Hydro-Québec

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Die Hydro-Québec-gebou in Montréal
Windkragsentrale in Gaspésie
Die waterkragsentrale LG1 maak deel uit van die Jamesbaai-projek

Hydro-Québec is 'n staatsbeheerde maatskappy, wat die provinsie van Quebec (Kanada) van elektrisiteit voorsien. Soos die naam al aandui, word krag in Québec veral deur hidroëlektriese kragsentrales opgewek.

Hydro-Québec is oorspronklik op 14 April 1944 deur die Eerste Minister Adélard Godbout gestig, toe 'n aantal elektrisiteitsvoorsieningsmaatskappye in die omgewing van Montréal gedeeltelik genasionaliseer is. Die huidige naam is eintlik 'n afkorting van die volledige naam van die maatskappy (Hidroëlektriese Kommissie van Quebec). Télesphore-Damien Bouchard het die eerste voorsitter van Hydro-Québec geword.

Maurice Duplessis, wat later in die jaar 1944 nog eens Eerste Minister sou word, het geweier om met die nasionalisering van elektrisiteitsmaatskappye voort te gaan.

Tydens Québec se "Stille Rewolusie" is uiteindelik ook die oorblywende veertien privaat beheerde maatskappye deur die staat oorgeneem, en Hydro-Québec is tot sy huidige vorm uitgebrei.

Vanaf 1965 was Hydro-Québec die eerste maatskappy wat kraglyne van 735 kV gebruik het om elektrisiteit oor groot afstande te kan versprei. Hierdie lyne maak tans 'n derde van Quebec se lyne uit. In die tydperk tussen 1966 en 1983 het Hydro-Québec die Gentilly-kernkragsentrale in Bécancour opgerig - die enigste kernaanleg in die provinsie.

Die Eerste Minister Robert Bourassa (Liberale Party) het in die sewentigerjare die aanleiding gegee vir die oprigting van die Jamesbaai-projek, wat Quebec nou van 'n aansienlike persentasie van sy kragbehoeftes voorsien.

Op 13 Maart 1989 het geomagnetiese storms, wat deur die son veroorsaak is, tot 'n grootskaalse kragonderbreking gelei. Die elektrisiteitsvoorsiening is na sowat nege ure se werk herstel.

In Januarie 1998 is die kraglyne van Quebec tydens 'n erge ysreën beskadig. Dele van die Montrealeiland kon tot ses dae lank nie van elektrisiteit voorsien word nie, terwyl die kragonderbreking in ander gebiede van die provinsie drie weke lank voortgegaan het.


Eksterne skakels[wysig]

Commons-logo.svg
Wikimedia Commons het meer media verwant aan:
Hydro-Québec (kategorie)