Krimbrug

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jump to navigation Jump to search
[toggle view]

Die nuwe brug word deur die rooi lyn aangedui. Die bestaande roete van die veerboot is in blou.

Die Krimbrug[1] (Russies: Крымский мост, Krimski most, [ˈkrɨmskʲij most]) is twee parallelle brûe met lane vir motors en treine wat die Russiese Federasie oor die Kertsj-straat na die Krim gebou het. Dit strek tussen die Krim se Kertsj-skiereiland en die Taman-skiereiland in Rusland se Krasnodar-krai. Met 'n lengte van 18,1 km is dit die langste brug in Europa.[2]

Die kontrak vir die bou van die brug is in Januarie 2015 aan Arkadi Rotenberg se SGM-groep toegeken. Bouwerk het in Mei 2015 begin; die padbrug is op 15 Mei 2018 geopen en die die spoorbrug sal na verwagting vroeg in 2019 geopen word.[3]

Die brug het sy amptelike naam gekry ná ’n aanlyn stemming in Desember 2017, met "Kertsj-straatbrug" in die tweede plek.[4] Pres. Wladimir Poetin het die perseel op 14 Maart 2018, kort voor die Russiese presidentsverkiesing, besoek om die vordering te inspekteer van wat baie mense "Poetin se Brug" gedoop het.[5]

Die brug se bou is 'n omstrede saak, omdat dit die Russiese Federasie verbind met die Krim wat steeds deur Oekraïne opgeëis word nadat Rusland dit ingelyf het.

Geskiedenis[wysig | wysig bron]

Vroeë voorstelle[wysig | wysig bron]

Dele van die ou brug uit die Tweede Wêreldoorlog

In die 1870's is ’n spoorlyn van Engeland deur die Krim en oor die Kertsj-straat na Indië oorweeg, maar as te duur beskou. In 1903 het tsaar Nikolaaas II die idee van ’n brug oorweeg, maar daarvan afstand gedoen weens die Russies-Japannese Oorlog en kort daarna die Eerste Wêreldoorlog.[6]

In 1943, tydens die Tweede Wêreldoorlog, is die idee weer geopper[7] en later in die jaar is selfs op bevel van Hitler begin met bouwerk aan ’n brug vir voertuie en treine. Die Duitsers het egter voor die Sowjetmagte gevlug en die brug, waarvan ’n derde voltooi was, opgeblaas.[8]

’n Brug van 4,5 km is in die somer van 1944, ná die bevryding van die Krim deur die Rooi Leër, gebou met materiaal wat die Wehrmacht op die terrein agtergelaat het. Dit is egter binne maande deur vloeiende ys vernietig[9] weens die afwesigheid van waterkerings.

Sedert 1944 is verskeie projekte voorgestel en pogings aangewend om ’n pad oor die seestraat te bou.

Vanaf die middel 1960's is die Kertsj-hidro-eenheidprojek (Керченский гидроузел) hier ontwikkel. Dit was ’n stelsel van damme en brûe oor die seestraat. Die projek het nie die lig gesien nie weens die verbrokkeling van die USSR.[10][11]

Ná die Sowjettyd[wysig | wysig bron]

Pres. Poetin besoek die bouperseel in Maart 2016 (video)
Die onvoltooide Krimbrug soos uit die lug gesien (14 April 2018)

Die idee van ’n brug is weer opgehaal ná die verbrokkeling van die Sowjetunie, maar in 1994 kon die Russiese en Oekraïense kante nie tot ’n vergelyk kom nie.[12]

In 2010 het die Oekraïense president, Wiktor Janoekowitsj, en sy Russiese ampgenoot, Dmitri Medwedef, ’n ooreenkoms onderteken om ’n brug oor die Kertsj-seestraat te bou.[13][14] Laat in Januarie 2014 het die twee lande se regerings besluit ’n nuwe gesamentlike Russies-Oekraïense maatskappy sal die brug bou.[15]

Ná die anneksasie van die Krim deur Rusland in Maart 2014 te midde van die agteruitgang van betrekkinge tussen die twee lande, het Poetin aangekondig Rusland gaan ’n pad-en-spoorbrug oor die seestraat bou.[16][17][18] In April het die Oekraïense regering Rusland ses maande kennis gegee van sy onttrekking aan die destydse ooreenkoms tussen die lande.[19]

In Januarie 2015 is die kontrak vir die bou van ’n brug aan die SGM-groep toegeken. Volgens BBC News bou die groep, waarvan die hoof na bewering goeie vriende met Poetin is, eintlik pyplyne en het dit geen ondervinding van die bou van brûe nie.[20]

Ontwerp[wysig | wysig bron]

Volgens die Russiese regering se beskrywingspunt van 1 September 2014 moet die brug vier lane vir voertuie en twee vir treine hê.[21] Die vier voertuiglane loop parallel met die dubbele spoorlyn. Die hoofoorspanning oor die seestraat se skeepskanaal het ’n staalboogsteunstuk en is 227 meter breed, met ’n deurgangshoogte van 35 meter bo die water sodat skepe onderdeur kan vaar. Daar is drie dele: van die Taman-skiereiland tot die Toezla-skoorwal is 7 km; oor Toezla-eiland is 6,5 km; en van die eiland tot die Krim is 5,5 km (altesaam 19 km).[22]

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. (en) "Crimea Bridge: A Real Exclusive, and more to come!!". Thethruthspeaker.co. 28 Oktober 2017. Besoek op 13 Desember 2017. 
  2. (ru) "Рекорд России и Европы: как строили Крымский мост". NTV. Besoek op 16 Mei 2018. 
  3. (en) "Crimean bridge will open to car traffic in May, well ahead of schedule". RT International. 20 Maart 2018. Besoek op 10 April 2018. 
  4. (en) "'Crimean Bridge' Tops Online Vote To Name Kremlin's Mega-Project". The Moscow Times. Besoek op 19 Januarie 2018. 
  5. (en) "With Days to Go Until Election, Putin Visits Crimea". The Moscow Times. Besoek op 16 Maart 2018. 
  6. (ru) "Мост жизни. К предистории Керченского моста". thehimki.ru. Besoek op 13 Desember 2017. 
  7. (en) "Crimean Bridge Measures the Span of Putin's Ambitions", from bloomberg.com 20 April 2016
  8. (en) Inside the Third Reich deur Albert Speer, hoofstuk 19, bl. 270 (1969, Engelse vertaling, 1970)
  9. (en) Bologov, Petr (27 Februarie 2017). "The bridge-long dream". intersectionproject.eu. Besoek op 1 Julie 2017. 
  10. (ru) (1 Desember 1972) “Проект для моря”. Wokroeg sweta. Besoek op 19 Februarie 2016.
  11. (ru) (Januarie 1985) “На стыке двух морей (bl. 33-36)”. Technika Molodjozji. Besoek op 19 Februarie 2016.
  12. (ru) (8 April 1999) “Лужков присоединяет Крым к России”. Kommersant. Besoek op 25 April 2009.
  13. (en) Azarov creates group for bridging the Kerch Strait, Kyiv Post (9 Augustus 2010)
  14. (en) Russia, Ukraine to construct bridge across Kerch Strait, Kyiv Post (26 November 2010)
  15. (ru) «Автодор» приступает к подготовке проекта моста через Керченский пролив Читайте далее Wedomosti (14 Februarie 2014)
  16. (en) "Russia green lights road and rail bridge to Crimea". RT. 19 Maart 2014. Besoek op 22 Maart 2014. 
  17. (en) "Russia to Build Bridge to Crimea". RIA Novosti. 19 Maart 2014. Besoek op 22 Maart 2014. 
  18. (en) "Kerch Strait bridge to be built ahead of schedule — deputy minister". ITAR-TASS. 19 Maart 2014. Besoek op 22 Maart 2014. 
  19. (en) "Ukraine withdraws from Kerch Strait bridge project with Russia". ITAR-TASS. 1 Oktober 2014. Besoek op 1 Oktober 2014. 
  20. (en) "Ukraine conflict: Putin ally to build bridge to Crimea". BBC News. 30 Januarie 2015. Besoek op 30 Januarie 2015. 
  21. (en) "Russian Railways Head: Kerch Strait Bridge Can be Adapted for High-Speed Trains". Sputniknews.com. Besoek op 13 Desember 2017. 
  22. (en) "Russian bridge to Crimea going up at lightning speed (photo, video)". Rt.com. Besoek op 13 Desember 2017. 

Verdere leesstof[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]

Koördinate: 45°18′N 36°30′O / 45.300°N 36.500°O / 45.300; 36.500