Groot Paleis van Bangkok
Die Groot Paleis (Thai: พระบรมมหาราชวัง, Phra Borom Maha Ratcha Wang[1]) is 'n gebouekompleks in die hartjie van Bangkok, Thailand. Die paleis is sedert 1782 die amptelike woning van die konings van Siam en later Thailand. Die koning, sy hof en sy regering was tot in 1925 in die paleis gestasioneer. Koning Bhumibol Adulyadej (Rama IX) het in die Dusit-paleis gewoon en sy opvolger, koning Maha Vajiralongkorn (Rama X), woon ook daar, maar die Groot Paleis word steeds gebruik vir amptelike geleenthede. Verskeie koninklike seremonies en staatsfunksies word elke jaar daar gehou. Die paleis is een van die gewildste toeriste-attraksies in Thailand.
Geskiedenis en uitleg
[wysig | wysig bron]Bouwerk aan die paleis het op 6 Mei 1782 begin op bevel van Rama I, die stigter van die Chakri-dinastie, toe hy die hoofstad van Thonburi na Bangkok geskuif het. Deur volgende konings se bewind is baie nuwe geboue en strukture bygevoeg, veral tydens die bewind van Rama V. Teen 1925 het die koning en sy gesin na ander wonings geskuif. Ná die afskaffing van die absolute monargie in 1932 het alle regeringsagentskappe uit die paleis geskuif.
Die paleis is rofweg reghoekig, word deur mure omring en is altesaam 218 400 m2 groot. Dit staan aan die oewers van die Chao Phrayarivier. Dit is nie 'n enkele struktuur nie, maar bestaan uit talle geboue, sale, pawiljoene, tuine en howe. Die asimmetriese en elektiese styl is danksy aanbouings en herbouings deur verskillende konings oor 'n tydperk van 200 jaar. Dit word in verskillende seksies verdeel: die Tempel van die Smarag Boeddha; die Buitehof, met baie openbare geboue; die Middelhof, insluitende die Phra Maha Monthien-, Phra Maha Prasat- en Chakri Maha Prasat-geboue; die Binnehof; en die Siwalai-tuin. Die Groot Paleis is deesdae gedeeltelik vir die publiek oop, maar dit bly 'n werkende paleis, met verskeie koninklike kantore.
Konings van die Chakri-dinastie | |
---|---|
Phra Buddha Yodfa Chulaloke (Rama I) | |
Phra Buddha Loetla Nabhalai (Rama II) | |
Nangklao (Rama III) | |
Mongkut (Rama IV) | |
Chulalongkorn (Rama V) | |
Vajiravudh (Rama VI) | |
Prajadhipok (Rama VII) | |
Ananda Mahidol (Rama VIII) | |
Bhumibol Adulyadej (Rama IX) | |
Maha Vajiralongkorn (Rama X) | |
Kaart van die Groot Paleis | ||
---|---|---|
|
|
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Royal Institute of Thailand. (2011). How to read and how to write. (20ste uitgawe). Bangkok: Royal Institute of Thailand. ISBN 978-974-349-384-3.
Skakels
[wysig | wysig bron]- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Groot Paleis van Bangkok.
- Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wikipedia vertaal.