Rooi Leër

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Die Rooi Leër se vlag.
Die Rooi Leër in 1921.

Die Rooi Leër was die weermag van die Sowjetunie nadat die leërs van die Russiese tsare verbrokkel het. Die amptelike Russiese naam is Рабоче-крестьянская Красная Армия, wat vertaal kan word as die Rooi Arbeiders- en Boereleër.

Die Rooi Leër is amptelik op 23 Februarie 1918 gestig. Voor dit was daar reeds 'n Rooi Garde, maar hulle het eerder as 'n soort party-polisie van die Bolsjewiste as 'n leër gefungeer.

Leon Trotski word as die stigter en organiseerder beskou.

In 1920 word Michail Toechatsjefski die opperbevelhebber van die Rooi Leër, 'n pos wat hy tot 1937 sou beklee. In hierdie jaar is bykans die hele topbestuur, insluitende Toechatsjefski, tereggestel nadat Josef Stalin vir 'n staatsgreep gevrees het. Hierdie gebeurtenis is eufemisties as 'n "suiwering" beskryf. Offisiere met laer range word tereggestel, tot dwangarbeid veroordeel of ontslaan. Die party het hierdie poste met politiek betroubare, maar minder bekwame offisiere gevul. As gevolg hiervan het enorme chaos tydens die Duitse aanval op Rusland in 1941 geheers en het die Rooi Leër enorme verliese gelei.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog was maarskalk Georgi Zjoekof die opperbevelhebber. Onder sy leiding het die Rooi Leër die Duitsers op die oostelike front verslaan, wat tot die val van Berlyn gelei het.

Die Rooi Leër het beide 'n militêre en politieke komponent gehad. Vir elke bevelvoerder van 'n reglement was daar ook 'n politieke kommissaris. Die doel hiervan was om te verseker dat offisiere en soldate kommunisties geskool bly. Later is die stelsel van politieke kommissarisse afgeskaf.

In 1935 benoem die Raad van Volkskommissarisse (die kabinet van die USSR) vyf persone van die Rooi Leër as maarskalk van die Sowjetunie. Tydens die Tweede Wêreldoorlog is meer generaals tot maarskalk van die Sowjetunie bevorder.

In 1946 is die woord 'Rooi' uit die naam gehaal, en het die leër as die Sowjet-leër bekend gestaan.

Verskeie terroristegroepe soos die Rote Armee Fraktion, asook die Japannese Rooi Leër het 'n doelbewuste verwysing na die Rooi Leër in hul name.