Jody Scheckter

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Jody Scheckter

Jody David Scheckter (29 Januarie, 1950- ) is 'n voormalige renjaer en die Formule Een wêreldkampioen van 1979. Hy is gebore te Oos-Londen in Suid-Afrika.

Scheckter het vinnig opgang gemaak in Formule Een nadat hy na Brittanje toe verhuis het in 1970. Hy het sy debuut in Formule Een gemaak by Watkins Glen in 1972 in 'n McLaren en op 'n stadium die derde plek beklee voordat hy beheer verloor het en gespin het om sodoende in die 9de plek te eindig. Hy het in die daaropvolgende jaar gewys dat hy 'n naam sou wees om dop te hou deur die Formula 5000 kampioenskap te wen en het ook in 5 keer aan F1 wedrenne deelgeneem. In Frankryk het hy byna gewen na sy derde deelname aan 'n F1 wedren, maar ongelukkig het hy toe in 'n botsing met Emerson Fittipaldi betrokke geraak. In sy daaropvolgende wedren was die aggressiewe Scheckter betrokke in 'n groot ongeluk waarin byna 'n dosyn motors uit die wedren is, 'n insident wat kenmerkend was van sy vroeë loopbaan.

Jody Scheckter, Tyrrell P34, 1976

Tyrrell het desnieteenstaande nie geskroom om die ratse jongeling aan te stel nie en is hy in 1974 vir die eerste keer as 'n voltydse jaer aangestel in F1. Jody het hulle daarvoor met 'n derde plek in die renjaerkampioenskap beloon asook met wedrenoorwinnings in Swede en Brittanje. Hy het in daardie jaar in 8 opeenvolgende wedrenne punte aangeteken wat op daardie tydstip een van die mees konsekwente vertonings was. Tydens die seisoen het Tyrrell ook die mees radikale motorontwerp ooit in F1 bekend gestel, naamlik die seswiel Tyrrell P34. Scheckter het die seswiel sy enigste wen besorg op Swede se Anderstorp baan en in sy 12 wedrenne het hy 10 keer met die motor punte aangeteken.

Scheckter het toe in 1977 geskuif na Walter Wolf se nuwe span en vir die span 'n oorwinning in hul eerste wedren besorg. Hy het daarna twee verdere oorwinnings vir die span behaal en het gereeld op die podium geëindig maar uiteindelik tweede in die puntestand geëindig na die meer dominante Niki Lauda.

In 1978 het hy 'n sewende plek behaal en hy het die span toe verlaat om by Ferrari aan te sluit. Hy het daardie jaar alle verwagtinge oortref en vir F1 se mees herkenbare span 'n vervaardigerstrofee besorg terwyl hy self deur konsekwente vertonings deur die jaar, waaronder 3 oorwinnings getel het, die renjaerskampioenskap gewen het. Hy het egter in 1980 baie gesukkel om sy titel te verdedig en het selfs misluk in 'n poging om vir een van die wedrenne te kwalifiseer. Na hy slegs 2 punte kon aanteken het Scheckter besluit om uit te tree.

Scheckter was dus die laaste kampioenjaer vir Ferrari tot Michael Schumacher dit 21 jaar later weer vir Ferrari verower het. Na Scheckter se uittrede het hy 'n maatskappy gestig wat opleidings-simulators vervaardig het. Hy het daarna heelwat aandag aan sy seuns Tomas en Toby se wedrenloopbane bestee. Tomas jaag in die Indy Racing League en het die voorste wegspringposisie in die 2003 Indianapolis 500 wedren beklee. Jody se broer Ian Scheckter het ook vir 'n paar jaar lank aan F1 deelgeneem.