Hipofise
Die pituïtêre klier of hipofise is 'n endokriene klier, wat so groot soos 'n ertjie is en geleë is in die skedelbasis reg onder die brein. Dit lê in 'n klein, benige holte (pituïtêre fossa). Die hipofise skei vele hormone af. Die hormone wat afgeskei word reguleer homeostase, insluitend trofiese hormone wat ander endokriene kliere stimuleer. Dit word funksioneel verbind aan die hipotalamus.
Die hipofise word in twee dele verdeel, die adenohipofise of voorkwab en die neurohipofise of agterkwab. In die adenohipofise word 'n hele aantal hormone geproduseer wat insluit: groeihormoon (GH), tiroïed-stimulerende hormoon (TSH), kortikotropien (ACTH), gonadotrope hormone, follikel-stimulerende hormoon (FSH), luteïniserende hormoon (LH) en prolaktien. Die agterkwab is betrokke by vogregulering in die liggaam. Twee homone wat in die hipotalamus geproduseer word, word hier geberg nl. anti-diuretiese hormoon (ADH) en oksitosien.
Funksies van die hormone
[wysig | wysig bron]GH is betrokke by die beheer van groei in die mens en beïnvloed slegs sekere tipes selle. Daar is byvoorbeeld 'n direkte uitwerking op weefselselle i.p.v. op endokriene kliere.
TSH stimuleer die tiroïed (skildklier) dat skildklierhormone (tiroksien en trijodotironien) daarin vervaardig word.
ACTH stimuleer die bynierskors om bynierhormone te vervaardig.
Gonadotrope hormone het 'n invloed op die ovaria en die testes.
FSH bevorder die groei en rypword van follikels (blasies waarin die eiersel lê) in die ovaria by die vrou en dit bevorder spermatogenese by die man in die testes. Lg. geskied deur stimulasie van die Sertoliselle (betrokke by rypword van sperm).
LH is ook 'n geslagshormoon soos FSH. By die vrou stimuleer dit eiersel-rypwording en ovulasie. By die man speel dit 'n rol in die vorming van die manlike hormoon testosteroon.
Prolaktien word vrygestel tydens swangerskap en laktasie.