Klein-Drakensteinberge
Die Klein-Drakensteinberge is 'n bergreeks in die Kaapse Plooigordel in die Wes-Kaap, Suid-Afrika. Die bergreeks is oos van Paarl en die N1 nasionale pad gaan via die Hugenotetonnel deur die berg. Voor die tonnel gebou was, moes reisigers die Du Toitskloofpas gebruik het om oor die berg te gaan. Die pad bestaan nog as die R101 provinsiale pad. Die Klein-Drakensteinberge staan met die Groot-Drakensteinberge bekend as die Drakensteinberge. Die bekendste pieke in die reeks is Middagberg (1107 m), Vaalkop (888 m), Haelhoek Sneeukop (1532 m), Suikerboskop (1252 m) en Perdekop (1121 m). De Wilde Paarde Jagt en Lustigaan is die bekendste historiese plase in die streek.
Die naam
[wysig | wysig bron]Die naam het niks met drake te doen nie. Dit is deur goewerneur Simon van der Stel in Oktober 1687 toegeken en hy het Kommissaris-Generaal Hendrik Adriaan van Reede tot Drakestein vereer wat die Kaap in 1685 besoek het en aan hom die grond van Groot Constantia toegeken het. Die naam Drakestein verwys na die Kasteel Drakestein wat nou die tuiste van die Nederlandse prinses Beatrix is. Van Reede se pa was eienaar hiervan.
Bronne
[wysig | wysig bron]- Coertzen, Pieter: Die Hugenote van Suid-Afrika 1688 - 1988. Kaapstad: Tafelberg, 1988. ISBN 0-624-02618-3
- Cape West: 2nd edition. A relief map of the most southerly part of Africa.
- Op Pad in Suid-Afrika. B.P.J. Erasmus. Bl 21. 1995 ISBN ISBN 1-86842-026-4
- Slingsby, Peter: Cape Winelands, the map. Muizenberg: Baardskeerder, 2010. ISBN 978-1-920377-05-2