Sewsunker "Papwa" Sewgolum

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek

Sewsunker "Papwa" Sewgolum (1930-1978) was 'n legendariese Suid-Afrikaanse gholfspeler wat bekendheid verwerf het toe hy die eerste swart gholfspeler is wat 'n provinsiale ope toernooi in Suid-Afrika gewen het. Hy het 'n simbool van sportboikotbewegings geword toe foto's waar hy die trofee buite in die reën moes ontvang, as gevolg van Apartheidwetgewing, van hom regoor die wêreld gepubliseer is. Sewgolum is as gevolg van sy ras nie toegelaat om die klubhuis binne te gaan nie.

Vroeë lewe[wysig]

Sewgolum was die seun van arm plaaswerkers. Hy is met Suminthra getroud en hulle het 'n seun, Rajen, gehad.

Loopbaan[wysig]

Sewgolum, is deur die Duitssprekende Graham Wulff van Howick "ontdek". Die welgestelde Wulff se rykdom was toe te skryf aan die uitvinding van 'n velsorgroom wat hy Oil of Olay gedoop het [1]. Nadat Wulf 'n swak hou speel nadat Sewgolum hom as gholfjoggie geadviseer het oor watter gholfstok om te gebruik, daag Wulf hom uit om die hou te speel. Sewgolum se naderhou land binne 'n halwe meter van die putjie en Wulfe is so beindruk dat hy hom in 1959 oorsee stuur om aan die Britse Ope deel te neem.

Sewgolum, die voormalige gholfjoggie met 'n verkeerdomgreep (linkerhand onder sy regterhand) veroorsaak in 1963 'n opskudding toe hy teen 103 wit gholfspelers, wat Harold Henning ingesluit het, wen in die provinsiale Natal Ope toernooi by die Durban Buiteklub. In 1965 verslaan hy Gary Player om die titel vir 'n tweede keer te wen. Hy het ook die Nederlandse Ope in 1959, 1960 en 1964 gewen. Hy was ook die wenner van 'n aantal nie-blanke gholfkampioenskappe in Suid-Afrika. In terme van 'n beleid om nie verslag te doen oor veelrassige sport nie het die SAUK het geweier om kommentaar uit te saai oor toernooie waaraan Sewgolum deelgeneem het. In 1966 verban die Suid-Afrikaanse regering Sewgolum van deelname aan alle plaaslike toernooie. In 1966 weier die Ministerie van Beplanning byvoorbeeld Sewgolum 'n permit om in die Westelike Provinsie Ope deel te neem, gegrond daarop dat permitte in die toekoms net aan "nie-Blankes" gegee sal word vir toernooie waaraan hulle voorheen deelgeneem het..[2] Sy paspoort word ook teruggetrek wat daarvan verhoed om oorsee gholf te speel. Dit bring mee dat hy slegs in amateurtoernooie vir swart spelers kan deelneem wat in effek 'n treurige einde tot sy professionele loopbaan meebring.[3] [4]

Eerbewyse en toekennings[wysig]

  • Sewgolum het in 2003 postuum 'n prestasietoekenning van President Thabo Mbeki ontvang.
  • Durban het 'n gholfbaan na hom vernoem. Die Papwa Sewgolum Municipal Golf Course is 'n 18 putjie baan in die Reservoir Hills woonbuurt.

Verwysings[wysig]

  1. Sunday Tribune, Life of a golfer denied the fairways of life , Besoek op 25 November 2006
  2. UNESCO, Apartheid - its effects on education, science, culture and information, Besoek op 26 November 2006
  3. SouthAfrica.info, Golf: 'Papwa' Sewgolum , Besoek op 25 November 2006
  4. Tripod, Papwa Sewsunker....a very sad tale....., Besoek op 25 November 2006


http://www.southafrica.info/ess_info/sa_glance/sports/greats/sewgolum.htm