Ian Scheckter

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek

Ian Scheckter (gebore 22 Augustus, 1947- ) is 'n voormalige renjaer en het onder andere tussen 1974 en 1977 aan die Formule Een wêreldkampioenskap deelgeneem. Hy is gebore te Oos-Londen in Suid-Afrika.

Hy het sy debuut in Formule Een gemaak by die Suid-Afrikaanse Grand Prix op 30 Maart 1974. Hy kon gedurende sy Formule Een loopbaan van twintig wedrenne geen bestuurderskampioenskappunte aanteken nie en die beste posisie waarmee hy kon eindig was 'n tiende plek. Hy het sy Formule Een loopbaan begin as 'n lid van die Gunston span. Hy het in 1975 vir Williams aan die Sweedse en Hollandse Grand Prixs deelgeneem.

In 1977 het hy vir die Team Rothmans International span in 'n March gery en was hy vir die hele seisoen ingeskryf. Ian Scheckter se finale Grand Prix sou die 1977 Japanse Grand Prix wees, maar 'n probleem in sy paspoort het hom verhoed om Japan binne te gaan.

Na sy Formule Een loopbaan het hy terug gekeer na Suid-Afrika en hy het die plaaslike Formula Atlantic reeks vir 'n paar seisoene gedomineer. Hy was die Formula Atlantic kampioen vanaf 1976 tot 1979 en weer in 1983 en 1984.

Ian Scheckter is die ouer broer van die 1979 Formule Een wêreldkampion Jody Scheckter en die oom van die Indy Racing League renjaer Thomas Scheckter.