MXit

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek

MXit is 'n kitsboodskap-toepassing wat in Suid-Afrika ontwikkel word en wat hoofsaaklik op GPRS- of 3G-bevoegde selfone gebruik word. MXit bied beperkte versoenbaarheid met meer gevorderde kitsboodskappers soos Windows Live Messenger, ICQ, en Google Talk deur van die nie-verwante Jabber-poort gebruik te maak. Die koste aan MXit verbonde sluit in die prys vir internettoegang soos deur die gebruiker se sellulêre diensverskaffer bepaal, asook ander betaaldienste soos kletskamers wat op die program beskikbaar is. MXit se amptelike uitspraak is die Engelse "mix it" (meng dit), alhoewel die naam ook algemeen in Engels uitgespel word.

Ongeveer 11 miljoen rekeninge is in MXit se gebruikerdatabasis geregistreer, en daar vind daagliks 17 miljoen intekeninge en meer as 250 miljoen boodskapversendings plaas. Alhoewel die program grotendeels in Suid-Afrika en Indonesië gebruik word, word dit daagliks in ongeveer 120 lande gebruik.[1] Naspers het in Januarie 2007 'n 30%-aandeel in die MXit-maatskappy vir 'n onbekende bedrag gekoop.[2]

Omstredenheid[wysig]

MXit bied aan enigeen toegang tot die versprei en ontvang van pornografie en stel pedofiele in staat om met minderjariges in die ongesensorde kletskamers te kommunikeer.[3] Op 30 Julie 2006 het M-Net se aktualiteitsprogram Carte Blanche ontbloot hoe 'n jong meisie met 'n pedofiel gekommunikeer het deur haar persoonlike gegewens met hom te deel.[4] Die skeppers van MXit het sedertdien begin om met die Suid-Afrikaanse regstoepassing saam te span om minderjariges se veiligheid op MXit te beskerm.[5]

Menige nuusagentskappe en koerante het artikels gepubliseer oor hoe ouers hul kinders toelaat om MXit te misbruik en hoe eksamenuitslae gevolglik verswak. Ouers sit met hul hande in hul hare omdat hul kinders na bewering nie meer openlik kan kommunikeer nie en hulle hulself glo in hul eie wêreld van internetkletskamers bevind. Dit het daartoe gelei dat al hoe meer ouers hul kinders se selfone konfiskeer.[6]

Op MXit se webwerf word veiligheidsmaatreëls verstrek en word aksies soos die versprei van pornografie, bekruipery (Engels: stalking), laster en ander vorme van misbruik woordeliks gereguleer, alhoewel dit fisies byna onmoontlik is om toe te pas.

Verwysings[wysig]

  1. MXit to flex its muscle
  2. "Naspers acquires a 30% share in MXit", Naspers, 2007-01-26. URL besoek op 2007-08-15.
  3. Huisgenoot en YOU. 27 Julie 2006.
  4. "MXit Safety Guidelines", MXit.co.za, 2006-10-19. URL besoek op 2006-10-19.
  5. Rondganger, Lee, "MXit teams up with police to improve security", The Star, Independent Online, 2006-10-19. URL besoek op 2006-10-19.
  6. "MXit blamed for exam results"

Eksterne skakels[wysig]