Olive Schreiner

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek

Olive Schreiner.jpg

Olive Schreiner

Suid-Afrikaanse skrywer,
pasifis en feminis



Literêre genres
Romans


Beduidende werke

The Story of an African Farm (1883)
Woman and Labour (1911)

Olive Schreiner (* 24 Maart 1855, † 11 Desember 1920) was 'n Suid-Afrikaanse skrywer, pasifis, feminis en intellektuele. Sy het veral bekendheid verwerf met haar half-outobiografiese roman The Story of an African Farm (1883) – die eerste literêre werk uit Suid-Afrika wat internasionale sukses behaal het en waarin sy nie net die lewe in 'n koloniale grensgebied beskryf nie, maar ook op 'n moedige wyse omgaan met etlike brandende vraagstukke van haar era, naamlik agnostisisme, eksistensiële onafhanklikheid, indiwidualisme en die beroepsaspirasies van vroue.

Onlangse ondersoeke verwys na haar rol as kampvegter vir etniese en sosiale groepe wat deur die kragte van Britse imperialisme gemarginaliseer is, soos Afrikaners en later ook swartes, Jode en Indiërs – om maar enkele voorbeelde te noem. Alhoewel sy ook belang gestel het in onder meer sosialisme, pasifisme, vegetarianisme en feminisme, is dit moeilik om haar ware oortuigings suiwer te kategoriseer.

In haar gepubliseerde werke en ander dokumente, wat bewaar gebly het, pleit Schreiner vir waardes soos matigheid, vriendskap, begrip en verdraagsaamheid tussen alle volke, maar vermy bewustelik enige ideologiese of politieke radikalisering. Alhoewel sy ten opsigte van haar Victoriaanse agtergrond as lewenslange vrydenker beskryf kan word, in teenstelling met die Christelike hoofstrominge van haar tyd, het sy steeds in die gees van die Christelike Bybel geleef en 'n wêreldlike weergawe van die wêreldbeskouings ontwikkel wat haar ouers as sendelinge aangehang het – met enkele mistieke elemente.

Sy is in Februarie 1894 op Middelburg, Kaap getroud met die boer en later politikus Samuel Cronwright, wat tot vier jaar ná haar dood as Samuel Cronwright-Schreiner bekend gestaan het.

Haar broer was William Philip Schreiner, eertydse eerste minister van die Kaapkolonie.

Eksterne skakels[wysig]