Muḥammad ibn Mūsā al-Khwārizmī

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Muḥammad ibn Mūsā al-Khwārizmī
1983 CPA 5426 (1).png
Posseël uit die Sowjetunie wat Al-Khwarizmi uitbeeld

Gebore ca. 780
Khwarezm[1]
Oorlede ca. 850
Bekend vir Verhandelinge oor algebra en Indiese syfers
Invloed op Abū Kāmil Shujāʿ ibn Aslam[2]

Muḥammad ibn Mūsā al-Khwārizmī (Persies: محمد بن موسى الخوارزمي; diverse spellingsvariante) was 'n Persiese[3] figuur wat een van die beroemdste wetenskaplikes op die gebiede van wiskunde, geografie en astrologie was. Hy is tussen 780 en 800 gebore en het tussen 840 en 845 gesterf. Al-Khwarizmi het aan die Huis van Wysheid in Bagdad gestudeer.

Hy is in die streek Khorazmië gebore, destyds 'n deel van die Persiese Ryk (later as Xiva bekend, deesdae die provinsie Xorazm in Oesbekistan). Die naam Al-Khwarizmi beteken "van Khorazmië". Sy gesin het kort daarna na 'n dorpie naby Bagdad verhuis, waar hy in die tydperk 813 tot 833 die grootste gedeelte van sy werk geskryf het. Dis onduidelik watter taal hy gepraat het – Persies is 'n moontlikheid, maar waarskynlik is dit ook Khorasmisies, 'n dialek van Persies wat in onbruik geraak het. Khwarizmi het al sy werke in Arabies geskryf, die taal van die wetenskap in die Islamitiese wêreld.

Die konsep van 'n algoritme in wiskunde is sy idee. Om hierdie rede word hy wel die "vader van rekenaarwetenskap" genoem. Die woorde "algoritme" en "algorisme" is van sy naam afgelei, dus bewys dit sy belang as 'n wetenskaplike.

Verder het hy groot bydraes tot gebiede soos algebra, trigonometrie, astronomie, astrologie, aardrykskunde en kartografie opgelewer. Sy sistematiese en logiese benadering van die oplossing van lineêre en kwadratiese vergelykings het gestalte aan algebra gegee, 'n vakgebied wat van sy boek se naam afgelei is. Die beroemde boek is Hisab al-jabr wa al-Muqabala (Arabies: حساب الجبر و المقابلة) - "die teorie van transformasie en herstel", dit verwys na die maniere waarop deelterme in algebraïese terme gemanipuleer kan word.

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. Berggren 1986; Struik 1987, p. 93
  2. (en) O'Connor, John J.; Robertson, Edmund F., "Abū Kāmil Shujā‘ ibn Aslam", MacTutor History of Mathematics archive, University of St Andrews.
  3. Toomer 1990; Oaks, Jeffrey A. "Was al-Khwarizmi an applied algebraist?". University of Indianapolis. Verkry op 2008-05-30. ; Hogendijk, Jan P. (1998). “al-Khwarzimi”. Pythagoras 38 (2): 4–5.