Michel de Montaigne

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek

Michel-eyquem-de-montaigne 1.jpg

Michel Eyquem de Montaigne

Franse essayis


Leuse
Montaignes Motto.png
"Wat weet ek?"


Tydperk
Renaissance-filosofie


Skool
Renaissance-humanisme


Beduidende werke

Essais Titelblatt (1588).png
Essais (1580)

Michel Eyquem de Montaigne (/miʃɛl ekɛm də mɔ̃tɛɲ/, * 28 Februarie 1533, † 13 September 1592 in die kasteel Montaigne, Périgord, Frankryk) is een van die invloedrykste skrywers van die Franse Renaissance. Hy word as die vader van moderne skeptisisme beskou, maar het ook 'n beslissende rol in die popularisering van die essay as literêre genre gespeel.

Montaigne het onder meer bekendheid verwerf met die bekwaamheid waarmee hy ernstige intellektuele spekulasie met terloopse anekdotes en sy eie lewensloop versmelt het. Sy hoofwerk Essais bevat essayistiese werke waarvan sommige ook vandag nog as die indvloedrykste essays wat ooit geskryf is beskou word.

Montaigne het regstreekse invloed op skrywers dwarsoor die wêreld uitgeoefen, waaronder René Descartes, Blaise Pascal, Jean-Jacques Rousseau, Ralph Waldo Emerson, Friedrich Nietzsche, Stefan Zweig, Eric Hoffer, Isaac Asimov en moontlik ook William Shakespeare.

Gedurende sy leeftyd het Montaigne eerder as staatsman erkenning geniet, terwyl aan sy literêre werk minder aandag geskenk is. Sy neiging om in sy essays dikwels na anekdotes en uitgebreide persoonlike refleksies af te dwaal is deur sy tydgenote nie as literêre innovasie beskou nie, maar het sy styl vir hulle eerder nadelig beïnvloed. Montaigne het dit duidelik gemaak dat hy self die sentrale onderwerp van sy werke was - 'n houding waarvoor hy as hedonisties bestempel is.

Uiteindelik het Montaigne egter erkenning vir sy twyfelende gees en sy onderhoudende skryfstyl geniet. So staan hy bekend vir sy skeptiese opmerking Que sais-je? ("Wat weet ek eintlik?"). Montaigne het 'n poging onderneem om die wêreld deur die enigste lens te ondersoek waarop hy kon vertrou - sy eie oordeelsvermoë. Sodoende is Montaigne se werke meer toeganklik vir moderne lesers as dié van ander Renaissance-skrywers. Baie skrywers van moderne nie-fiksie het inspirasie in sy werke gevind, en skrywers van uiteenlopende genres lees Montaigne steeds vanweë sy meesterlike balans tussen intellektuele kennis en persoonlike storievertelling.