Stella Branca

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
Stella Branca 

Stella Branca (*19 September 1924, Kaapstad -†) is ’n Afrikaanse skrywer en kunstenaar. Verskeie van haar verhale handel oor die Namakwalandse mense en omgewing.

Lewe en werk[wysig | wysig bron]

Stella Steenkamp is op 19 September 1924 in Kaapstad gebore as dogter van die bekende predikant, politikus en chirurg dr. Willem Petrus Steenkamp en Antoinetta Catharina Susanna Steenkamp. Beide haar ouers raak ook bekend vir hulle skryfwerk. Vandat sy klein is, gaan sy elke jaar na Namakwaland sodat die droë lug op haar oupa, Tobias Beukes, se plaas by die Kamiesberg haar brongitis kan verbeter. Sy studeer aan die Universiteit van Kaapstad en behaal ’n Diploma in Handelskuns, waarna sy vir vyf jaar by uitgewers werk. In hierdie tyd onderneem sy twee buitelandse reise en studeer ook in die skone kunste in Parys in Frankryk, waar sy onder andere klas kry in Toulouse Lautrec se ateljee. Sy is vir etlike jare redakteur van die jeugtydskrifte Bollie, Tina en Bunny, waarna sy redakteur word van die Ou Mutual se nuusbrief Mutual Forum en Vroueburo-Forum, wat deur Ou Mutual geborg word. Laasgenoemde nuusbrief voorsien vroue van gratis advies oor finansiële, maatskaplike, opvoedkundige, arbeids en regsaangeleenthede. Nadat sy aangerand word, neem sy lesse in karate om haarself te kan beskerm en vorder tot by die tweede Dan (swart gordel) in hierdie sportsoort.[1] Sy is in 1950 getroud met ’n Italianer en het drie kinders, twee seuns en ’n dogter, maar is in 1968 geskei. Op grond van haar debuutroman word sy uitgenooi om lid te word van die Afrikaanse Skrywersgilde.[1] Benewens Afrikaans en Engels is sy ook Italiaans en Frans magtig. In 1998 emigreer sy na die Verenigde State van Amerika en vestig haar in Yucaipa in San Bernadino. Hier maak sy ’n lewe uit haar kuns deur veral portrette op aanvraag te skilder en ook uitstallings van haar kunswerke te hou.

Skryfwerk[wysig | wysig bron]

Die omgewing en mense van Namakwaland is die voedingsbron vir haar roman Sewe maer are[2] en sy keer telkens terug na hierdie gebied om nog stories te versamel. Die roman speel af teen die agtergrond van die kwaai droogte wat Namakwaland sewe jaar lank tussen 1958 en 1965 geteister het en is gebaseer op vertellings van haar oom, destyds ’n boer in daardie geweste. Die verhaal van die roman is egter yl en die boek kan eerder getipeer word as die aanmekaarvleg van verskeie anekdotes waarmee die karakters aan die leser voorgestel word en die eiesoortigheid van die streek gedokumenteer word.[3]

Die Leeu van die Noordweste is die lewensverhaal van haar vader, wat as predikant, dokter en onafhanklike Volksraadslid diep spore getrap het in die gemeenskap. Hierdie verhaal vertel sy ook in Engels, wanneer dit gepubliseer word as The maverick.

Sy vertaal ook werke in Afrikaans, insluitende Hermione Suttner se Swerwer van die sonland.

Publikasies[wysig | wysig bron]

  • 1976 Sewe maer are
  • 2002 Die Leeu van die Noordweste
  • 2015 The maverick

Vertaling[wysig | wysig bron]

  • 1980 Swerwer van die sonland – Hermione Suttner

Verwysings[wysig | wysig bron]

Tydskrifte en koerante[wysig | wysig bron]

  • Martin, Wille. Deskundige met baie talente neem voortou. Die Transvaler, 23 April 1982
  • Moolman, Elretha. Willie se ou lady het haar swart gordel. Beeld, 29 Julie 1981

Ongepubliseerde dokumente[wysig | wysig bron]

Ander verwysings[wysig | wysig bron]