Poort van die Hemelse Vrede

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Die Poort van die Hemelse Vrede.
Die Poort van die Hemelse Vrede des nags.
Tiananmen stuur hierheen aan. Vir die plein, sien Plein van die Hemelse Vrede.

Die Poort van die Hemelse Vrede (die Tiananmen of Tian'anmen) is 'n beroemde monument in Beijing, die hoofstad van die Volksrepubliek van Sjina. Dit word wyd as 'n nasionale simbool gebruik. Dit is die eerste in die Ming-dinastie in 1420 gebou en word soms inkorrek na verwys as die vooringang tot die Verbode Stad. Die Meridiaanpoort (午门) is egter die vooringang tot die Verbode Stad, terwyl die Tiananmen die ingang tot die Keiserlike Stad was, waarbinne die Verbode Stad geleë was. Die Poort van die Hemelse Vrede is ten noorde van die Plein van die Hemelse Vrede (Tiananmen-plein) geleë, oorkant die straat wat aan die plein teen Tsjang'an-laan geleë is.

Poort[wysig]

Geskiedenis[wysig]

Tiananmen in 1901.
Tiananmen met toeriste op die plein.

Die poort is oorspronklik Tsjengtianmen (vereenvoudigde Sjinees: 承天门, tradisionele Sjinees: 承天門, pinyin: Chéngtiānmén), wat "Poort van die Aanvaarding van die Hemelse Mandaat" beteken, genoem, en is menige male vernietig en weer opgebou. Die oorspronklike gebou is die eerste in 1420 gekonstrueer en is op die poort van 'n keiserlike gebou in Nanjing gebaseer wat dieselfde naam gehad het, vandaar die oorerwing van die naam Tsjengtianmen. In Julie 1457 tref weerlig die poort, waarna dit tot die grond afbrand. 1465 gee Keiser Tsjenghua opdrag aan Zi Gui (自圭), Minister van Ingenieurswese, om die poort weer op te bou, en die ontwerp is verander van die oorspronklike paifang-vorm tot die poorthuis soos dit vandag daar uitsien. In die oorlog aan die einde van die Ming-dinastie bly die poort weer in die slag toe dit in 1644 deur rebelle, gelei deur Li Zitsjeng, afgebrand is. Na die vestiging van die Qing-dinastie en die Manchu-verowering van Eintlike Sjina is in 1645 aan die heropbou van die poort begin, en met die afhandeling van konstruksie ses jaar later in 1651 is die poort sy huidige naam gegee. Die Tiananmen-poort is tussen 1969 en 1970 weer eens herkonstrueer omdat dit in die afgelope 300 jaar geweldig agteruitgegaan het, deels te wyte aan hewige gebruik tydens die 1950's-1960's. Aangesien die poort 'n nasionale simbool was, het die destydse premier Zhou Enlai opdrag gegee dat die herkonstruksie in geheim moes plaasvind. Die ganse poort is agter steierwerk weggesteek, en die projek is amptelik 'n "opknapping" genoem. Die herkonstruksie het gepoog om die poort se uitwendige voorkoms onveranderd te laat, terwyl dit die gebou meer weerstandig teen aardbewings moes maak en dit van moderne fasiliteite soos 'n hysbak, watertoevoer en 'n verhittingstelsel moes voorsien.[1]

Betekenis van die naam[wysig]

Die Sjinese naam van die poort, 天安門 (pinyin: Tiānānmén, uitspraak: [tʰjɛ́nánmə̌n]) bestaan uit die Sjinese karakters vir "hemel", "vrede" en "poort" respektiewelik, en daarom word dit konvensioneel as "Poort van die Hemelse Vrede" vertaal. Hierdie vertaling is egter ietwat misleidend, aangesien die Sjinese naam van die veel langer frase "die ontvangs van die hemelse mandaat, en die stabilisering van die dinastie" (受命于天,安邦治國) afgelei is.[2] Die Manchu-transliterasie Abkai elhe obure duka lê nader aan die oorspronklike betekenis van die poortsnaam en kan letterlik vertaal word as "Poort van Hemelse Vredemaking".[3] Die poort het 'n eweknie aan die noordelike kant van die Keiserlike Stad, 地安门 (pinyin: Dì'ānmén, Manchu: Na i elhe obure duka) wat rofweg as "Poort van Aardse Vredemaking" vertaal kan word.

Beskrywing[wysig]

Nabyskoot van die dak.
Steenpilaar (huabiao) met afbeelding van drake en fenikse versier die omgewing van die Tiananmen-poort.

Die gebou is 66 m lank, 37 m wyd en 32 m hoog. Net soos ander amptelike geboue van die ryk het hierdie poort unieke keiserlike dakversierings.

Twee leeus staan voor die poort en nog twee staan wag voor die brûe. In Sjinese kultuur beskerm leeus mense van bose geeste.

Twee steenpilare, wat as huabiao (华表) bekend staan, het elk 'n dier (hou) bo-op en staan voor die poort. Oorspronklik was die doel van sulke installasies om die gepeupel toe te laat om hul griewe te rig deur petisies te skryf en dit op die pilare te plak. Die pilare voor die Keiserlike Stad was egter bloot vir sier en het eerder ten doel gehad om die majesteit van die keiserlike regering te simboliseer.

Die westelike en oostelike mure het groot plakkate: die linker een lees "Lank leef die Volksrepubliek van Sjina" (Sjinees: 中华人民共和国万岁, pinyin: Zhōnghuá rénmín gònghéguó wànsuì) terwyl die regter een "Lank leef die groot eendrag van die wêreld se volke" (Sjinees: 世界人民大团结万岁, pinyin: Shìjiè rénmín dà tuánjié wànsuì) lees. Beide plakkate, wat eens in tradisionele Sjinese karakters geskryf is, is in 1964 na vereenvoudigde Sjinese karakters verander. Die frasering het belangrike simboliese waarde, aangesien die frase vir "lank leef" (tien duisend jaar in Sjinees), nes die paleis self, tradisioneel vir die Keisers van Sjina gereserveer is, maar wat vandag ook aan die gepeupel beskikbaar is.

Die paradepawiljoen in die voorgrond word op Internasionale Arbeidersdag (1 Mei) en op die Nasionale Dag van die Volksrepubliek van Sjina (1 Oktober) gebruik.

Voor die pawiljoen is die paleis se grag wat steeds met water gevul is, maar wat vandag dekoratiewe beligte fonteine bevat.

In antieke tye was die Tiananmen onder die belangrikste poorte, tesame met Tsjianmen en die Poort van Sjina, wat teëgekom is wanneer 'n persoon Beijing se Keiserlike Stad betree het. Verder voor is die volgende poort die "Regop Poort", wat identies in ontwerp is aan Tiananmen. Daaragter is die suidelike ingang van die Verbode Stad, wat as die Meridiaanpoort bekend staan.

As nasionale simbool[wysig]

Portret[wysig]

Portret van Mao Zedong by die Tiananmen-poort.

Geskiedenis[wysig]

Aangesien die poort voor die Keiserlike Stad geleë is, en weens die geskiedkundige gebeurtenisse wat op Tiananmen-plein afgespeel het, is die poort polities geweldig noemenswaardig. Tydens die Kuomintang-regering is in 1925 'n groot portret van Sun Yat-sen na sy dood op die poort gehang. In 1945 is Tsjiang Kai-sjek se portret gehang.[4]

Op 7 Julie 1949 is die portrette van Zhu De en Mao Zedon opgehang om die Tweede Sjinees-Japannese Oorlog te herdenk.[5] Sedert 1 Oktober 1949, die vestigingsdatum van die Volksrepubliek, is 'n portret van Mao Zedong daar opgehang. Elke jaar word die portret voor 1 Oktober vervang.[6] In uitgesonderde gevalle is die portret van iemand anders opgehang; op 9 Maart 1953 is byvoorbeeld 'n portret van Josef Stalin opgehang weens sy afsterfte.[5]

In 2011 stel Alexander Pann Han-tang (潘漢唐), voorsitter van die Asië-Pasifies Taiwan-federasie van Industrie en Handel (亞太台商聯合總會) en goeie vriend van president Ma Ying-jeou, voor dat die portret van Sun Yat-sen opgehang moes word vir die 100ste herdenking van die stigting van die Republiek van Sjina.[7] Volgens die Kommunistiese Party van Sjina bestaan die Republiek van Sjina sedert 1949 reeds nie meer nie.[7]

Insidente[wysig]

Die portret weeg 1.5 ton en word gewoonlik vervang wanneer dit gevandaliseer word.[8] In 1989 val drie andersdenkendes, insluitende Yu Dongyue, die portret met eiers aan. Laasgenoemde is tronk toe gestuur en is in 2006 na 17 jaar eers vrygestel.[6] Op 12 Mei 2007 slaan die portret van Mao aan die brand. 'n 35-jarige werklose man van Urumqi is in verband met die insident in hegtenis geneem. Omtrent 15% van die portret is beskadig en moes herstel word.[9] Op 5 April 2010 gooi 'n betoger 'n plastiekbottel gevul met ink teen 'n muur naby die portret. Hy is gevolglik in hegtenis geneem.[6]

Openbare toegang[wysig]

Tiananmen is daagliks van 8:30 tot 17:00 oop vir besoek van die publiek. Toegang is 15 yuan (R20 in 2012) per volwassene en 5 yuan (R6.50 in 2012) vir studente en seniorburgers ouer as 70. Militêre personeel in aktiewe diens ontvang gratis toegang.[10]

Lyn 1 van die Beijing Ondergronds het haltes by Tiananmen-wesstasie en Tiananmen-oosstasie, weerskante van die Tiananmen-poort.

Stadsbusse 1, 2, 4, 5, 10, 20, 22, 37, 37区, 52, 59, 82, 90, 99, 120, 125, 126, 203, 205, 210, 728 en 802 stop naby Tiananmen.

Verwysings[wysig]

  1. Xinhua-nuusagentskap, Secret reconstruction of Tiananmen 35 years ago, 04/21/05
  2. Lu Bingjie, Tian'anmen (Jinan: Shandong huabao chubanshe, 2004) p. 40.
  3. Cf. Erich Hauer. "Why the Sinologue Should Study Manchu." Journal of the North-China Branch of the Royal Asiatic Society 61 (1930): 156-64.
  4. New York Times. "NYtimes.com." Chameleon Mao, the face of Tiananmen square. Besoek op 2011-04-11.
  5. 5,0 5,1 中國評論新聞:20世紀以來 天安門掛過哪些人的畫像?”. Chinareviewnews.com. URL besoek op 2011-04-12.
  6. 6,0 6,1 6,2 Lone protestor hurls ink at Mao portrait in Beijing”. Monsters and Critics: 2010-04-08. URL besoek op 2011-04-12.
  7. 7,0 7,1 [Replacing Chairman Mao with Sun Yat-sen. Call for reassessment of Sun Yat-sen from 'pioneer' to 'father of the nation' . South China morning post. 29 March 2011.]
  8. Foster, Peter. Chinese protestor throws ink at portrait of Chairman Mao. The Daily Telegraph. 8 April 2010.
  9. 2007年05月13日 - 中國‧天安門廣場城樓遭縱火 毛澤東畫像部份燒焦 - 國際 - 星洲日報”. Sinchew.com.my: 2007-05-13. URL besoek op 2011-04-12.
  10. "参观天安门城楼时刻表及门票价格和乘车路线" (zh) Besoek op 2012-02-06.

Sien ook[wysig]