Durban

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
Durban
eThekwini/iTheku (zu)
'n Uitsig oor Durban se binnestad, soos gesien vanaf die Moses Mabhidastadion
'n Uitsig oor Durban se binnestad, soos gesien vanaf die Moses Mabhidastadion
Vlag van Durban
Vlag
Wapen van Durban
Wapen
Ligging van Durban op 'n kaart (KwaZulu-Natal)
Durban
Durban
 Durban se ligging in KwaZulu-Natal
Koördinate: 29°53′S 31°3′O / 29.883°S 31.050°O / -29.883; 31.050Koördinate: 29°53′S 31°3′O / 29.883°S 31.050°O / -29.883; 31.050
Land Vlag van Suid-Afrika Suid-Afrika
Provinsie KwaZulu-Natal
Munisipaliteit eThekwini
Stigting 1880[1][2]
Regering
 - Burgemeester Zandile Gumede (ANC)
 - Adjunk-burgemeester Fawzia Peer
Oppervlak[3]
 - Stad 225,91 km²  (87,2 vk m)
 - Metro 2 297 km² (886,9 vk m)
Bevolking (2011)[3]
 - Stad 595 061
 - Digtheid 2 634/km² (6 822/myl2)
 - Metropolitaans 3 442 361
 - Metrodigtheid 1 502/km² (3 890,2/vk m)
Rasverdeling (2011)[3]
 • Blank 15,3%
 • Indiër/Asiër 24,0%
 • Kleurling 8,6%
 • Swart 51,1%
 • Ander 0,9%
Taal (2011)[3]
 • Engels 49,8%
 • Zoeloe 33,1%
 • Xhosa 5,9%
 • Afrikaans 3,6%
 • Ander 7,6%
Poskode (strate) 4001
Poskode (posbusse) 4000
Skakelkode(s) 031
Webwerf: eThekwini-munisipaliteit

Durban (Engels: [ˈdœːbən]; Zoeloe: eThekwini, [ˈɛːʔtʰɛˌkwinĭ], afgelei van itheku, letterlik: "baai/lagoon"; vroeër Port Natal) is 'n hawestad in KwaZulu-Natal, Suid-Afrika, langs die Indiese Oseaan met ongeveer 4 miljoen inwoners uit 'n diverse groep kulture. Dit is 'n gewilde vakansiebestemming weens goeie weer en die warm Agulhasstroom. Suid-Afrika se besigste hawe, Durban-hawe, is by Durban wat een van die wêreld se diepste natuurlike hawens is. Durban behels ook Suid-Afrika se derde besigste lughawe, die Koning Shaka Internasionale Lughawe, ná die O.R. Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg en die Kaapstad Internasionale Lughawe.

Durban se hawe

Die eThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit is een van Suid-Afrika se ag metropolitaanse munisipaliteite en volgens die sensus van 2011 die derde grootste metropolitaanse munisipaliteit van Suid-Afrika ná die Stad Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit en die Stad Kaapstad Metropolitaanse Munisipaliteit. Durban is een van Afrika se grootste stede aan die Indiese Oseaan en Suid-Afrika se tweede besigste vervaardigingssentrum ná Johannesburg.

In 2000 het Durban saam met Umlazi en ander gebiede in die omgewing deel geword van die eThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit met 'n geskatte bevolking van 3 442 361 in 2011. Sedert 2016 dien Zandile Gumede van die African National Congress (ANC) as uitvoerende burgemeester van Durban.

Dit het die hoogste getal van dollarmiljoenêrs van enige Suid-Afrikaanse stad; die getal het tussen 2000 en 2014 met 200 persent styg.[4] In Mei 2015 is Durban amptelik erken as een van die New7Wonders-stede, saam met Vigan, Doha, La Paz, Havana, Beiroet en Kuala Lumpur.[5]

Geografie en klimaat[wysig | wysig bron]

Geografie[wysig | wysig bron]

Kaart van Durban (1860) wat die hoof geografiese kenmerke aandui.
Nasa-Satellietbeeld van Durban
Klimaattabel van Durban

Durban se stadsgebied streek langs die oostelike Suid-Afrikaanse kus tussen die Drakensberge in die ooste en die Indiese Oseaan in die weste. Die stad is amper op dieselfde breedtegraad soos die hawestad Porto Alegre in die Suid-Brasiliaanse deelstaat Rio Grande do Sul geleë.

Die stad Durban beslaan 'n oppervlakte van 225,91 km², terwyl die metropolitaanse gebied van eThekwini 'n oppervlakte van 2 292 km² beslaan. Durban vorm die geografiese en politiese sentrum van die eThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit. Die eThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit word deur die distriksmunisipaliteite iLembe in die noorde, uMgungundlovu in die weste en Ugu in die suide begrens. Dié Metropolitaanse Munisipaliteit word deur vier rivierlope gekenmerk: Net noord van Durban se hawe mond die Umgenirivier in die Indiese Oseaan uit, die Umbilorivier vloei in die Durbanse hawe, in die verre suide bereik die Illovorivier tussen Illovo Beach en Illovo die see en nog verder suid eindig die Umkomazirivier by Umkomaas.

Die eThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit is in 2011 gevorm en sedert 2016 behoort die noordwestelike deel van die voormalige Vulamehlo Plaaslike Munisipaliteit tot die eThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit, terwyl die suidoostelike deel by uMdoni Plaaslike Munisipaliteit ingelyf is. Die gebied rondom Mapumulo behoort sedertdien tot die eThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit.[6]

Klimaat[wysig | wysig bron]

Durban is bekend vir sy gematigde, sonnige winterklimaat. Die stad het 'n oorvloed plantegroei en 'n subtropiese klimaat met sonskyn vir ten minste 320 dae per jaar. Gedurende die wintermaande van Junie, Julie en Augustus bly temperature tussen 16 °C en 25 °C en in die somer kan temperature 32 °C bereik met relatief hoë humiditeit. Durban se klimaat word deur die ewenaarstroom van die Indiese Oseaan voortgebring, die Agulhasstroom, wat 'n bron van warm, helderblou water is wat suidwes deur die Mosambiekkanaal vloei. Seewatertemperature aan die kus vergelyk meer gunstig met dié van die Mediterreense gebied in die somer (gemiddeld 24 °C), maar in die winter val die kwik selde onder 19 °C — Durban is sodoende 10 °C warmer as die Mediterreense gebied in dieselfde seisoen.[7]

Weergegewens vir Durban
Maand Jan Feb Mar Apr Mei Jun Jul Aug Sep Okt Nov Des Jaar
Hoogste maksimum (°C) 36,2 33,9 34,8 36,0 33,8 35,7 33,8 35,9 36,9 40,0 33,5 35,9 40,0
Gemiddelde maksimum (°C) 26,1 26,5 25,4 23,0 20,3 18,1 17,5 17,8 19,2 21,3 23,5 24,9 22,0
Gemiddelde temperatuur (°C) 24,5 24,5 24,0 21,7 19,2 16,8 16,5 17,7 19,3 20,4 21,8 23,4 20,8
Gemiddelde minimum (°C) 21,1 21,1 20,2 17,4 13,8 10,6 10,5 12,5 15,3 16,8 18,3 20,0 16,5
Laagste minimum (°C) 14,0 13,3 11,6 8,6 4,9 3,5 2,6 2,6 4,5 8,3 10,3 11,8 2,6
Neerslag (mm) 134 113 120 73 59 28 39 62 73 98 108 101 1 009
Sonskynure (u/d) 5,9 6,3 6,5 6,9 7,2 7,5 7,4 7,0 5,8 5,5 5,5 6,1 6,5
Reëndae (d) 15,2 12,9 12,6 9,2 6,8 4,5 4,9 7,1 11,0 15,1 16,0 15,0 130,3
Humiditeit (%) 80 80 80 78 76 72 72 75 77 78 79 79 77,2
Bron: World Meteorological Organization[8] NOAA[9]

Geskiedenis[wysig | wysig bron]

Die eerste spore van menslike aktiwiteit is rotstekeninge in die nabye Drakensberge en sowat 100 000 jaar oud. Hulle was vermoedelik jagter-versamelaars en is deur Bantoevolke wat ná die suide migreer het, verdryf. Andersins is min oor die tydperk voor die aankoms van Europese koloniste bekend. Die gebied is voor die aankoms van die Europeërs deur Nguni beheer.

Aankoms van die wit mens[wysig | wysig bron]

Uitbeelding van die Slag van Bloedrivier in 1838
Ligging van Durban in KwaZulu-Natal langs die Indiese Oseaan

Durban se natuurlike hawe, wat deur die Zoeloes Thekwini ("Strandmeer") genoem word, is op 25 Desember 1497 deur die Portugese seevaarder Vasco da Gama besoek. Hy noem die plek Rio de Natal of "Kersfeesrivier". Later is die naam gewysig na Port Natal, Portugees vir Kersfees.[10] In 1685 het die Engelse Good Hope die stad besoek, maar op 'n sandbank gestrand.

Port Natal bly drie eeue lank 'n toevlugsoord vir skipbreukeling-seemans, slawe- en ander handelaars. In 1822 het die Salisbury die sandbanke by Durban suksesvol deurkruis en by die Salisbury-eiland vasgemaak. Kaptein James King en Luitenant Francis George Farewell, albei eertydse offisiere van die Britse Vloot tydens die Napoleontiese Oorloë, was met handel tussen die Kaap en die Delagoabaai besig. Hulle het die Zoeloekoning Shaka oortuig om 'n handelstasie vir ivoor en pelse te laat stig. Die eerste blywende nedersetting is in 1823 deur Britse setlaars gestig. Die stad groei vinnig en is in 1835 ter ere van die destydse goewerneur van die Kaapkolonie, sir Benjamin D'Urban, genoem.[11]

Tydens die Groot Trek het in 1837 Piet Retief Durban bereik. In 1839 het die Voortrekkers die Natalia Republiek met die hoofstad in Pietermaritzburg, 80 km noordwes van Durban, gestig. Piet Retief en sy delegasie wou met die Zoeloekoning Dingaan oor grond verhandel, maar die koning het hulle laat vermoor. Dingaan het sy halfbroer Shaka as koning opgevolg, maar was in teenstelling met hom egter vyandelik tenoor blankes gesind. Die moord op Piet Retief het tot spanning tussen Boere en Zoeloes gelei en in die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838 geëindig, wat deur die Boeremagte gewen is. Aansluitend het die Boere die beheer oor Durban en die omliggende gebied oorgeneem.

Britse kolonie[wysig | wysig bron]

Die Britse kamp van Port Natal in 1842 (tekening van die tyd, rondom die Beleg van Congella)
Indiese werkers bereik Suid-Afrika in Durban (Onbekende datum, maar nog voor die Eerste Wêreldoorlog)
Uitsig van The Point, ca. 1885
Stigterslede van die Natalse Indiër Kongres in 1895; Mahatma Gandhi in die agterste ry, vierde van links.

Op 23 Mei 1842 het die Britte die Boere tydens die Beleg van Congella verslaan en die stad, destyds met 'n bevolking van sowat 1 200, oorgeneem. In 1843 het Natal 'n Britse kolonie geword en talle Britte het in Durban gevestig. Suikerrietplantasies is aangelê en suikerriet het die belangrikste uitvoer geword. Op 21 April 1854 word Durban as 'n dorp erken en kry sy eerste dorpsraad. Destyds het Durban 1204 blanke inwoners en op 15 Julie is die Natalkolonie as 'n aparte kolonie met sy hoofstad in Pietermaritzburg gestig.[12]

In 1860 is Suid-Afrika se eerste spoorlyn deur die Natal Railway Company in Durban tussen die hawe en die binnestad in diens gestel. Hierdie spoorlyn is in 1876 die die Natal Government Railways (NGR) oorgeneem. Met die bou van die NGR se spoornetwerk vorder die ekonomie van Natal, veral die uitvoer van suiker. Met die ontdekking van diamante in Griekwaland-Wes in 1868 en veral met die ontdekking van goud op die Witwatersrand in 1886 is die spoornetwerk uitgebrei om die gebiede toegang te gee aan Durban se hawe. Met die voltooiing van die spoorlyn tot Germiston in 1895 is Durban met die Witwatersrand en ook met die res van die spoornetwerk in Suider-Afrika verbind.[13] Nadat die spoorlyn noord-Natal in 1889 bereik het, is dit maklik on steenkool na Durban te vervoer en Durban se hawe word 'n belanglikke brandstof aanvullingplek vir stoomskepe.[14] Tot die opening van die Suezkanaal in 1869 was Durban die laaste Britse hawe in Afrika van Engeland onderweg na Brits-Indië en het dus as "laaste port van die Britse Ryk" bekend gestaan.

Rondom 1850 het veral twee groepe Duitsers in Natal gevestig: die Bergtheil-Koloniste en die Hermannsburgse Sendelinge. Veral kerkgebou en verskeie Duitse vanne in die hedendaagse gebied getuig daarvan.

In die laat 19de eeu arriveer duisende Indiese landarbeiders in die besige stad se plantasies en hulle nakomelinge vorm vandag die belangrike Indiese element van die plaaslike bevolking. Tydens sy verblyf in Suid-Afrika tussen 1893 en 1915 werk die Indiese politikus Mahatma Gandhi vir 'n lang tydperk as 'n advokaat in Durban. Hier het hy die Natalse Indiër Kongres (NIK) gestig, wat later met die ANC sou saamsmelt. In 1915 het Gandhi na Indië teruggekeer en by die Indian National Congress (INC) aangesluit.

Suid-Afrikaanse stad[wysig | wysig bron]

Drietalige apartheidsteken in Durban in Engels, Afrikaans en Zoeloe, wat aandui dat die strand gereserveer is vir gebruik deur Blanke Suid-Afrikaners

Van 12 Oktober tot 5 November 1908 vind die eerste byeenkoms van die Nationale Konvensie onder die leierskap van lord Henry de Villiers in Durban plaas. Die doel van hierdie konvensie is om 'n ooreenkoms van of 'n unie of 'n federasie van vier britse kolonies te maak. Die tweede byeenkoms vind in Kaapstad plaas en op 31 Mei 1910 is die Unie van Suid Afrika gestig.[15]

In 1935 kry Durban stadsregte.[12]

Met die implementering van die Apartheidwette in Suid-Afrika in 1950 het ook Durban se nie-Blankes opgedwonge verskuiwings uit die middestad in die gesig gestaar en hulle is veral na voorstede soos Umlazi verplaas. Met die einde van apartheid na die eerste vrye verkiesings in 1994 is nie-Blankes weer toegelaat om in die binnestad te vestig. Hulle vorm sedertdien die grootste bevolkingsgroep met Zoeloe as belangrikste huistaal, terwyl blankes na voorstede beweeg het. Met die demokratiese ontwikkeling in Suid-Afrika het grootskaalse sosio-demografiese ontwikkelinge gepaard gegaan. Die eThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit is in 1994 gestig en Sipho Ngwenya het die eerste swart burgemeester geword. Soos in die Johannesburgse voorstad Sandton het besighede hul kantore na die Durbanse voorstad en nuwe sakedistrik Umhlanga verskuif.

Durban het ook al verskeie kere as spilpunt van internasionale organisasies opgetree, waarvan Suid-Afrika 'n lidland is en Suid-Afrikaanse presidente hul eweknies vir vergaderings genooi het. Vanaf 2 tot 3 September 1998 het Durban as gasheer vir die Beweging van Onverbonde Lande se 12de vergadering onder leierskap van Nelson Mandela gedien. Tussen 12 en 14 November 1999 is hier die Britse Statebond se 16de Staatshoofdevergadering deur Thabo Mbeki aangebied. Op 9 Julie 2002 is die Afrika-unie in Durban gestig met Thabo Mbeki as eerste president. Vanaf 28 November tot 9 Desember 2011 het hier die 17de Verenigde Nasies se Klimaatberaad plaasgevind.[16] Tussen 26 en 27 Maart 2013 het Durban die vyfde BRICS-spitsberaad onder leierskap van Jacob Zuma gehuisves.

Kuns en Kultuur[wysig | wysig bron]

Durban se binnestad

Durban het 'n ryk kultuur met 'n gemengde inheemse Suid-Afrikaanse en Indiese invloed. Die stad staan bekend vir sy Indiese kookkuns met al die speserye gemeng met tradisionele Zoeloe-kookkuns. 'n bekende Voorbeeld vir Indiese kookkuns in Durban is Bunny chow, 'n eg Suid-Afrikaanse wegneemete.

Musiek[wysig | wysig bron]

Rockmusiek[wysig | wysig bron]

Aangesien Durban hoofsaaklik 'n Engelssprekende streek is, is daar talle wit rockgroepe wat invloed vanuit die Verenigde State en Europa trek, nes vele ander groepe in die res van die land. Urban Creep was baanbrekers in die invoer van die sogenaamde "Durban-gevoel" in hul musiek.[17] In die afgelope jare het rockgroepe hul musiek professioneel begin produseer, wat tot die voortbrag van vele ateljeevervaardigde gehaltealbums gelei het.[17]

Ekonomie[wysig | wysig bron]

Umhlanga se stadshorison

Die kusligging en die natuurlike hawe gee Durban 'n voordeel bo ander metropolitaanse gebiede in Suid-Afrika. Durban is die belangrikste nedersetting in die eThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit, die ekonomiese spilpunt van KwaZulu-Natal. Die stad is 'n soort mengsel van 'n handels- en nywerheidsstad, en die tweede belangrikste ekonomiese sentrum van dié land net ná Gauteng. Durban se ekonomie behels veral nywerhede, handel, logistiek, finansiële en regeringsinstellings asook toerisme. Naas die produserende bedryf is veral landbou met vee soos skape en beeste belangrik. Die stad se lang strande, warm klimaat en tradisionele Zoeloe-Riksjas is veral by toeriste gewild.

Sedert die 1990's het vergelykbaar met die Johannesburgse voorstad Sandton die Durbanse voorstad Umhlanga kantore van besighede gelok. Dié voorstad vorm sedertdien die belangrikste ekonomiese spilpunt van Durban.[18] Umhlanga huisves die Koning Shaka Internasionale Lughawewat in 2010 geopen is

Volgens die laaste sensus van 2011 het Durban 'n werkloosheidsyfer van 30,2% gehad, 'n daling teenoor die 43% van 2001. Sowat 60% van die bevolking is van drinkwater uit krane voorsien, 9% meer as in 2001. Amper 90% van die bevolking het toegang tot elektrisiteit gehad, 'n styging van 10% sedert 2001.[19]

Infrastruktuur[wysig | wysig bron]

Die stad beskik oor 'n internasionale lughawe, Koning Shaka Internasionale Lughawe, terwyl daar ook spoorverbindings met Gauteng is. Die stad is ook verbind met Port Elizabeth en die Noordkus met die N2-nasionale pad, terwyl die N3-nasionale pad hier begin en in Johannesburg eindig. Die twee nasionale paaie kruis mekaar by die "EB Cloete-wisselaar" in Westville. Die N2 tussen Durban en Kaapstad is sowat 1 600 km lank, Pretoria is sowat 620 km noordwes en Johannesburg sowat 570 km.

Lughawe[wysig | wysig bron]

Die Koning Shaka Internasionale Lughawe se passasiersterminaal

Die Koning Shaka Internasionale Lughawe bedien Durban en is in die voorstad La Mercy geleë, sowat 35 km noord van die binnestad. Dié lughawe is op 1 Mei 2010, net voor die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2010, geopen en het die Durban Internasionale Lughawe net suid van die binnestad vervang. Dit maak deel uit van die "Goue Driehoek" van Suid-Afrika, saam met die Kaapstad Internasionale Lughawe en die O.R. Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg. Dit is die negende besigste lughawe in Afrika en die derde besigste in Suid-Afrika, volgens data in 2016.[20]

Die Koning Shaka Internasionale Lughawe het sy operasies met verbindings na Singapoer, Moembaai, Kigali, Luanda, Lilongwe en Nairobi begin. Die lughawe bied gereëlde vlugte na agt plaaslike bestemmings en gereelde geskeduleerde dienste na Doebai, Istanboel, Doha, Mauritius, Lusaka, Windhoek, Gaborone en Maputo. Vanaf 29 Oktober 2018 bied British Airways direkte vlugte aan na die Lughawe Londen-Heathrow.[21]

In die noorde van Durban is die Virginia Lughawe langs die kus geleë. Suid van dié stad is die Lugmagbasis Durban van die Suid-Afrikaanse Lugmag geleë, wat deel uitgemaak het van die ou Durban Internasionale Lughawe.

Seehawe[wysig | wysig bron]

Durban se houerterminaal

Die Durban-hawe is die grootste en besigste hawe in Afrika en is aan groot internasionale skeepsroetes geleë.[22] Durban is een van min natuurhawens tussen die tradisionele mededingers van Maputo en Port Elizabeth. Dit is Suid-Afrika se grootste houerhawe en huisves die vierde grootste houerterminaal in die Suidelike Halfrond. Durban se seehawe bedien Suid-Afrika tot by Gauteng asook Lesotho. Sedert die einde van die Mosambiekse Burgeroorlog het veral Maputo se hawe 'n sterk mededinger vir Durban s'n geword.

Die Durban-hawe huisves ook die Vlootbasis Durban van die Suid-Afrikaanse Vloot. In 2007 het adjunkadmiraal Refiloe Mudimu die verskuiwing van die vlootbasis aangekondig, reeds in 1994 is met die vermindering van gewapende magte begin. In 2013 is hierdie militêre installasies egter heropen, nadat Suid-Afrika sy deelname by die bestryding van seerowery langs die Mosambiekse kus aangekondig het. Dit is reeds in 2012 deur die destydse Minister van Verdediging en Militêre Veterane, Lindiwe Sisulu, aangekondig.

MSC Cruises hanteer die MSC Sinfonia van November tot April elke jaar in Durban. Vanaf die Suider-Afrikaanse kruisseisoen 2018/2019 sal die Durban-hawe die veel groter en nuwer MSC Musica hanteer. Baie ander kruisskepe dok elke jaar in Durban, insluitende sommige van die wêreld se grootstes, soos die RMS Queen Mary 2.[23]

Die stadshorison van Durban

Demografie[wysig | wysig bron]

Meerderheidstale in Durban

   Afrikaans

   Engels

   Xhosa

   Zoeloe

   Geen meerderheidstaal

Etniese meerderhede in Durban

   Swartes

   Bruines

   Asiërs

   Blankes

   Geen dominante

   Geen bevolking

Durban is 'n etnies gemengde stad met kulturele rykdom van gemengde godsdienste en tradisies. Zoeloes vorm die grootste etniese groep. Durban huisves 'n groot aantal Anglo-Afrikane en die meeste Indiërs in 'n enkele stad buite Indië. Indiërs het 'n groot invloed op die Durbanse kookkuns, kultuur en godsdiens.[24]

Volgens die sensus van 2011 het Durban 'n bevolking van 595 061, van wie 15,3 persent blankes, 51,1 persent swartes, 8,6 persent bruines en 24 persent Asiërs was.

Engels is die belangrikste huistaal in die stad wat deur 49,8 persent van sy bewoners gebesig word. Die ander groot huistaal is Zoeloe (33,1 persent).

Soos orals in Suid-Afrika bevat Durban townships van die apartheidsera. Umlazi is die vierde grootste in Suid-Afrika (na Soweto, Tembisa en Katlehong) en die grootste in KwaZulu-Natal.[25]

Jaar Totaal Bruines Swartes Blankes Asiërs Nie gespesifiseer
2001[26] 536 644 55 036 197 907 136 956 146 745
2011[27] 595 061 51 130 304 188 91 212 143 000 5 531

Joodse gemeenskap[wysig | wysig bron]

Talle Jode het ywerig aan die stryd teen apartheid deelgeneem, onder meer tydens fakkeloptogte soos dié een in Durban in 1951, wat die Torch Commando gereël het

Hoewel Durban se Joodse bevolking altyd betreklik klein was vergeleke met dié van Johannesburg en Kaapstad, het hulle deurgaans ’n belangrike rol in die stadslewe gespeel. Een van die stigters van Port Natal was Nathaniel Isaacs, wat hierheen gekom het as jong man in 1825. Belangrike bydraes tot die hawe se vroeë ontwikkeling is gelewer deur Jonas Bergtheil en Daniel de Pass. Natal se eerste berit melih, vir die seun van die Durbaniet D.M. Kisch, is in 1876 uitgevoer deur eerw. S. Rapaport, wat vanaf Port Elizabeth af gekom het vir die seremonie. ’n Joodse begraafplaas is in 1880 aangelê. Drie jaar later is die gemeente gestig en in 1884 is ’n gebou wat eens ’n Metodistekapel was in ’n sinagoge omskep, met Bernard Lipinski (oorlede in 1907) as die eerste president.

Wat munisipale regering betref, is uitsonderlike diens gelewer deur Felix. C. Hollander (1876–1955), wat Durban se burgemeester was van 1910–’13, lid van die Natalse provinsiale uitvoerende komitee (1914–’23 en 1926–’39), senator van 1939–’48 en hoof van die plaaslike Joodse gemeenskap. Charles Phineas Robinson (oorlede 1938) was lid van die Natalse wetgewer en later van die Unieparlement. Sy seun Albert was ook ’n parlementslid en was later hoëkommissaris in Londen van die Sentraal-Afrikaanse Federasie. Nog vooraanstaande Joodse Durbaniete was Philip Wartski (1853–1948) and Solomon Moshal (1894–1986).

Durban is minder beïnvloed deur immigrasie uit Oos-Europa as ander Suid-Afrikaanse gemeenskappe, maar terselfdertyd het die plaaslike Jode ’n aktiewe gemeenskapslewe gehandhaaf. Daar was in 2004 drie Ortodokse en een Hervormde sinagoge, asook die gebruiklike gemeenskaps- en welsynsorganisasies. Die afname in die Joodse bevolking het in 1997 tot die sluiting van die stad se Joodse skool, Carmel College, gelei. In sy plek is die Akiva College in Umhlanga geopen wat onderrig bied aan leerders van gr. 1 tot gr. 12.[28]

Durban se Joodse Klub, die enigste instelling van sy soort in Suid-Afrika, het ’n belangrike rol gespeel in die gemeenskap se ontwikkeling. Die Raad vir KwaZulu-Natal se Jodedom is ’n koördinerende liggaam wat ook optree as provinsiale kantoor van die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes. Sionistiese aktiwiteite staan onder leiding van die KwaZulu-Natalse Sionistiese Raad. In 2004 het Durban se Joodse afstammelinge sowat 2 750 getel.[29]

Onderwys[wysig | wysig bron]

Howard Kollege-kampus van die Universiteit van KwaZulu-Natal

Durban huisves die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN), wat in 2004 uit die samesmelting van KwaZulu-Natal se twee grootste onderwysinstellings, die Universiteit van Natal en die Universiteit van Durban-Westville ontstaan het. Veral die Universiteit van Durban-Westville was 'n belangrike sentrum van die anti-apartheidsbeweging. Daarbenewens huisves Durban ook 'n kampus van die Universiteit van Suid-Afrika. Ander instellings sluit in die Durban Universiteit van Tegnologie en die Mangosuthu Universiteit van Tegnologie.

Vanaf 1921 gebruik die Natal University College (NUC) die Natal Technical College se gebou om lesings in te gee. Die universiteitskollege wou hul eie kampus in Durban hê en TB Davis het £130 000 geskenk te ere van sy seun Howard wat in 1915 by die Slag van die Somme tydens die Eerste Wêreldoorlog gesneuwel het. Die eerste gebou op die nuwe 20 ha kampus kry die naam "Howard College". In 1949 word NUC 'n onafhanklike universiteit met 'n kampus in Pietermaritzburg en die Howard College-kampus in Durban. In 1951 stig die universiteit sy mediese skool in Umbiloweg. Volgens die Uitgebreide Universiteitswet van 1959 mag net blanke studente die universiteit bywoon behalwe vir die mediese skool waar ook nie-blanke studente mag inskryf.[30]

Die voorstad Westville huisves die Deutsche Schule Durban wat in 1971 gestig is en privaat befonds word. Naas Duits word ook onderrig in Afrikaans, Engels en Zoeloe aangebied, maar eers vanaf verskeie grade.

Sport[wysig | wysig bron]

Durban se Kingsmead-stadion word vir krieketwedstryde ingespan
Lugbeeld van die Kings Park-sportkompleks in 2009, links die Moses Mabhidastadion onder konstruksie en regs die Kings Park-stadion; albei stadions huisves rugby- en sokkerwedstryde

Twee van Durban se sokkerspanne ding in die Premier Sokkerliga mee: AmaZulu FC en Golden Arrows. Die AmaZulu FC speel hul tuiswedstryde oorwegend in die Moses Mabhidastadion, terwyl die tuiswedstryde van die Golden Arrows in die Chatsworth Stadion of die Koning Zwelithini Stadion beslis word. Maar ook in die National First Division beskik Durban oor twee sokkerspanne: Real Kings FC en Royal Eagles FC met hul tuistes die Koning Zwelithini Stadion en die Sugar Ray Xulu-stadion, onderskeidelik.

Durban se Natalse Haaie ding jaarliks in die Suid-Afrikaanse Curriebeker mee en hul tuiswedstryde word in die Kings Park-stadion aangebied. Die Sharks verteenwoordig Natal tydens die jaarlikse Superrugbyklubkampioenskap met hul tuiste Kings Park-stadion. Die Dolfyne is KwaZulu-Natal se krieketspan tydens die Sunfoilreeks en die Curriebeker in krieket met die Kingsmead-stadion as hul tuiste.

Durban bied jaarliks verskeie uithouvermoë-wedstryde soos die Comrades-maraton (tussen Pietermaritzburg en Durban) en die Dusi-kanowedvaart (op die Msunduzi-rivier tussen Pietermaritzburg en Durban) aan. Suid-Afrika se voorste ruitersportwedren, die Durban Julie Handicap by die Greyville-renbaan, word jaarliks op die eerste Saterdag van Juliemaand gehuisves.

Durban was een van die gasheerstede vir die Rugbywêreldbeker 1995 en vyf rugbywedstryde is in die Kings Park-stadion gehou, waarvan drie groepwedstryde, een kwarteindstryd en een halfeindstryd. Tydens die Krieketwêreldbeker 2003 is vyf krieketwedstryde in die Kingsmead-stadion aangebied, waarvan twee groepwedstryde, een Super Ses-wedstryd en een halfeindstryd. Tydens die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2010 is in Durban se Moses Mabhidastadion ses groepwedstryde, een agtste eindstryd, een kwarteindstryd en een halfeindstryd beslis.

In September 2015 is Durban as gasheerstad vir die XXIIste Statebondspele aangewys,[31] maar moes in Maart 2017 weens die gebreek aan finansiële middels die rol as gasheer verwerp.[32] Aansluitend is Birmingham, Engeland, as nuwe gasheerstad aangewys.[33]

Besienswaardighede[wysig | wysig bron]

Durban se stadsaal

Susterstede[wysig | wysig bron]

Sien ook[wysig | wysig bron]

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. (en) "Chronological order of town establishment in South Africa based on Floyd (1960:20-26)" (PDF). pp. xlv–lii. 
  2. (en) Evans, Owain. "Chronological Order of Town Establishment in South Africa". Besoek op 5 Julie 2018. 
  3. 3,0 3,1 3,2 3,3 "Hoofplek Durban". Sensus 2011. 
  4. (en) Skade, Thandi (7 Mei 2015). "Durban is SA's fastest-growing 'Millionaire City' | DESTINY Magazine". Destinyconnect.com. Besoek op 5 Julie 2018. 
  5. (en) "Durban". New7Wonders Cities. Besoek op 5 Julie 2018. 
  6. (en) "Strategic Planning Workshop for eThekwini, Umdoni, Vulamehlo Municipalities". Municipal Institute of Learning. 15 Februarie 2016. Besoek op 5 Julie 2018. 
  7. (en) Climate (Webbladsy). durban.gov.za. URL besoek op 11 Desember 2009.
  8. (en) "World Weather Information Service – Durban". World Meteorological Organization. Besoek op 5 Julie 2018. 
  9. (en) "Durban/Louis Botha Climate Normals 1961–1990". National Oceanic and Atmospheric Administration. Besoek op 5 Julie 2018. 
  10. (en) Eric A. Walker (1964) [1928]. "Chapter I: The discovery". A History of Southern Africa. London: Longmans. 
  11. (en) Adrian Koopman. "The Names and the Naming of Durban". Natalia, the Journal of the Natal Society. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 November 2007. Besoek op 9 Julie 2008. 
  12. 12,0 12,1 12,2 (en) "Durban". South African History Online. Durban Timeline 1497 - 1990. Besoek op 8 Julie 2018. 
  13. (en) Ingram, J Forsyth (1895). The Colony of Natal – An Official Illustrated Handbook and Railway Guide. "by authority". 
  14. (en) Guest, Bill (1988). “Commercial Coal-mining in Natal: A Centennial Appraisal”. Natalia 18: 41-58.
  15. (en) Walker, Eric A (1968). A History of Southern Africa (3rd uitg.). London: Longmans. pp. 531–2. 
  16. (en) Black, Richard (11 Desember 2011). "Climate talks end with late deal". BBC. Besoek op 5 Julie 2018. 
  17. 17,0 17,1 (en) Rock/Alternative (Webbladsy). durban.gov.za. URL besoek op 11 Desember 2009.
  18. (en) "Leading financier opens doors in thriving KZN". Business Partners Limited. 29 September 2015. Besoek op 15 Augustus 2016. 
  19. (en) "Ethekwini". Statistics South Africa. Besoek op 5 Julie 2018. 
  20. (en) Africa Visual Data on Twitter. "Africa's 10 Busiest Airports in 2016". Besoek op 5 Julie 2018. 
  21. (en) "British Airways to fly directly between London and Durban". BusinessTech. 8 Mei 2018. Besoek op 5 Julie 2018. 
  22. (en) "Africa's ports: The bottleneck: New investment alone will not fix Africa's ports. Governments need to deal with pilfering officials, too". The Economist. 19 Maart 2016. Besoek op 5 Julie 2018. 
  23. (en) "Cruise ships lining up to visit South African ports this season". Independent Online. 21 November 2017. Besoek op 5 Julie 2018. 
  24. (en) Mukherji, Anahita (23 Junie 2011). "Durban largest 'Indian' city outside India". The Times of India. Besoek op 5 Julie 2018. 
  25. (en) "These are the biggest townships in South Africa". BusinessTech. 14 Augustus 2016. Besoek op 5 Julie 2018. 
  26. (en) Die 2001-sensussyfers soos weergegee deur Adrian Frith. URL besoek op 14 Junie 2018.
  27. (en) Die 2011-sensussyfers soos weergegee deur Adrian Frith. URL besoek op 14 Junie 2018.
  28. (en) Council of KwaZulu-Natal Jewry. URL besoek op 10 November 2017.
  29. (en) Jewish Virtual Library. URL besoek op 14 Junie 2018.
  30. (en) Jackson, Allan (Augustus 2006). "A short history of the University of Natal". Metrobeat. eThekwini Municipality. 
  31. (en) "Durban hosts 2022 Commonwealth Games". BBC. 2 September 2015. Besoek op 5 Julie 2018. 
  32. (en) "Commonwealth Games 2022: Durban 'may drop out as host'". BBC. 28 Februarie 2017. Besoek op 5 Julie 2018. 
  33. (en) "Commonwealth Games: Birmingham announced as host of 2022 event". BBC. 21 Desember 2017. Besoek op 5 Julie 2018. 
  34. (en) "About Belfast". BBC. Besoek op 5 Julie 2018. 

Bronne[wysig | wysig bron]

  • (en) Mary Fitzpatrick u. a.: South Africa, Lesotho, Swaziland. Lonely Planet Publications, Victoria 2004, bl. 281–296, ISBN 1-74104-162-7.
  • (en) Bill Freund: Insiders and Outsiders. Indian Working Class of Durban, 1910–90. Social History of Africa. James Currey Publishers, Portsmouth NH 1995, ISBN 0-85255-616-0.
  • (en) Paul Maylam, Iain Edwards (Hrsg.): A People’s City. African Life in Twentieth-Century Durban. University of KwaZulu-Natal Press, Portsmouth NH 1996, ISBN 0-86980-916-4.

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]