Björk

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Björk
Björk - Hurricane Festival.jpg
Björk by die Hurricane Festival in Duitsland in 2003
Geboortenaam Björk Guðmundsdóttir
Oorsprong Reykjavik, Ysland
Beroep(e) Vokalis, musikant, komponis, liedjieskrywer, musiekregisseur, musiekprogrameerder, aktrise
Genre(s) Alternatiewe rock, elektronika, trip hop, Avant-garde musiek
Instrument(e) Sangstukke, klawerbord, klavier, fluit
Aktiewe jare 1977 — hede
Uitgewer(s) One Little Indian, Elektra, Atlantic, Polydor, Mother, Smekkleysa
Webwerf bjork.com
Portal.svg Musiekportaal

Björk Guðmundsdóttir (gebore op 21 November, 1965) is 'n Yslandse sangeres, liedjieskrywer, komponis, aktrise en musiekregisseur. Sy is al benoem vir 13 Grammy-toekennings, twee Golden Globe-toekennings (een vir toneelspel) asook vir 'n gesogte Oscar-toekenning.

Sy is meestal bekend vir haar ekspressiewe sangstukke en haar belangstelling in menigte tipes musiek,[1] soos pop, alternatiewe rock, jazz, elektronika, klassiek sowel as volksmusiek. Sy word ook uitgeken vanweë haar eksentrieke uitrustings onder andere haar beroemde/berugte swaanrok. Liedjies soos "It's Oh So Quiet", "Army of Me" en "Hyperballad" het almal al 'n posisie op die UK Top 10 beklee.

Haar platemaatskappy, One Little Indian, het in 2003 berig dat sy al meer as 15 miljoen albums wêreldwyd verkoop het.[2] Haar nuutste album, Volta, het sy wêreldwye bekendstelling op 8 Mei 2007 gehad. Dan is sy ook al 15de gelys op VH1 se "The 100 Greatest Women in Rock and Roll"[3] asook 8ste op MTV se "22 Greatest Voices in Music".

Beginjare[wysig]

Björk is gebore en grootgemaak in Reykjavík. Haar musiek loopbaan het op die ouderdom van 11 begin toe sy in die laerskool klassieke klavier begin bestudeer het. Een van Björk se leermeesters het 'n opname gemaak van hoe Björk Tina Charles se liedjie I Love to Love sing en dit aan RÚV gestuur, wat toe die enigste radiostasie in Ysland was. Die opname is landwyd uitgesaai en 'n verteenwoordiger van die platemaatskappy Fálkinn het dit gehoor en haar 'n platekontrak aangebied. Die album Björk is toe opgeneem en vrygestel in 1997.

In haar tienerjare is Björk beïnvloed deur punk en op 14 het sy 'n meisies-alleen punk groep gestig, Spit and Snot, wat kort daarna in 1979 gevolg was deur die jazz fusion groep Exodus. In 1980 het sy gegradueer van musiekskool. In 1981 het sy en basspeler Jakob Magnússon nog 'n groep gestig, genaamd Jam-80, wat later verander het na Tappi Tíkarrass (wat beteken "Prop die Teef se Gat" in Yslands). In dieselfde jaar het hul ook 'n uitgebreide liedjie vrygestel genaamd "Bítið Fast í Vítið". Hul volgende album Miranda is vrygestel in 1983.

Daarna het Björk met Einar Örn Benediktsson en Einar Melax van Purrkur Pillnikk meegewerk, asook Guðlaugur Óttarsson, Sigtryggur Baldursson en Birgir Mogensen van Þeyr. Nadat hulle 'n paar liedjies geskryf en gerepeteer het vir twee weke, het hul nuwe groep KUKL ("towenary " in Yslands), 'n nuwe klank geskep wat beskryf kon word as Gothic rock. Björk het aanduidings begin wys van haar handelsmerk-sangstyl, wat 'n gegil en geskreeu ingesluit het.

-KUKL- het saam met die VKse punkgroep Crass in Ysland getoer, en later die VK besoek vir 'n reeks optredes saam met Flux of Pink Indians. As 'n resultaat van hierdie samewerkings het hulle twee albums vrygestel: The Eye in 1984, en Holidays in Europe in 1986, albei onder Crass Records.

Die groep het uiteindelik opgebreek, deels as gevolg van die staking van hul uitgewer, Gramm. Middel 1986 het heelwat van die lede van KUKL en die groep Medusa saamgekom om Smekkleysa (Slegte smaak) te stig. Hulle het 'n musikale afdeling geskep, weereens genaamd KUKL, maar het later besluit om dit te vernoem na The Sugarcubes.

Verwysings[wysig]

  1. Down time: BjorkThe Sunday Times, Robert Sandall, 23 Maart 2008
  2. Inside Björk DVD dokumentêr (2003). Documentary spanning Björk's musical career.
  3. The Greatest: 100 Greatest Women of Rock & Roll (100 - 81) | VSPOT Video Clips, Photos, Episodes and Online Message Boards from the Reality TV Show | VH1.com