Paul Louw

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
Ds. Paul Louis Louw.
Ds. Louw.

Ds. Paul Louis Louw (Hopetown, 6 Januarie 1890 - Kaapstad, 14 Februarie, 1933) was 'n predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk en 'n Afrikaanse digter.

Reeds in sy kinderjare het hy die begeerte gehad om predikant te word. Ná sy voorbereidende studie is hy na Stellenbosch en aan die einde van 1914 lê hy sy proponentseksamen aan die Kweekskool af. Van 1915 tot 1920 het hy in die NG gemeente Venterstad in die Oos-Kaap gearbei toe hy 'n beroep na Dealesville in die Vrystaat aanneem. Hier hy gebly tot 1926 toe hy vertrek na die NG gemeente Kareedouw. Hier het hy met sy organisasietalent, sy opgewektheid en vriendelikheid, sy heldere en pakkende evangeliebediening die gemeente so met moed besiel en aan hom gebind dat hulle hom gewillig gevolg het.

Tydens die Sinode van 1932, wat hy nog bygewoon het, het hy 'n beroep na die NG gemeente Piketberg ontvang en aangeneem, maar hy het die aanname later teruggetrek toe dit blyk dat hy aan 'n ongeneeslike siekte ly. Hoewel dit nie bekend is wat dié siekte was nie, was "ongeneeslike siekte" destyds meestal 'n eufemisme vir kanker.

Onder die skuilnaam Lodovikus het in 1920 'n bundel gedigte van sy hand verskyn, naamlik Ontwaking en ander gedigte.

Bronne[wysig | wysig bron]