Antichris

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
Die wit ruiter met die pyl en boog uit Openbaring 6:2 (wat valse vrede versinnebeeld) word deur sommige as die Antichris beskou.
Die Antichris en die duiwel, soos geskilder deur Luca Signorelli in ongeveer 1501.

Die Antichris (Grieks: ἀντί=in plaas van, nie teen nie; χριστός=Christus) is volgens die Christelike leer die uiteindelike manifestasie van kwaad in 'n menslike wese. Die Antichris is die vyand van Christus wat die bose magte verteenwoordig en kort voor die einde van die wêreld sy opwagting sal maak.[1] Die woord kom vyf keer in die Bybel in 1 Johannes en 2 Johannes voor, een keer in meervoudsvorm en vier keer in die enkelvoud.

Die woord kom egter nie in die Openbaring van Johannes, die laaste boek van die Nuwe Testament voor nie, maar volgens sommige Christelike strominge is dit dieselfde persoon wat daarin as "die dier" beskryf word. 'n Meer wetenskaplike verklaring is dat 'die dier' na keiser Nero verwys. Keiser Nero was bekend vir sy wreedheid en het onder andere Christene vervolg. Die getal '666' dui waarskynlik ook op keiser Nero.

Godsdienstiges het oor die eeue bespiegel oor wie die Antichris is. Verskeie historiese persone is al as die Antichris uitgekryt. Voorbeelde is die Romeinse keiser Nero, die Pous van Rome (volgens sommige Protestante), die kerkhervormer Maarten Luther (volgens sommige Katolieke), Napoleon Bonaparte en Adolf Hitler. Dienooreenkomstig bespiegel gelowiges ook soms dat die Islam die Antichris is omdat die Koran (Hoofstuk 19 – Maryam, vers 35) ontken spesifiek dat Jesus Christus die seun van God is.[2] Die leringe rondom die Koran leer ook dat die profeet Issa, die seun van Maryam/Maria 'n sterflike man was wat op die "Dag van Spyt" sal opstaan en sal oordeel oor die lewendes en dooies. Volgens hierdie leringe is hy van die kruis weggeraap voordat hy aan die kruis kon sterf. Verse 36-37 verwys na die "dwaalleer" van "hulle" wat glo dat Jesus die seun van God is.

Verwysings in die Bybel[wysig | wysig bron]

In die Bybel kom die uitdrukking 'Antichris' in die briewe van die apostel Johannes voor.

In 1 Johannes 2 vers 18 staan:

Cquote1.svg Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is.[3]
Cquote2.svg

Vervolgens staan daar in vers 19: "Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie."

Die Antichris sal dus uit Christelike kringe kom. Dit het aanleiding gegee tot bespiegelinge dat Judas Iskáriot of selfs die pous moontlike kandidate is.

Dit kom verder in 1 Johannes 2 vers 22 voor:

Cquote1.svg Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën.
Cquote2.svg

Die gees van die Antichris word in 1 Johannes 4:3 bespreek:

Cquote1.svg en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld.
Cquote2.svg

Ten slotte kom dit 'n laaste keer in die tweede brief van Johannes (in 2 Johannes 1:7) voor:

Cquote1.svg Want baie verleiers het in die wêreld ingekom: die wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie. Dit is die verleier en die Antichris.
Cquote2.svg

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
  2. Kreuzzüge des Mittelalters und der Neuzeit: Realhistorie – Geschichtskultur; Mazhar Al Zobhy; bl112
  3. Die 1953-vertaling van die Bybel
  • Die Heilige Quran. In Afrikaans vertaal deur Imam M.A. Baker. Uitgegee deur IDM (Islamic Dawah Movement of Southern Africa) Publications. ISBN 978-0-620-60451-2

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]