Babbelas

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Babbelas is nie pret nie.
La buveuse (die drinker), 'n portret van Suzanne Valadon.

'n Babbelas (ook as babelas gespel) en skertsend na verwys as wingerdgriep is die somtotaal van die onaangename simptome wat volg na die oorvloedige inname van alkoholiese dranke. Die mees algemene kenmerk van 'n babbelas is 'n geweldige dors, lusteloosheid, naarheid, sensitiwiteit ten opsigte van sonlig en klank en 'n hoofpyn. Hipoglisemie, dehidrasie en 'n vitamien B12 tekort word gereken om oorsake van die simptome van 'n babbelas te wees. Die tydsduur waarteen die simptome van 'n babbelas hul opwagting maak na alkohol-inname is veranderlik en die duur daarvan is gewoonlik 'n relatief kort tydperk (12 tot 36 ure[1]), en soms selfs langer (48 tot 72 uur na die inname van die laaste alkoholiese drank[2]).

Simptome[wysig]

'n Babbelas veroorsaak deur etanol word verbind met 'n verskeidenheid simptome wat dehidrasie, moegheid, hoofpyn, naarheid, diarree, swakheid, oormatige afskeiding van speeksel, gebrek aan konsentrasie, angs, prikkelbaarheid, sensitiwiteit vir lig en klank en slaaploosheid. Die simptome verskil van persoon tot persoon en van geleentheid tot geleentheid en begin gewoonlik verskeie ure nadat daar gedrink is. Dit is nog onseker of 'n babbelas 'n mens se redenasievermoë aantas.

Oorsake[wysig]

Stowwe soos etanol het 'n ontwateringseffek, wat hoofpyne, droë mond en lusteloosheid tot gevolg het. Dehidrasie het ook 'n afname in breinvolume tot gevolg[3]. Die simptome kan teëgewerk word met verhoogde waterinname na of tydens die drink van alkoholiese dranke. Die naarheid kan toegeskryf word aan alkohol se impak op die maagwand. As gevolg van die verhoogde NADH-vervaardiging tydens die metabolisme van etanol met behulp van alkohol- en aldehied-dehidrogenase, kan oormatige NADH opbou en glukoneogenese in die lewer vertraag met gevolglike hipoglisemie.

'n Ander faktor wat bydra tot 'n babbelas is die gevolg van die afbraak van etanol deur twee chemiese reaksies wat aangehelp word deur ensieme wat in die lewer vervaardig word. Etanol word omgeskakel na asetaldehied deur die ensiem alkohol dehidrogenase en dan van asetaldehied af na asynsuur deur die ensiem asetaldehied dehidrogenase. Asetaldehied is effe giftig wat dan bydra tot die babbelas.

Die bogenoemde twee reaksies vereis ook die omskakeling van NAD+ na NADH. Met 'n oormaat NADH word die laktaat dehidrogenase-reaksie gedryf om laktaat te vervaardig vanuit piruvaat (die eindproduk van glikolise) om NAD+ te hergenereer, wat noodsaaklik is vir die voortsetting van lewe. Dit neem die piruvaat weg van ander reaksies soos glukoneogenese en verminder die lewer se vermoë om glukose aan weefsels, veral die brein, te lewer. Omdat glukose die primêre energiebron van die brein is, dra hierdie gebrek aan glukose by tot die simptome van 'n babbelas soos moegheid, swakheid, slegte buie en gebrekkige konsentrasie.

Wanneer 'n mens alkohol drink vergroot die bloedvate in die gesig wat 'n rooi voorkoms gee. Wanneer 'n babbelas begin krimp die vate egter weer, wat bydrae tot die kopseer en moegheid wat dikwels tydens 'n babbelas ervaar word. Mense wat 'n babbelas het sal dikwels koud kry. Dit is omdat alkohol 'n sekere soort hipotermie tot gevolg het waardeur die liggaam se hitte te vinnig uitgestraal word, as gevolg van die verhoogde bloedvloei na die vel.

Laastens is daar ook die uitwerking op die senuweestelsel. Die onderdrukkende effekte van alkohol in die brein is waarskynlik die oorsaak van die hoër lig- en klanksensitiwiteit.

Die teenwoordigheid van ander alkohole (soos metanol en ander swaarder alkohole) wat byprodukte, ook kogenerante genoem, is van die alkoholiese gistingsproses vererger dikwels ook die simptome. Die hoeveelheid kogenerante in die alkoholiese drank mag daarom 'n impak hê op die graad van die simptome. Rooiwyne het byvoorbeeld tipies meer kogenerante as wit wyne en sommige mense beweer hul kry 'n ligter babbelas met wit wyn.

In die metabolisme van alkohol, lewer een molekule etanol (die hoof aktiewe bestandeel van alkoholiese dranke) twee molekules NADH, wat sianokobalamien as koënsiem inspan. Die oormatige verbruik van alkohol kan dus ook 'n vitamien B12 tekort tot gevolg hê.

Nikotien-inname kan ook die simptome van 'n babbelas vererger, veral omdat rokers geneig is om meer te rook wanneer hulle onder die invloed is.

Moontlike kure[wysig]

Daar word dikwels gegis oor hoe om 'n babbelas te vermy of die impak daarvan te verminder. Daar word dikwels gespekuleer dat deur selfs meer alkohol in te neem as die nag tevore 'n babbelas kan verdring. Die belangrikste om in gedagte te hou is egter dat die reeds oorlaaide lewer enige alkohol wat die liggaam inneem moet verwerk.

Ander moontlikhede om die simptome te verminder:

  • Drink baie water —Rehidrasie: "Effektiewe ingrepe sluit in rehidrasie, prostaglandieninhibitors en vitamien B6."[4]
  • Vitamien B6 (pyritinol): Navorsing het bevind dat vitamien B6 die effek van babbelas kan verminder, indien dit vroeg vooraf ingeneem is.[4][5] Die waarskynlikste rede hiervoor is dat B-vitamiene die lewer teen uitputting beskerm, tydens die verhoogde werklading om die oormaat alkohol te metaboliseer.

Verwysings[wysig]

Commons-logo.svg
Wikimedia Commons het meer media verwant aan:
Babbelas (kategorie)
  1. Erowid.org Erowid Alcohol Vault: Effects
  2. Federal Aviation Administration. Brosjure vir veiligheid vir Loodse
  3. The effects of dehydration on brain volume – preliminary results’, International Journal of Sports Medicine 2005; 26:481-485
  4. 4,0 4,1 Jeffrey G. Wiese, Michael G. Shlipak, Warren S. Browner The Alcohol Hangover Annals of Internal Medicine 6 June 2000 Volume 132 Issue 11 pp897-902
  5. Khan MA, Jensen K, Krogh HJ. Alcohol-induced hangover: A double-blind comparison of pyritinol and placebo in preventing hangover symptoms Q J Stud Alcohol. 1973;34:1195-201