Gaan na inhoud

Eisenhüttenstadt

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Eisenhüttenstadt

Kaart Wapen
Vlag
 Land Duitsland
 Deelstaat Brandenburg
 Koördinate 52°09′N 14°38′O / 52.150°N 14.633°O / 52.150; 14.633
 Stigting Julie/Augustus 1950
 Stadstatus -
 Oppervlakte:  
 - Totaal 63,47 vk km
 Hoogte bo seevlak 44 m
 Bevolking:  
 - Totaal (31 Desember 2018) 24 633
 - Bevolkingsdigtheid 388/vk km
 Tydsone UTC +1 (MET)
 - Somertyd UTC +2 (MEST)
 Klimaat  
 - Tipe Gematigde klimaat
 - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 10,0 °C
 - Gem. temp. Januarie/Julie 0,0 / 20,0 °C
 - Gemiddelde jaarlikse neerslag 610 mm
 Burgemeester Frank Balzer (SPD)
 Amptelike Webwerf eisenhuettenstadt.de

Eisenhüttenstadt [ʔaɪzn̩ˈhʏtn̩ʃtat] is 'n stedelike nedersetting in die Duitse deelstaat Brandenburg, geleë aan die wesoewer van die Oderrivier wat hier 'n natuurlike grens met Pole vorm, en 120 km suidoos van Berlyn. Dit is volgens 'n besluit van die IIIde Partyvergadering van die Sosialistiese Eenheidsparty van Duitsland in Julie 1950 as 'n nuut beplande stad vir die werkers van die eweneens nuutgestigte Eisenhüttenkombinat Ost (EKO), 'n geïntegreerde staalaanleg, gestig en ter ere van die destydse Sowjetleier Josef Stalin Stalinstadt genoem. In 1961 is die stadsnaam gewysig na Eisenhüttenstadt. Planne het voorsiening gemaak vir 'n bevolking van 30 000 in (aanvanklik) vier sogenaamde woonkomplekse (Wohnkomplexe).

Die nuut beplande stad en sy yster-en-staal-kombinat is ontwerp om in die destydse Duitse Demokratiese Republiek (DDR) se yster- en staalbehoeftes te voorsien nadat die land met die verdeling van Duitsland in twee state afgesny is van tradisionele swaar nywerhede in Noordryn-Wesfale. Die stad is om strategiese en veiligheidsredes so ver moontlik van die grens met Wes-Duitsland opgerig.

Stadsbeplanners het by die beplanning en bou van Stalinstadt drie faktore in ag geneem:

  • die ervarings van Sowjet-Russiese beplanners met nuut gestigte swaar nywerheidstede in die Sowjetunie wat, net soos Stalinstadt, in voorheen min of ongeïndustrialiseerde streke ontstaan het;
  • die «16 Beginsels van Stedebou» (16 Grundsätze des Städtebaus), wat gedurende die heropboufase ná die Tweede Wêreldoorlog vanaf 1950 vyf jaar lank op nuut gestigte nedersettings en stadsbeplanning in die DDR toegepas is en waarmee die ideaal van 'n «sosialistiese stad» verwesenlik sou word; en
  • die argitektoniese styl van «sosialistiese klassisisme».

Op 23 Augustus 1965 is vriendskapsbande met Crawley aangeknoop, 'n Engelse New Town of beplande stad wat vanaf 1947 buite Londen ontstaan het.[1][2] Britse stadsrade het gedurende die 1950's en 1960's in die algemeen min belang daarin gestel om betrekkinge met susterstede in die DDR te onderhou. Voor 1973 het westerse lande die sogenaamde Hallstein-doktrine gevolg wat deur Wes-Duitsland geformuleer is en waarvolgens Bonn die enigste amptelike verteenwoordiger van Duitsland kon wees. Nogtans was stadsrade vry om benede die diplomatieke vlak verhoudinge met DDR-stede te handhaaf. Die bande tussen Coventry en Dresden, wat die ervaring van verwoestende lugaanvalle gedurende die Tweede Wêreldoorlog gedeel het, was die vroegste en suksesvolste susterstadooreenkoms.

Met die stigting van die Duits-Britse Vereniging (Deutsch-Britische Gesellschaft, kort Debrig) in Junie 1963, waarin Oos-Duitsers met uitgebreide kennis aangaande die Engelse taal en Britse politiek en kultuur 'n leidende rol gespeel het, is 'n formele liggaam in die lewe geroep met die spesifieke doelwit om kontakte met Britse intellektueles, skrywers en vakbondlede te vestig, onder wie Hugh MacDiarmid (1892–1978), die Skotse digter, essayis, joernalis en politikus wat bekendheid verwerf het as stigter van die National Party of Scotland, die voorloper van die huidige Scottish National Party, maar ook kandidaat gestaan het vir die Verenigde Koninkryk se Kommunistiese Party.[3]

Van die handjievol susterstadbande, wat hieruit voortgespruit het, was dié tussen Crawley en Eisenhüttenstadt een van die aktiefstes. Tussen 1962 en 1968 het altesaam 46 westerse afvaardigings amptelike besoeke aan Eisenhüttenstadt gebring, waarvan drie uit Crawley, insluitende onderwysers wat belang gestel het in die Oos-Duitse onderwysstelsel en 'n jeuggroep wat meer te wete wou kom oor die lewensomstandighede van jong Duitsers agter die Ystergordyn.[4]

In 2014 het die Amerikaanse akteur Tom Hanks 'n besoek aan Eisenhüttenstadt gebring wat - met Engelssprekende toeriste as teikengroep - ook as Iron Hut City bemark word. Tom Hanks het nie net sy eie hemelblou DDR-motor Trabant gekoop nie (wat hy na die Verenigde State saamgeneem het om dit aan 'n motormuseum in Los Angeles te skenk), maar ook in die Amerikaanse televisie-aanbieder David Letterman se Late Night Show van sy besoek vertel - sy tweede nadat hy reeds in 2011 in 'n rolprent opgetree het wat hier geskiet is.[5][6]

Dokumentationszentrum Alltagskultur der DDR

[wysig | wysig bron]
'n Vroeëre crèche in Erich Weinert-Laan huisves die Dokumentationszentrum

Die museum Dokumentationszentrum Alltagskultur der DDR is in 1993 gestig om die materiële kultuur van die alledaagse lewe in die DDR te dokumenteer en beskikbaar te stel vir uitstallings, wetenskaplike navorsing en onderwys. Meer as 170 000 voorwerpe en dokumente, waaronder huisgereedskap, klere, meubels, verbruikerselektronika, media soos boeke en vinielplate, oorkondes en foto's, maak deel uit van die museum se versameling. 'n Vakbiblioteek maak publikasies uit die DDR asook meer onlangse literatuur toeganklik.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "Märkische Onlinezeitung (MOZ), 18 Oktober 2018: Besuch aus England - Wiedersehen nach 50 Jahren. Besoek op 10 November 2019". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 November 2019. Besoek op 10 November 2019.
  2. Stefan Berger and Norman LaPorte: Friendly Enemies: Britain and the GDR, 1949–1990. New York, NY: Berghahn Books 2010, bl. 115–116
  3. Berger/LaPorte (2010), bl. 115–116
  4. Crawley and Horley Observer, 7 November 2018: Memories of a rare trip behind the Iron Curtain. Besoek op 10 November 2019
  5. Der Tagesspiegel, 20 Mei 2014: Hoher Besuch in "Iron Hut City" – Tom Hanks wird zum Trabi-Liebhaber. Besoek op 10 November 2019
  6. Schweriner Volkszeitung, 12 Januarie 2012: Tom Hanks - Verliebt in Eisenhüttenstadt. Besoek op 10 November 2019

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Media

Musea