Louis Blériot

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Louis Blériot

Louis Charles Joseph Blériot (1 Julie 18722 Augustus 1936) was 'n Franse ontdekker en ingenieur wat die eerste vlug onderneem het oor 'n groot liggaam water met 'n tuig swaarder as lug.

Louis Blériot is gebore in Cambrai en het ingenieurswese gestudeer by die École Centrale Paris. Hy ontwikkel vroeg 'n belangstelling in die lugvaart en in 1900 bou hy 'n motoraangedrewe masjien wat 'n klapvliegtuig (ornithopter) genoem word. Sodanige tuig was veronderstel om te vlieg deur sy vlerke te klap. Soos ander klapvliegtuie voor dié een het die eksperiment ook nie geslaag nie, maar hy het voortgegaan om te werk aan 'n praktiese vliegtuig.

Gedurende 1903, het Blériot saam met Gabriel Voisin, 'n vliegtuigontwerper, die maatskappy Blériot-Voisin gestig. Die maatskappy bou 'n watersweeftuig in 1905 wat wel gesweef het. Hulle ontwikkel ook 'n dubbeldekkervliegtuig wat aangedryf word deur 'n Antoinette-motor. Die maatskappy kom tot 'n einde in 1906, en Blériot begin om vliegtuie volgens sy eie ontwerp te bou en te vlieg.

Soos ligter enjins beskikbaar geword het, het hy vliegtuie ontwerp met verskillende konfigurasies wat strek van die boks-vlieër tot die eendvliegtuig. Die Blériot V was die wêreld se eerste suksesvolle enkelvlerkvliegtuig. Hierdie vliegtuig het die eerste keer in 1907 gevlieg maar na dit geval het, is dit geskrap.

'n Prys van eenduisend pond is uitgeloof deur die Londense Daily Mail vir die eerste suksesvolle vlug oor die Engelse Kanaal wat Blériot geïnteresseer en hom aangemoedig het om sy vierde enkelvlerkvliegtuig en sy eerste werklike suksesvolle vliegtuig die Blériot XI te ontwikkel. Nadat hy die Europese uithourekord verbeter het met 'n tyd van 36 minutes 55 sekondes en 'n oorland prys gewen het, het Blériot seker genoeg gevoel om die Engelse kanaal aan te durf. Op 25 Julie 1909 het hy die vlug van Calais na Dover onderneem in 'n tyd van 37 minute, tot vreugde van die Franse en ontsteltenis van die Britte wat skielik bewus gemaak is dat hul moontlik aan lugaanvalle blootgestel kan wees.

Kort hierna het Blériot sy aandag gevestig op lugvaartontwerp en vliegtuigboukunde. Hy het die president geword van die sukkelende vliegtuigmaatskappy Société pour les Appareils Deperdussin in 1914. Hy hernoem die maatskappy Société Pour l'Aviation et ses Dérivés (SPAD) en omskep dit in een van Frankryk se voorste vervaardigers van vegvliegtuie. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het SPAD meer as 5 600 vliegtuie vir Frankryk gebou en ook uit na Brittanje en ander lande uitgevoer is. Hy open ook vliegskole voor die Eerste Wêreldoorlog in Engeland by Brooklands- en Hendon-vliegveld, sowel as 'n fabriek in 1917 by Addlestone, naby Brooklands, Surrey.

Na die oorlog stig Blériot sy eie maatskappy, Blériot-Aéronautique, vir die ontwikkeling van kommersiële vliegtuie. Hy sterf in Parys in 1936 en word in die Cimetière des Gonards in Versailles te ruste gelê.

Commons
Wikimedia Commons het meer media verwant aan: