The Last Temptation of Christ (rolprent)

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
The Last Temptation of Christ
Regisseur Martin Scorsese
Geskryf deur Nikos Kazantzakis (roman)
Paul Schrader (draaiboek)
Met Willem Dafoe
Harvey Keitel
Barbara Hershey
David Bowie
Harry Dean Stanton
Musiek deur Peter Gabriel
Kinematografie Michael Ballhaus
Redigeerder Thelma Schoonmaker
Vrystelling 1988
Speeltyd 164 min
Land VSA
Taal Engels
Begroting VSA-$ 7 miljoen
IMDb-profiel

The Last Temptation of Christ is 'n rolprent van die meesterregisseur Martin Scorsese wat in 1988 deur die Amerikaanse ateljee Universal Pictures vrygestel en op die Griekse skrywer Nikos Kazantzakis se gelyknamige kontroversiële roman uit die jaar 1951 gegrond is. Die rolprent pronk met sterre soos Willem Dafoe (as Jesus van Nasaret), Harvey Keitel (as Judas Iskariot), Barbara Hershey (as Maria Magdalena), David Bowie (as Pontius Pilatus) en Harry Dean Stanton (as Paulus). Die rolprent is in sy geheel in Marokko geskiet.

Net soos die roman behandel die rolprent die lewe van Jesus van Nasaret, en sy sentrale stelling is dat Jesus ten spyte van sy sondeloosheid tog onderhewig is aan enige versoeking wat deur mense ervaar word, waaronder vrees, twyfel, depressie, huiwering en sinlike lus. Sowel die boek asook die rolprent beeld Jesus uit as 'n man wat hom seksuele aktiwiteite verbeel - 'n openheid waarvoor sowel die boek asook die rolprent met internasionale toekennings soos die Grieks-Ortodokse Kerk se ekskommunikasie van Nikos Kazantzakis en 'n ban in die destydse apartheidstaat Suid-Afrika "bekroon" is. Die rolprent bevat egter 'n ontkenning wat duidelik maak dat hy van Jesus se tradisionele Bybelse uitbeelding afwyk en nie as 'n presiese weergawe van gebeurtenisse soos in die evangelies beskryf begryp mag word nie.

Agtergrond[wysig]

Die rolprent is in 1988 bewonder en tegelykertyd ook skerp gekritiseer net soos Mel Gibson se The Passion of Christ in 2004. Terwyl Gibson se werk egter veral weens sy anti-Semitiese sentiment en verheerliking van geweld aangeval is, het The Last Temptation of Christ vanweë sy omstrede profiel van Jesus van Nasaret woedende reaksies by fundamentalistiese Christene uitgelok: Jesus is die Romeine behulpsaam met kruisigings, begeer om seks met Maria Magdalena te hê (wat hier as 'n prostituut uitgebeeld word), smeek Judas om hom aan die Romeine oor te lewer en deurleef tydens sy kruisiging die versoeking en visioen van 'n gesinsvader wat met Maria Magdalena getrou is. Jesus word oorwegend as 'n swak mens vertoon wat met sy uitverkiesing as die seun van God sukkel en deur 'n proses van swaarkry en beproewing gaan. Uiteindelik oorwin hy die versoeking.

Filmmusiek[wysig]

Peter Gabriel het een jaar ná die uitreiking van die rolprent 'n musiekalbum onder die titel Passion: Music for the Last Temptation of Christ vrygestel wat op sy filmmusiek baseer. Vir die opname het hy met destyds onbekende kunstenaars uit Afrika en die Midde-Ooste saamgewerk (waaronder die Pakistaanse sanger Noesrat Fateh Ali Khan, Youssou N'Dour en Baaba Maal) en sodoende bygedra tot die groeiende gewildheid van wêreldmusiek.