Rolbeton

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search

Rolbeton is die verkorte naam vir rollergekompakteerde beton, 'n besondere betonmengsel wat dieselfde bestanddele soos konvensionele beton bevat, maar in 'n veranderde verhouding. Portlandsement, wat tradisioneel as bindmiddel gebruik is, word vir rolbeton in toenemende mate gedeeltelik deur vliegas vervang. Rolbeton is sodoende 'n mengsel van sement, vliegas, water, sand en bymiddels, met 'n laer waterinhoud as gewone beton. Rolbeton se sementinhoud kan tot vyftig persent verminder word. Sy tipiese vogtigheid is vergelykbaar aan dié van gewone grond.

Dié droë mengsel is minder geneig om te set. In konvensionele beton word bindingsprosesse gewoonlik reeds na sowat een uur gestaak en die beton begin set. Die materiaal verloor sy sterkte en moet nie weer hermeng word nie. Rolbeton daarenteen lewer feitlik geen verharde beton (betonafval) meer op nie.

Klaar gemengde, vormhoudende rolbeton word deur swaarkapasiteitstoerusting soos storttrokke of vervoerbande na 'n struktuur vervoer, deur stootskrapers in lae gegiet en gelyk gemaak.[1] Vervolgens word dit deur swaar vibreerrollers verdig en ontlug. Aangesien dit minder krimp as gewone of massabeton, kan rolbeton in onafgebroke lengtes geplaas word. Die gebruik van gewone beton bly gewoonlik beperk tot enkelblokplasing.

Rolbeton het ingang gevind tot dambou met die Alpa Gera-damprojek in Noord-Italië tussen 1961 en 1964, al is die beton destyds nog nie gerol nie. Gedurende die 1970's is die voordele van rolbeton vir dambou en ander boutoepassings in ingenieurtydskrifte uitgelig. Nogtans is rolbeton aanvanklik hoofsaaklik aangewend vir terugvulling, fondamente en padbou voordat kostebesparings en ander voordele van rolbeton ook 'n algemeengebruikte boumateriaal vir swaartekragdamme gemaak het. Vir damboudoeleindes word laes van sowat 30 sentimeter gegiet.

Rolbetonlae vir paaie is tussen 18 en 25 cm dik. Die gehalte van rolbeton-deklae vir padboudoeleindes is egter beperk. Dit voldoen slegs aan die behoeftes van lande met lae padboustandaarde soos die Verenigde State, terwyl rolbeton in Duitsland nie as geskik geag word vir padboudoeleindes nie.[2] 'n Moontlike oplossing is die gebruik van konvensionele asfalt as boonste deklaag.

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. Beeld, 27 April 1990: Dam binne rekordtyd voltooi vir gasaanleg. Besoek op 10 Mei 2016
  2. Gerhard Drees: Baumaschinen und Bauverfahren. Renningen: Expert-Verlag 2002, bl. 188 ISBN 3-8169-2060-8