Keats House

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek

Keats House.jpg

Keats House

in Keats Grove, Hampstead, Londen

Engeland
Vlag van Verenigde Koninkryk Verenigde Koninkryk



Opgerig

1814-1816


Boustyl

Regency


Restourasie

November 2007 tot Julie 2009


Opening as museum

9 Mei 1925


Webtuiste
Keats House

Keats House is 'n museum wat in die Engelse Romantiese digter John Keats se Noord-Londense woning in Hampstead ingerig is. Die gebou het as halfvrystaande woning oorspronklik deel uitgemaak van 'n dubbelhuis, Wentworth Place, wat in twee huisies met 'n gemeenskaplike tuin opgesplits is.

John Keats het sy gedeelte tussen Desember 1818 en September 1820 saam met sy vriend Charles Brown bewoon. Die ander helfte is deur Fanny Brawne en haar gesin bewoon. Keats het op Fanny verlief en later ook aan haar verloof geraak, en hierdie liefdesverhouding het enkele gedigte geïnspireer. Die tyd, wat Keats in Hampstead deurgebring het, word dikwels as die digter se produktiefste jare beskryf. So is Keats House steeds 'n huldeblyk aan die lewensvreugde wat Keats hier in 'n rustige landelike omgewing ervaar het en waar hy die inspirasie vir gedigte soos Ode to a Nightingale gevind het. Die Ode het volgens oorlewering onder 'n pruimboom in die tuin ontstaan.

Tuberkulose het reeds 'n skadu oor Keats se lewe gewerp toe hy in sy woning in Hampstead ingetrek het, en nadat sy toestand gaandeweg versleg het, is hy aangeraai om na 'n warmer klimaat te verhuis wat die simptome kon verlig. In 1820 het Keats na Italië gereis en is daar in die volgende jaar ongetroud in die ouderdom van 25 oorlede. Fanny Brawne het haar verlowingsring tot en met haar dood gedra, en dit maak tans deel uit van die versameling wat ter nagedagtenis aan die groot digter in Keats House vertoon word, saam met sy manuskripte en boeke met persoonlike notas, asook briewe wat hy aan sy vriende, waaronder Percy Bysshe Shelley, geskryf of van hulle ontvang het.

Keats House het sy deure op 9 Mei 1925 as museum vir die publiek geopen en word, net soos Hampstead Heath, deur die City of London Corporation bestuur.[1]

Verwysings[wysig]

  1. City of London (red.): The City of London Corporation. Londen: Public Relations Office 2013