Dirk Meerkotter

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
Dirk Meerkotter besig om te werk

Dirk Adriaan Meerkotter (9 Februarie 1922 - 17 Desember 2017) is in Pietersburg gebore en het die grootste deel van sy kinderjare in Johannesburg deur gebring. Gedurende 1944 het Meerkotter vir 'n rukkie tekenonderrig onder leiding van Maurice van Essche aan die Kunsskool van die destydse Witwatersrandse Tegniese Kollege ontvang.

Meerkotter, 'n apteker van beroep, het homself in sy vrye tyd egter in ander media, soos akriel, waterverf en olieverf, en ander kunssoorte, soos pottebakkery en grafiese kuns, onderrig. Sy vroeëre werke toon duidelike invloede van Van Essche en die Kubisme, maar hy het later ʼn eie, individuele styl ontwikkel.

Hoewel hy studiereise na die buiteland onderneem het, het kunsstrominge en kunstenaars daar geen invloed op sy styl gehad nie. Meerkotter is voortdurend besig om die tegniese moontlikhede van verskillende media te ontwikkel. Afgesien van die sukses wat hy as skilder behaal het, was hy ook 'n bedrewe etser en pottebakker.

Hy het in 1961 vir die eerste keer met pottebakkersklei begin werk. Sy eerste werke in die medium was hoofsaaklik gebruiksvoorwerpe, maar sedertdien het hy verskeie openbare opdragte in keramiekpanele uitgevoer. Meerkotter maak van 'n verskeidenheid van kleure in sy skilderkuns gebruik en wend dikwels swart aan om 'n dramatiese effek te verkry.

Sy werk is nie-figuratief en abstrak en simbole van primitiewe herkoms kom dikwels daarin voor. Dirk Meerkotter het nie net uitgebreid in Suid-Afrika uitgestal nie, maar het die land ook op buitelandse tentoonstellings verteenwoordig. Van sy werk is in verskeie Suid-Afrikaanse museums opgeneem asook in die versameling van die Rembrandt-kunsstigting en die Schlesinger-versameling.

Bronnelys[wysig | wysig bron]