Neville Alexander

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
Neville Alexander
’n Beeld van die betrokke persoonlikheid.
Neville Alexander by die Wêreldkonferensie van Afrika-taalwetenskap in Keulen, 18 September 2009

Geboortenaam Neville Edward Alexander
Gebore 22 Oktober 1936
Cradock, Oos-Kaap
Oorlede 27 Augustus 2012
Nasionaliteit Suid-Afrika
Beroep Taalkundige, akademikus
Bekend vir Linguapax-prys
Mandela se tronkmaat

Neville Alexander (1936–2012) was 'n Suid-Afrikaanse taalkundige, akademikus en oudstryder teen apartheid.[1] Hy het veeltaligheid bepleit en die ontwikkeling van Suid-Afrika se inheemse tale voorgestaan. In 2008 is hy met die internasionale Linguapax-prys vir sy bydrae tot taalkundige diversiteit en veeltalige onderwys bekroon.

Vroeë lewe[wysig | wysig bron]

Alexander is op 22 Oktober 1936 in Cradock in die Oos-Kaap, Suid-Afrika gebore. Sy ouers was David James Alexander, 'n timmerman, en Dimbiti Bisho Alexander, 'n skoolonderwyser.[2] Sy moeder se ouma was 'n Ethiopiër wat deur die Britte van slawerny gered is.[3]

Hy word by die Holy Rosary Convent in Cradock geskool en matrikuleer in 1952. Daarna studeer hy ses jaar aan die Universiteit van Kaapstad, waar hy 'n BA-graad in Duits en Geskiedenis verwerf (1955). Hy voltooi sy Honneurs in Duits 'n jaar later. Daarna doen hy 'n MA in Duits. Sy tesis is oor die Silesiese barokdramaturge Andreas Gryphius en Daniel Caspar von Lohenstein. In 1961 verwerf hy 'n PhD van die Universiteit van Tübingen met 'n verhandeling oor die stylverandering in die dramatiese werk van Gerhart Hauptmann.

Apartheidsjare[wysig | wysig bron]

Alexander was 'n medestigter van die Nasionale Bevrydingsfront in 1963. In 1964 is hy gearresteer en skuldig bevind aan sameswering om sabotasie te pleeg. Hy is vanaf 1964 tot 1974 op Robbeneiland aangehou.[4]

Ná Apartheid[wysig | wysig bron]

In 2008 ontvang Alexander die Linguapax-prys. Die prys word jaarliks sedert 2000 toegeken vir bydraes tot taalkundige diversiteit en veeltalige onderwys. Volgens die sitaat het hy meer as 20 jaar van sy beroepslewe gewy om meertaligheid in 'n post-Apartheid Suid-Afrika te bevorder en het hy een van die groot voorstanders van taalkundige diversiteit geword.[5]

Hy het in 2005 omstrede uitlatings gemaak en onder andere 'n deelnemer van die Afrikaanse Taalberaad op Stellenbosch uitgejou met: "Die Afrikaner is 'n lyk. Dis net jy wat nog daaraan glo omdat jy oningelig is."[6]

Hy was ook 'n voorstander vir die herstandaardisering van Afrikaans.

Dood[wysig | wysig bron]

Alexander is op 27 Augustus 2012, op 75-jarige ouderdom, na 'n lang siekbed aan kanker oorlede.[7]

Publikasies[wysig | wysig bron]

Sy boeke sluit in:

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. Struggle vet Alexander dies The New Age, 28 April 2012
  2. "SA History – Neville Edward ALEXANDER". Besoek op 21 Februarie 2009. 
  3. Sandra Rowoldt Shell (25 Augustus 2011). "How an Ethiopian slave became a South African teacher". BBC News. Besoek op 24 August 2012. 
  4. "PBS Interview about Mandella". Besoek op 21 Februarie 2009. 
  5. "Niamey Blog". Besoek op 21 Februarie 2009. 
  6. Die nalatenskap van Neville Alexander, PRAAG, 29 Augustus 2012 (Skakel nie aktueel!)
  7. Notice of death of Neville Alexander

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]