Sel

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Epiteelselle

'n Sel is die strukturele en funksionele eenheid van alle bekende lewende organismes. Dit is die kleinste eenheid van 'n organisme wat as "lewendig" geklassifiseer word. Sommige organismes, soos meeste bakterië, is eensellig, terwyl ander, soos mense, veelsellig is. Mense het 'n beraamde 100 000 miljard of 1014 selle en 'n tipiese sel het 'n grootte van 10 mikrometer en 'n massa van 1 nanogram. Die grootste sel is 'n onbevrugte volstruiseier.

Die selteorie, oorspronklik voorgestel in 1839 deur Schleiden en Schwann, meld dat:

  • alle organismes saamgestel is uit een of meer selle;
  • alle selle gevorm word uit selle wat reeds bestaan;
  • alle onontbeerlike funksies van 'n organisme vind binne-in die selle plaas;
  • alle selle die geneties-oorerflike inligting bevat wat nodig is om selfunksies te reguleer; en dat
  • selle self verantwoordelik is vir die oorsein van inligting na die volgende geslag selle.

Die woord "sel" is afkomstig van die Latynse cellula, wat "klein kamer" beteken. Hierdie beskrywende naam is deur Robert Hooke gekies in sy 1665-boek waarin hy die kurkselle wat hy deur 'n mikroskoop waargeneem het vergelyk het met die klein kamers waarin monnike lewe.

Basiese struktuur van plant- en dierselle[wysig]

Protoplasma is al die lewende materiaal in selle en alle selle is opgebou uit protoplasma. Plantselle verskil egter van dierselle in die opsig dat hulle 'n nie-lewende deel, die selwand, ook het. Die selwand is die wand wat die protoplasma omring. Die protoplasma bestaan uit die sitoplasma en kernplasma. Die membraan wat die sitoplasma omring word die plasmamembraan (selmembraan) genoem. Die funksionele eenhede wat in die sitoplasma aangetref word, word organelle genoem. Die sitoplasma sluit die plasmamembraan in, maar nie die nukleus nie.

Diagram van 'n tipiese diersel

Biological cell.svg

  1. Kernliggaampie (nukleolus)
  2. Selkern (nukleus)
  3. Ribosoom
  4. Blasie
  5. Rowwe endoplasmiese retikulum
  6. Golgi-apparaat
  7. Sitoskelet
  8. Gladde endoplasmiese retikulum
  9. Mitochondrium
  10. Vakuool
  11. Sitoplasma
  12. Lisosoom
  13. Sentriool

Selwand[wysig]

Die selwand kom slegs by plantselle voor en is die enigste nie-lewende komponent van 'n gesonde sel. Die selwand bestaan gewoonlik uit die volgende drie dele:

Primêre selwand[wysig]

Alle plantselle beskik oor 'n proimêre selwand, wat dun is en buite die selmembraan voorkom. Aangesien dit hoofsaaklik uit sellulose-vesels bestaan groei dit saam met die sel. Klein openinge, genaamd stippels kom in die selwand voor. Plasmodesmata (sitoplasmastringe) strek deur die selwande en verbind selle met mekaar om vervoer tussen selle te vergemaklik.

Middellamel[wysig]

Die middellamela, wat uit pektien bestaan, kom buite die primêre selwand voor. Pektien is oplosbaar en jellieagtig. Die middellamela heg die selwande van aangrensende selle aan mekaar.

Sekondêre selwand[wysig]

Die sekondêrte selwand word tussen die selmembraan en primêre selwand van ouer selle aangetref. Dit is opgebou uit digte sellulose-vesels met lignien tussenin. Lignien is organies en bind weefsels aan mekaar sodoende die selwande te verdig en verstewig. Die sekondêre selwand kan nie rek nie en die porieë daarvan is relatief diep. Dit beskik ook oor plasmodesmatas.

Funksies van selwand[wysig]

Die hooffunksie van die selwand is om die sel te verstewig en te ondersteun. Dit beskerm dus die protoplasma.

Sitoplasma[wysig]

Die sitoplasma omring die selkern en word deur die selmembraan omring. Dit kom gedeeltelik in 'n sol-toestand en gedeeltelik in 'n jel-toestand voor, en die hoofkomponent daarvan is water. Daar word dikwels na die vloeibare sol-gedeelte verwys as grondplasma. Hoewel die grondplasma grys vertoon as gevolg van die opgeloste stowwe en organelle wat daarin voorkom, is dit eintlik 'n helder vloeistof. Alle metaboliese reaksies in die sel vind in die organelle in die sitoplasma plaas.

Funksies van sitoplasma[wysig]

  1. Gee vorm aan die sel
  2. Oplosmiddel
  3. Vervoermedium
  4. Bergplek

Plasmamembraan[wysig]

Die plasmamembraan word ook die selmembraan genoem en is 'n dun, elastiese membraan wat die buitenste lewende grens van die sitoplasma vorm. Aangesien dierselle nie oor selwande beskik nie, is die plasmamembraan verantwoordelik om die inhoud daarvan te beskerm.

Funksies van die plasmamembraan[wysig]

Die hoofdoel van die selmembraan, wat selektief deurlatend is, is om die beweeg van stowwe in en uit die sel te beheer en te reguleer.

Beweging van stowwe oor membrane[wysig]

Stowwe kan op een van drie maniere deur membrane beweeg, naamlik diffusie, osmose en aktiewe vervoer.

Nukleus[wysig]

Die selkern of nukleus is die grootste organnel in die sel en is rond of ovaalvormig. Dit word deur die kernmembraan omring.

Bo: Nukleus van 'n menslike sel

Funksies van die nukleus[wysig]

  1. Dien as beheersentrum vir die sel aangesien dit al die sel-aktiwiteite beheer.
  2. Dra erflikheidseienskappe in die chromosome in die vorm van DNS.

Dele waaruit die nukleus bestaan[wysig]

  1. Dubbele kernmembraan wat die selkern omsluit en wat die vervoer van stowwe na en van die nukleus beheer.
  2. Kernplasma, wat soos die sitoplasma van die selkern is. Ook genoem nukleoplasma.
  3. Nukleolus (kernliggaampie), wat die kern van die kern is.
  4. Chromatiennetwerk, wat 'n digte netwerk van drade is wat by mitose (seldeling) verkort en verdik om chromosome te vorm en genetiese materiaal dra.

Mitochondria[wysig]

'n Mitochondrium is 'n matriksgevulde, silindervormige hol stafie waarvan verskeie verspreid in die sitoplasma van die selle van plante en diere voorkom. 'n Dubbele membraan omring die mitochondrium. Die membraan aan die binnekant bevat kristas ('n krista is 'n vingeragtige uitsteeksel), maar die buitenste membraan is glad. Die matriks waarmee dit gevul is is halfvloeibaar.

Inwendige bou van mitochondrion in 'n gesonde diersel

Funksies van mitochondria[wysig]

Selrespirasie, 'n lewensbelangrike proses, vind in die mitochondria plaas. Energie en suurstof word tydens selrespirasie vrygestel en vorm deel van die verbinding adenosientrifosfaat (ATP), wat as energiedraer in selle optree.

Ribosome[wysig]

Ribosome is klein en rond en kom in beide plant- en dierselle voor. Ribosome is uit ribonikliënsuur en protein opgebou. Ribosome word in die mitochondria, chloroplaste, endoplasmiese retikilum en in groepies in die sitoplasma aangetref. Ribosome wat los in die sitoplasma voorkom word poliribosome genoem.

Endoplasmiese Retikulum (ER)[wysig]

Die fyn netwerk van membrane vorm 'n aaneenlopende stelsel van klein kanaaltjies wat deur die sitoplasma strek. Die ER is aan die sel- en/of kernmembraan verbind. Daar is 2 verskillende tipes ER, nl.

  1. Growwe ER, wat ribosome op die oppervlak besit.
  2. Gladde ER, wat nie ribosome op die oppervlak besit nie.

Funksies van ER[wysig]

Die ER vergroot die seloppervlak en vervoer stowwe deur die sitoplasma.

Golgi-Apparaat[wysig]

Die golgi-apparaat, of te wel golgi-liggaampie, is 'n organel wat bestaan uit stapels hol, plat sakkies wat sisternums genoem word. Sisternums is membraanagtig. Die golgi-apparaat word naby die selkern van beide plantselle en dierselle aangetref.

Funksies van Golgi-Apparaat[wysig]

Dit speel 'n groot rol in die vervaardiging van afskeidings soos mukus en speeksel en berei proteïene voor om na die res van die sel vervoer te word. Daarom is dit volop in selle met 'n afskeidingsfunksie.

Plastiede[wysig]

BO: Voorstelling van plastiede in plantselle

Plastiede sluit in chloroplaste, chromoplaste en leukoplaste. Plastiede kom slegs in planselle voor.

Vakuole[wysig]

'n Vakuool is 'n vloeistofgevulde "sakkie" in die sitoplasma. Die vakuool is met selsap gevul en word omring deur die tonoplast, 'n selektiefdeurlatende membraan. Plantselle het groot vakuole vergeleke met dierselle, wat in sommige gevalle self nie oor 'n vakuool beskik nie. Die vloeistof in die vakuole bestaan uit water en opgeloste stowwe.

verskillende tipes vakuole sluit in:

  1. Kontraktiele vakuole
  2. Voedselvakuole
  3. Blasies
  4. Lisosome

Funksies van vakuole[wysig]

  1. Turgodruk (by plantselle), die druk wat deur die selsap veroorsaak word. Dit verstewig plantselle.
  2. Antosianiene wat in die selsap voorkom verskaf kleur aan blomme en vrugte.

Sentrosoom[wysig]

Die sentrosoom kom net by dierselle voor, en is 'n area in die sitoplasma naby aan die selkern. Sentriole word in die sentrosoom aangetref.

Sentriole[wysig]

Sentriole is klein, silindervormige strukture van die diersel wat naby mekaar lê met 'n hoek van 90°. Sentriole bestaan uit fibrille en fibrille bestaan elk uit drie mikrobuisies.

Funksie van sentrosoom[wysig]

Sentriole is belangrik vir spoelvorming om tydens seldeling te kan plaasvind.

Opsommend: Verskille tussen plantselle en dierselle[wysig]

Plantselle Dierselle
Selwand aanwesig Selwand afwesig
Groot vakuole Klein of geen vakuole
Plastiede aanwesig Geen plastiede
Geen lisosome Lisosome aanwesig
Geen sentrosome Sentrosome aanwesig
Vaste vorm Vorm is onreëlmatig


Commons-logo.svg
Wikimedia Commons het meer media verwant aan:
Sel (kategorie)