toebehorelyn begin wat kostuumjuweliersware aanvaarbaar gemaak het. Haar suksesvolste produk was egter nie klere nie, maar haar bekende Chanel No 5 parfuum, die wêreld se eerste ontwerpergeur wat in 1923 bekendgestel is.

Alhoewel sy in 1971 oorlede is, bestaan haar ryk, die House of Chanel, wat ten tyde van haar dood meer as 160 miljoen dollar per jaar verdien het, steeds voort en sal die modewêreld vir nog baie jare daardeur beïnvloed word.