Louis Gossett jr.
Louis Gossett | |
Gossett in Februarie 2008.
| |
Geboortenaam | Louis Cameron Gossett jr. |
---|---|
Geboorte | 27 Mei 1936 |
Sterfte | 29 Maart 2024 |
Aktiewe jare | 1957-2024 |
Louis Cameron Gossett jr. (gebore op 27 Mei 1936 - 29 Maart 2024) was ’n Afro-Amerikaanse akteur. Hy is seker die bekendste vir sy rolle as sersant Emil Foley in die 1982-rolprent An Officer and a Gentleman, waarvoor hy ’n Oscar gewen het, as Fiddler in die 1977-TV-minireeks Roots, waarvoor hy ’n Emmy ingepalm het, en Ol' Mister in The Color Purple (2023).
Loopbaan
[wysig | wysig bron]Gossett het sy verhoogdebuut in 1953 gemaak toe hy ’n ander akteur vervang in die Broadway-toneelstuk Take a Giant Step,[1] wat deur The New York Times se dramaresensente gekies is as een van die 10 beste toneelstukke van die jaar. Gossett het ook die Donaldson-prys vir beste nuweling gewen. Hy was 17 en nog op skool, sonder enige formele dramaopleiding.
Sy latere Broadway-toneelstukke sluit in A Raisin in the Sun (1959). Sy rolprentdebuut was in 1961 in Sidney Poitier se fliekweergawe daarvan met dieselfde naam.
Hy was in dieselfde jaar een van die oorspronklike akteurs van Jean Genet se toneelstuk The Blacks. Met 1 408 opvoerings het dit die langste Off-Broadway-speelvak van die dekade gehad.[2]
Die rol in Roots het hom in 1977 bekend gemaak. Terwyl hy in die wetenskapsfiksiereeks The Powers of Matthew Star (1982–1983) te sien was, het hy ook in An Officer and a Gentleman gespeel. Sy rol as die drilinstrukteur in dié prent het hom die eerste swart persoon gemaak wat ’n Oscar vir beste manlike byspeler wen, die tweede swart man wat ’n Oscar vir toneelspel kry en net die derde een wat enigsins ’n Oscar wen.
Benewens stemwerk in produkte soos die geanimeerde TV-reeks The Batman en die videospeletjie Half-Life 2, was hy ook in Left Behind: World at War (2005) en die omstrede drama Boiling Pot (2013), wat gebaseer is op ware voorvalle van rassisme by universiteite tydens die Amerikaanse presidentsverkiesing van 2008. In 2014 het hy in Boiling Pot die rol van ’n speuder vertolk wat ’n moord moet oplos wat deur rassisme aangevuur is terwyl hy sy eie vooroordele eenkant toe moet skuif.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ "Take A Giant Step". Jan Hus Playhouse (in Engels). Lortel Archives. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 September 2015. Besoek op 27 Oktober 2012.
- ↑ "Louis Gossett, Jr". thehistorymakers.com (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Junie 2017. Besoek op 27 Februarie 2016.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Louis Gossett jr. in die Internet-rolprentdatabasis
- Louis Gossett jr. in die Internet-Broadway-databasis
- ’n Onderhoud met Louis Gossett by SCVTV.com
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Louis Gossett jr.
- Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia