Karringmelk

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek

Karringmelk is 'n geurige, suur melkdrank wat as neweproduk van die bottervervaardiging ontstaan. Danksy die baie lae vetgehalte van minder as een persent is karringmelk een van die mees gesonde suiwelprodukte en 'n belangrike bron van proteïne, kalsium, die vitamienaanvuller lesitien en melksuiker (laktose).

Geskiedenis[wysig]

Volmelk (links) en karringmelk (regs)

Karringmelk word reeds sowat 4 500 jaar gelede in Indië, Mesopotamië en Egipte vervaardig. Gewoonlik is melk in houers, wat van bokleer, erdewerk of pampoene gemaak is, geskud tot die room (die bottervet) van die melk begin afskei. Die bottervet is daarna geklits en geknee totdat botter ontstaan - en tegelykertyd karringmelk begin uitvloei.

Karringmelk staan vinnig as 'n verversende melkdrank bekend.

Later word bottervate gebruik om botter te vervaardig. Vandag word karringmelk op 'n meer higiëniese manier in houers van vlekvrye staal industrieel vervaardig. Vir 'n lang tyd kon karringmelk egter slegs binne 'n paar dae na sy bereiding geniet word, aangesien die laktobakterië die karringmelk vinnig begin versuur.

Teen die jaar 1970 begin 'n Duitse suiwelfabriek daarmee om eerder soetroom as suurroom vir die vervaardiging van karringmelk te gebruik en kan sodoende die houbaarheid van karringmelk tot sowat vier weke verleng. By hierdie metode word soetroom-karringmelk versigtig verhit en deur middel van verdamping ontwater. Deur byvoeging van spesiale laktobakterië word die kenmerkende geurige, suur smaak van karringmelk verkry.

Karringmelk as 'n skoonheidsmiddel[wysig]

Karringmelk is ook 'n gewilde skoonheidsmiddel, wat velprobleme kan versag. Die suurstof en swael van die karringmelkproteïene is byvoorbeeld noodsaaklik vir 'n gesonde, gladde vel.

Uitwendig aangewend, is karringmelk 'n geskikte natuurproduk om die vel skoon te maak en die seer van sonbrand uit te trek. Saam met eierwit dien karringmelk as 'n natuurlike skoonheidsmasker.