John William Jagger

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Genl. Jan Christian Smuts en sy kabinet in 1923. Voor: sir Thomas Watt, sen. F.S. Malan, Smuts, sir Thomas Smartt en mnr. Henry Burton. Agter: sen. Nicolaas de Wet, kol. Deneys Reitz, sir Patrick Duncan, mnr. John William Jagger en kol. Hendrik Mentz.
Borsbeeld J.W. Jagger (Kaapstad).
J.W. Jagger-biblioteek, Kaapstad.

John William Jagger (Yorkshire, 20 September 1859 - Kaapstad, 20 Junie 1930) was 'n Suid-Afrikaanse sakeman en kabinetsminster.

Hy kom in 1880 na Suid-Afrika en word 'n klerk in 'n sakeonderneming in Kaapstad. In 1883 stig hy sy eie onderneming as invoerder van weefstowwe en lê die grondslag vir die latere bekende firma met sy naam. Hy het ywerig in die ekonomie belang gestel en word 'n woordvoerder vir die handel. In 1902 of '03 word hy lid van die Kaapse Wetgewende Vergadering (waar hy 'n groot voorstaander van vrye handel was) vir Kaapstad, later vir Kaapstad-Sentraal in die Unie-Volksraad.

Van 1908 tot 1909 is hy lid van die Nasionale Konvensie wat die Suid-Afrika-wet opstel en die weg baan vir Uniewording. Hy word in die verkiesing van 1915 herkies as Unie-Volksraadslid. In 1921 word hy minister van spoorweë in genl. Jan Smuts se kabinet. Hy moes die ongewilde beleid van afleggings uitvoer. Hy het geruim bygedra tot die opvoedingsaak en die Jagger-biblioteek aan die Universiteit van Kaapstad is na hom genoem. Hy sterf in 1930 in die Moederstad.

Bronne[wysig]

  • Albertyn, dr. C.F. (red.) 1962. Die Afrikaanse Kinderensiklopedie. Kaapstad, Bloemfontein, Johannesburg: Nasionale Boekhandel Bpk.
  • Rosenthal, Eric. 1978. Encyclopaedia of Southern Africa. Cape Town and Johannesburg: Juta and Company Limited.