Sophia Kapp

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek

Sophia Kapp is ’n bekroonde Afrikaanse skryfster van liefdesromans. Sy debuteer in 2007 met die eerste insetsel, “Die erflating”, van ’n trilogie wat handel oor drie susters. Kapp is ook sedert 2013 lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en is verder betrokke by die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) projek.

Lewe en werk[wysig | wysig bron]

Sophia Kapp is die oudste van drie kinders. Haar twee gestremde boeties is egter baie jonk oorlede. Haar pa, Matthys Kapp, is ’n prokureur en haar ma, Gertina, is ’n Afrikaans onderwyseres. Sy word groot in Durban en matrikuleer in 1982 aan die Dirkie Uys Hoërskool. Hierna studeer sy tot 1987 verder aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat in Bloemfontein. Vir geruime tyd is sy ’n dosent in Afrikaans aan die Noordwes Universiteit. Sy woon ook vir sewe jaar in Amerika en doen verskillende werke, van ’n barista tot ’n persoonlike assistent en ’n boekhouer in ’n bank. Na ’n aantal jare in Pretoria vestig sy haar as enkelouer saam met haar seun Jan Daniël in Kaapstad, waar sy taalpraktisyn by die Wes-Kaapse Onderwysdepartement is. Later word sy dosent in Vertaal- en Tolkstudie by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit. Sy trou dan weer en bedank haar werk by die universiteit om haar in Zwartkop in Centurion te vestig. Haar tweede huwelik eindig egter ook in ’n egskeiding. Sedert 2013 is sy lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Sy werk mee aan die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA), ’n projek van die Akademie, en skryf verder voltyds. [1]

Skryfwerk[wysig | wysig bron]

Die erflating” is die eerste boek in ’n trilogie oor drie susters en word in 2008 bekroon met ’n ATKVeertjie vir liefdesroman van die jaar. Hierdie verhaal speel in Kaapstad af, waar Adri Malan finansiële direkteur is van haar pa se maatskappy. Wanneer hy sterf, hoor sy dat hy die maatskappy aan ’n vreemdeling verkoop het, sodat sy onverwags in iemand anders se diens is in stede daarvan om haar eie baas te wees. In “’n Nuwe lente” is JC, Adri se suster, die hoofkarakter. Na die mislukking van ’n liefdesverhouding, begeef sy haar na ’n stranddorpie. Hier word sy gedwing om ’n strandhuis met die slonserige en ongeskikte Josua du Toit te deel. “Waar die hart is” vertel weer van Idalette, die rooikop stiefsuster met ’n temperament om by haar hare te pas. Haar loopbaan as model is verby, haar huwelik is op die rotse en Charl Nienaber, wat in beheer is van haar erflating, laat geen twyfel oor wat hy van haar vermoëns as enkelouer dink nie.

Die tuiskoms” is in 2009 op die kortlys vir die toekenning van die ATKV se prys vir liefdesromans en is eindelik naaswenner. Hierin word onder andere die tema van gesinsgeweld aangeroer. Liz Aucamp het Groblersdorp in die Klein-Karoo tien jaar gelede as banneling verlaat en daarna ’n onkoloog geword met ’n blink toekoms. Omstandighede dwing haar egter terug Groblersdorp toe. Hier moet sy haar staal vir die herontmoetings met Jans Gildenhuys, wat haar jong liefde versmaai het; met die prokureur Herk Louw wat haar bloot op grond van skinderstories veroordeel en verwerp het; en met die snobistiese Magdel Aucamp. Sy besef egter gaandeweg dat Groblersdorp haar vaardighede nodig het en dat sy hier ’n reuseverskil kan maak, as sy maar net ’n plek in Herk Louw se hart kan kry. In “Die ooreenkoms” is die sakeman Adam en die sangeres Petronel se wêrelde ver van mekaar verwyder, maar na ’n nag van passie sluit hulle ’n ooreenkoms.

Danielle se eerste jaar op universiteit is in “Die verhuising” nie wat sy gedink het dit gaan wees nie. Sy is op ’n kampus waar sy nie wil wees nie, op ’n dorp waarvan sy nie hou nie en deel ’n huis met ’n ma wat beheer oor haar eie lewe verloor. Elkeen dra sy eie kruis in hierdie huis. “Huis van die wind” wen in 2012 die ATKV-prys vir liefdesromans. Dit vertel van die liefdesverhouding tussen ’n  Afrikaanse vrou uit ’n gesiene familie en ’n Portugese kafeebaas se seun, wat verskeie struikelblokke sal moet oorkom as dit wil slaag. In “Driehoek” is die hoofkarakter Tessa reeds bekend as ’n newekarakter uit “Die verhuising”. Sy ontmoet die liefde van haar lewe, maar hy verskil in elke denkbare opsig van die man van haar drome. Hierdie roman word in 2014 bekroon met die ATKV prys vir liefdesromans.[1][2]

Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva” se hoofkarakter is Top of Form Simoné Bekker, wat deur haar tweede egskeiding gedwing word om saam met haar tienerseun terug te keer na  haar ma in Boekenhoutskloof, waar sy grootgeword het. Sy is terneergedruk omdat sy toegelaat het dat haar eiewaarde vertrap word en dat sy versuim het om op te tree in belang van haar kind. Hierdie keer besluit sy om haarself reg te ruk, sodat sy weer haar plek in die lewe kan volstaan en nooit weer toe te laat dat iemand oor haar stoomroller nie. Die pad is moeilik, maar met die hulp van haar ma Magdaleen, haar seun en veral Barnard Richter, oorleef sy tog en kan sy ’n gids daaroor skryf.[3][4]

Publikasies[wysig | wysig bron]

  • 2007  Die erflating en ’n Nuwe lente
  • 2008  Waar die hart is en Die tuiskoms
  • 2009  Die ooreenkoms
  • 2010  Die verhuising
  • 2011  Huis van die wind
  • 2013  Driehoek
  • 2015  Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva

Verwysings[wysig | wysig bron]

Tydskrifte en koerante[wysig | wysig bron]

  • Anoniem “Elke dag maak saak” “Rooi Rose” Januarie 2008
  • Roux, Jaybee “Drie liefdesverhale verskaf goeie vermaak” “Plus” 16 September 2008
  • Roux, J.B. “Elke nuwe storie is anders” “Beeld” 6 Februarie 2013
  • Salzwedel, Ilse “Romanse: Dis haar genre en basta!” “My tyd Rapport” 13 Desember 2009

Ander verwysings[wysig | wysig bron]