Volksraad Verkiesing Kommissie

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search

Die Volksraad Verkiesing Kommissie (VVK) is 'n administratiewe liggaam wat hulleself beywer om 'n verkiesing vir volksgenote van die Boere-Afrikanervolk te organiseer. Hulle is polities neutraal en vergelyk hul werk met die van die Onafhanklike Verkiesingskommissie van Suid-Afrika (OVK). Hulle doel is om kiesers te registreer en 'n verkiesing te administreer om sodoende 'n volksraad tot stand te bring wat selfregering van die Suid-Afrikaanse regering kan eis.

Regsgeldigheid[wysig | wysig bron]

Volgens artikel 235 van die Grondwet van Suid-Afrika, wet 108 van 1996, kan enige gemeenskap wat 'n gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis deel, op selfbeskikking aandring binne 'n territoriale entiteit in die Republiek of op enige ander wyse, soos deur nasionale wetgewing bepaal.

Daarbenewens word die reg tot selfbeskikking deur die Verenigde Nasies en ander wêreldliggame erken.

Stigting[wysig | wysig bron]

Die VVK het op 18 Augustus 2007 tydens 'n ope vergadering in Pretoria tot stand gekom om 'n verteenwoordigende stem vir die Boere-Afrikanervolk te verkry. Hulle sentrale komitee bestaan uit:

  • Paul Kruger (Voorsitter)
  • Tim van der Westhuizen (Adjunk-voorsitter)
  • Danie Pretorius
  • Hannes van der Merwe
  • Ivan Martens
  • Willie Steenkamp
  • Albert du Toit

Verkiesings[wysig | wysig bron]

Die VVK se eerste verkiesing het op 23 September en 24 September 2011 plaasgevind. Slegs geregistreerde kiesers kon hieraan deelneem en kon by enige VVK-stempunt, ongeag waar hulle woon, gaan stem het. Elke kieser kon sy kruisie agter sewe of minder kandidate se name trek. Die sewe kandidate wat van die meeste stemme op hulleself verenig het, is tot die Boere-Afrikanervolksraad verkies.

Slegs 34 532 het vir die verkiesing geregistreer en 23 678 mense het uiteindelik gestem. Die lae getalle word toegeskryf aan die Afrikaanse media wat geen dekking aan die verkiesing gegee het nie. Selfs betaalde advertensies is geweier.[1]

Omstredenheid[wysig | wysig bron]

Hulle werksaamhede is in sekere kringe omstrede omdat dit dele van die Afrikaner-gemeenskap uitsluit.[2] Daarteenoor glo ander dat dit die groep se enigste hoop tot selfbeskikking is.

Verwysings[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]