Danie Theron-gedenktekens
Danie Theron, die beroemde verkenner van die Tweede Vryheidsoorlog, word met verskeie gedenktekens in herinnering geroep.
Danie Theron-medalje
[wysig | wysig bron]Hierdie Suid-Afrikaanse militêre dekorasie is tussen 1970 en 2003 deur die Suid-Afrikaanse Weermag aan hul lede toegeken vir buitengewone en voortreflike diens in vredes- of oorlogstyd.
Danie Theron-kommandokrygskool
[wysig | wysig bron]Die Suid-Afrikaanse Weermag het op 1 November 1967 sy krygskool in Kimberley gestig en dit op 1 November 1969 herdoop tot die Danie Theron-krygskool of -gevegskool. In 1989 is die Danie Theron Inligtingskool na Potchefstroom verskuif.
Tulbagh
[wysig | wysig bron]In die museum op Theron se geboorteplek Tulbagh staan 'n borsbeeld van hom.
Sterfplek
[wysig | wysig bron]Die Voortrekkers (organisasie) het 'n gedenkplaat aangebring op die presiese plek buite Fochville waar Danie Theron gesneuwel het. Hierdie plaat is deur vandale verniel en in 1984 deur 'n verchroomde plaat vervang. Die bewoording daarop lui:
Danie Theron-gedenksuil
[wysig | wysig bron]Hierdie monument is geleë by Gatsrand tussen Johannesburg en Potchefstroom, 8 km wes van die afdraai na Fochville en op 'n kop nou bekend as Theronskop. Die hoof van die Laer Gedenkskool Danie Theron, dr. J.J. van Tonder, het reeds in 1935 voorgestel dat so 'n monument opgerig moet word op die plek waar Fourie aanvanklik begrawe is en 50 m van waar hy gesneuwel het. Die argitek van die byna 25 m hoë gedenknaald was Coenraad Hillebrands van Krugersdorp, die boufirma was L. Fokkens en die Voortrekkerbeweging het landswyd geld ingesamel om die koste te dek. Die monument met baie simboliese betekenis is op Saterdag 9 September 1950 deur familielede van Theron onthul en die geleentheidspreker was die minister van binnelandse sake, dr. T.E. Dönges. Die metaalgedeelte bo-op die obelisk is 'n simboliese vryheidsvlam wat in die harte van Theron en sy Boere-volk gebrand het. In 2003 het die Voortrekkerbeweging die eienaarskap aan die Erfenisstigting oorgedra en die onderhoud van die monument en omringende terrein word gedoen deur die nabygeleë AngloGold Ashanti-myn. Lees meer oor die Danie Theron-monument.
In hierdie dorp staan die Laer Gedenkskool Danie Theron en op sy terrein staan 'n klein replika van die monument buite Fochville.
Graf
[wysig | wysig bron]Danie Theron is op 10 Maart 1903 langs sy verloofde op die plaas Eikenhof aan die Kliprivier naby Johannesburg begrawe. Sy manskappe het geld ingesamel vir 'n waardige gedenkteken. Die grafsteen met Theron se afbeelding is op 28 Desember 1907 onthul en het die volgende bewoording:
Niet hier. Nog steeds voert hy hen aan, De jong strijders van soon meen gen slag, |
In 2003 is die graf gevandaliseer en dele van Theron se stoflike oorskot verwyder.
Standbeeld
[wysig | wysig bron]Op 1 November 1969 het P.W. Botha 'n standbeeld van Danie Theron op Die Koppie naby die hoofkwartier van die krygskool in Kimberley onthul. Die bronsbeeld deur die Pretoriase beeldhouer Charl Andries Engela is tweemaal lewensgroot en toon Theron hurkend op sy regterknie en sy oë stip vooruit, geklee in 'n broek, hemp, baadjie, 'n hoed waarvan die regterrrant opgeslaan is en hoë rystewels en gewapen met 'n geweer, bandelier en verkyker. Vyf-en-twintig klein replikas is van die beeld gemaak om deur die krygskool as eretoekennings uit te deel. Toe die krygskool ontbind, het die verweerde beeld agtergebly en is later in aluminium oorgegiet en op 4 November 1995 opnuut onthul. Einde November 2001 is die beeld na Fort Schanskop by die Voortrekkermonument verskuif en daar op 6 Maart 2002 deur nasate van Theron onthul. By daardie geleentheid was oud-pres. Nelson Mandela ook aanwesig en hou daar sy enigste openbare toespraak in Afrikaans.
Potchefstroom
[wysig | wysig bron]Volgens die Engelstalige Wikipedia het genl. Louis Botha en genl. Jan Smuts op 28 Desember 1907 'n Danie Theron Monument naby Potchefstroom onthul. Teenswoordige kenners van monumente in Suid-Afrika is nie van hierdie gedenkteken bewus nie.
Foute
[wysig | wysig bron]“A new Danie Theron Monument was erected near the Union Building in Pretoria, South Africa, by the former South African President Nelson Mandela.” Hierdie is 'n aanhaling uit die Engelstalige Wikipedia. Dit verwys waarskynlik na die beeld by Fort Schanskop. Die beeld is nie nuut nie en staan nie naby die Uniegebou nie. Dit is nie opgerig of onthul deur pres. Mandela nie. Verskeie skrywers het hierdie sin met onjuisthede herhaal.
Bibliografie
[wysig | wysig bron]- Ensiklopedie van die Wêreld, deel 9. Stellenbosch: Albertyn-Uitgewers, 1992. ISBN 0-949948-23-3
- Standard Encyclopaedia of Southern Africa, deel 10. Kaapstad: Nasou, 1974. ISBN 0-625-00326-8
- van Tonder, J.J. (red.): Veertien Gedenktekens van Suid-Afrika. Kaapstad: Nasionale Boekhandel, 1961.
- history-net.com
- www.afrikanergeskiedenis.co.za
- www.boereafrikana.com
- www.boerevryheid.co.za
- www.erfenisstigting.org.za